1Moses het sy skoonpa Jetro se skape en bokke opgepas. Sy skoonpa was die priester van Midian. Eendag het Moses die skape en bokke diep in die woestyn in geneem. Hy het by Sinai-berg gekom, die berg van God. 2Daar was 'n vuur in 'n doringbos. Die Engel van die Here was in die vuur en Hy het aan Moses verskyn. Moses het gesien die doringbos brand en dit hou nie op om te brand nie. 3Moses het gedink: Hier gebeur iets wat ek nog nooit gesien het nie. Ek wil nader gaan en gaan kyk hoekom die bos aanhou brand.
4Toe die Here sien Moses kom nader om te kyk, het Hy uit die doringbos vir Moses geroep: “Moses! Moses!”
En Moses het gesê: “Hier is ek!”
5Die Here sê toe: “Moenie nader kom nie. Trek jou sandale uit, want die plek waar jy staan, is gewyde grond. 6Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.”
Moses het sy gesig toegemaak, want hy was bang om na God te kyk. 7Toe sê die Here: “Ek het gesien my volk kry baie swaar in Egipte. Ek het gehoor hulle roep en vra dat Ek hulle moet help teen die mense wat hulle soos slawe laat werk. Ek is baie jammer vir hulle. 8Ek wil hulle gaan help teen die Egiptenaars. Ek wil hulle uit hierdie land laat uitgaan na 'n goeie en groot land, 'n land waar daar baie melk en heuning is. Dit is die land waar die Kanaäniete nou woon, en ook die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete. 9Ek het gehoor hoe die Israeliete bid en vir My vra om hulle te help. Ek het gesien dat die Egiptenaars slegte dinge aan hulle doen. 10Ek wil jou na die farao toe stuur om my volk, die Israeliete, uit Egipte te bring.”
11Moses het vir God gesê: “Ek is nie 'n belangrike man nie. Ek kan nie na die farao toe gaan en die Israeliete uit Egipte bring nie.”
12Maar God het gesê: “Ek sal by jou wees en Ek sal vir jou 'n teken gee om te bewys dat Ek jou gestuur het: Wanneer jy die volk uit Egipte gebring het, dan sal julle My op hierdie berg kom dien.”
13Toe sê Moses vir God: “Ek sal by die Israeliete kom en ek sal vir hulle sê: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur.’ Maar hulle sal vir my vra: ‘Wat is sy Naam?’ Wat moet ek dan vir hulle sê?”
14Toe sê God vir Moses: “My Naam is: ‘Ek is wat Ek is.’ Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek Is’ het my na julle toe gestuur.”
15God het ook vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Die Here het my na julle toe gestuur. Hy is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’ My Naam sal altyd ‘die Here’ wees. Hulle moet My altyd so noem, ook die mense wat later gebore sal word. 16Gaan maak die leiers van Israel bymekaar en sê vir hulle die Here, die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan jou verskyn en gesê: ‘Ek weet van julle, Ek sien wat die Egiptenaars aan julle doen. 17Ek het besluit Ek wil julle wegvat uit Egipte. Julle kry daar baie swaar. Ek wil julle laat gaan na die land van die Kanaäniete en die Hetiete en die Amoriete en die Feresiete en die Hewiete en die Jebusiete, dit is 'n land waar daar baie melk en heuning is. 18Die leiers sal na jou luister, en dan moet jy en die leiers van die Israeliete na die koning van Egipte toe gaan en vir hom sê: “Die Here, die God van die Hebreërs, het met ons gepraat. Laat ons asseblief in die woestyn ingaan, so ver soos 'n mens in drie dae kan loop. Ons wil daar vir ons God die Here offers bring.” 19Ek weet die koning van Egipte sal julle nie laat gaan nie. Hy sal dit ook nie doen as Ek hom straf nie. 20Dan sal Ek hom nog swaarder straf en Ek sal wonderwerke doen wat die Egiptenaars baie swaar sal laat kry. Daarna sal die koning julle laat gaan. 21Ek sal dan die Egiptenaars vriendelik maak teenoor julle, sodat julle iets sal hê om saam te neem wanneer julle weggaan. 22Elke Israelitiese vrou moet silwergoed, goue goed en klere vra vir haar Egiptiese buurvrou of vir die mense wat by haar woon. Julle moet dit vir julle seuns en dogters gee om te dra. So moet julle die Egiptenaars se goed wegdra.’ ”