Die lied oor die Riet-see
1Daarna het Moses en die Israeliete hierdie lied vir die Here gesing. Hulle het gesê:
“Ek wil sing vir die Here,
want Hy is die Groot God.
Hy het die perde
en die manne wat op hulle ry,
in die see gegooi.
2Ek kry my krag by die Here,
Hy maak my sterk.
Hy het my gered.
Hy is my God,
en ek sal Hom prys.
Hy is die God
van my voorvaders,
en ek sal Hom eer.
3Die Here kan oorlog maak,
sy Naam is die Here.
4Hy het die farao
se oorlogkarre
en sy soldate
in die see gegooi,
die farao se beste soldate
het in die Riet-see verdrink.
5Die water het hulle toegemaak,
hulle het diep ondertoe afgesak
en gesink soos klippe.
6Here, u regter-hand is baie sterk,
u regter-hand, Here,
slaan die vyand dood.
7Ja, U is die Groot God,
U trap almal plat wat teen
U oorlog wil maak.
As U kwaad is,
dan brand U hulle weg
soos droë gras.
8Die asem wat uit u neus kom,
is soos 'n sterk wind.
Dit het die water gekeer,
en die water het hoog gestaan
soos 'n muur,
die diep water
in die middel van die see
het stil geword.
9Die vyande het gesê:
‘Ons sal die Israeliete volg
en jaag en ons
sal hulle vang.
Ons sal hulle goed vat
en ons sal dit
tussen ons verdeel.
Ons sal alles kry wat ons wil hê.
Ons sal ons swaarde uithaal
en ons sal hulle doodmaak.’
10Maar U het u wind laat waai,
en die see het hulle
toegemaak.
Hulle het soos lood
in die diep water gesink.
11Here, wie is soos U?
Nie een van die gode nie.
Wie kan doen wat U kan doen?
Wie is so heilig soos U?
Niemand nie.
Almal eer U en sing
van die wonderlike dinge
wat U doen.
12U het u regter-hand
uitgesteek, en die aarde
het u vyande ingesluk.
13U het gedoen
wat U belowe het,
U het u volk verlos
en gelei.
U het met u krag u volk gebring
na u gewyde woonplek.
14Die ander volke
het daarvan gehoor
en hulle het gebewe.
Die mense van Filistyne-land
het baie bang geword.
15Die leiers van die Edomiete
het geskrik,
die konings van Moab
was baie bang.
Die mense van Kanaän
het groot geskrik.
16Hulle het geskrik
en hulle was baie bang.
Hulle het stil gaan staan
soos 'n dooie klip toe hulle
hoor hoe sterk U is.
Here, in daardie tyd het ons,
die volk wat aan u behoort,
hier deur die water gegaan.
17U het ons gebring
en U het ons laat woon
op die berg wat aan U
behoort.
Dit is die plek wat U
reggemaak het
vir u troon,
u gewyde plek wat U self
reggemaak het met u hande.
18Die Here sal koning wees
vir altyd en altyd!”
19Ja, toe die farao se perde en oorlogkarre en die manne daarop in die see ingegaan het, het die Here die see se water laat terugkom oor hulle, maar die Israeliete het op die grond deur die see gegaan.
20Moses se suster, Mirjam, was 'n profeet. Sy het 'n tamboeryn in haar hand geneem. Al die vroue het ook tamboeryne geneem en hulle het haar gevolg. Hulle het gedans. 21Mirjam het vir hulle gesê: “Sing vir die Here, want Hy is die Groot God. Hy het die perde en die manne wat op hulle ry, in die see gegooi.”
Mara
22Moses en die Israeliete het weggegaan van die Riet-see. Hulle het in die Sur-woestyn gekom. Hulle het drie dae lank geloop, verder in die woestyn in, en hulle het nie water gekry nie. 23Toe kom hulle by die plek Mara, maar hulle kon nie die water daar drink nie, want dit was bitter. Dit is hoekom hulle die plek Mara genoem het. 24Die Israeliete kom toe na Moses toe en vra vir hom: “Wat moet ons drink?”
25Moses het tot die Here gebid en gevra dat Hy hulle moet help. Die Here het vir hom 'n stuk hout gewys. Moses het dit op die water gegooi, en die water het soet geword. Die Here wou kyk of die Israeliete gehoorsaam sal bly aan Hom. Hy het vir hulle wette gegee 26en gesê: “Julle moet goed luister na wat Ek sê. Ek is julle God die Here. Julle moet doen wat Ek wil hê. Julle moet gehoorsaam wees aan my wette. Dan sal Ek julle nie siek maak soos Ek die Egiptenaars siek gemaak het nie, want Ek is die Here wat julle gesond maak.”
Elim
27Die Israeliete het toe by Elim gekom. Daar was 12 fonteine en 70 palmbome. Hulle het daar by die water hulle tente opgeslaan.