Koning Nebukadnesar se droom oor die beeld
1Koning Nebukadnesar het gedroom. Dit was in die tweede jaar nadat hy koning geword het. Hy het bekommerd geword. Hy kon nie weer slaap nie. 2Die koning het toe al die slim mense laat roep sodat hulle vir hom kon sê wat hy gedroom het. Hulle het gekom en hulle het voor die koning gaan staan. 3Die koning het vir hulle gesê: “Ek het gedroom en ek is bekommerd oor wat ek gedroom het. Ek wil weet wat die droom beteken.”
4Die slim mense het toe in die Aramese taal gepraat en vir die koning gesê: “Ons hoop die koning sal lank lewe. Sê vir ons wat jy gedroom het, dan sal ons vir jou sê wat dit beteken.”
5Maar die koning het vir die slim mense gesê: “Nee, ek het besluit júlle moet vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken. As julle dit nie doen nie, dan sal my manne julle doodmaak en in stukke kap en julle huise afbreek. 6Maar as julle vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken, dan sal ek vir julle baie presente gee, en julle sal baie belangrike mense word. Daarom, sê nou vir my wat ek gedroom het en wat dit beteken.”
7Die slim mense het weer gesê: “Koning, jy moet eers vir ons sê wat jy gedroom het, dan sal ons sê wat dit beteken.”
8Toe sê die koning vir hulle: “Ek weet julle wil eers dink wat julle moet doen. Julle weet ek het klaar besluit 9wat ek met julle sal doen as julle nie vir my kan sê wat ek gedroom het nie. Julle wil eers saam besluit om vir my iets te vertel wat nie waar is nie. Julle hoop daar gebeur iets wat julle sal help. Daarom, sê nou vir my wat ek gedroom het, dan sal ek weet julle kan ook vir my sê wat dit beteken.”
10Die slim mense het vir die koning gesê: “Niemand op die aarde kan doen wat die koning wil hê nie. Daar is nie een ander belangrike koning wat so iets vir 'n slim mens gevra het nie. 11Die koning wil hê ons moet iets doen wat ons nie kan doen nie. Niemand anders kan dit doen nie. Net die gode kan dit doen, en hulle woon nie hier by die mense nie.”
12Die koning word toe baie kwaad, en hy sê sy soldate moet al die wyse mense in Babel doodmaak. 13Toe die koning sê hulle moet die wyse mense doodmaak, het die soldate vir Daniël en sy vriende ook gesoek om hulle dood te maak.
14Arjok was die hoof van die soldate wat die koning moes oppas, en die koning het gesê hy moet die wyse mense van Babel doodmaak. Arjok het gegaan om dit te doen, maar toe het Daniël met hom gaan praat. Daniël was slim om met Arjok te gaan praat. 15Hy het vir Arjok gevra: “Hoekom is die koning so kwaad? Hoekom het hy besluit om ons dood te maak?”
Arjok het vir Daniël vertel wat gebeur het. 16Daniël het na die koning toe gegaan en gevra die koning moet 'n bietjie wag, dan sal hy vir die koning sê wat die droom beteken.
17Daniël het huis toe gegaan en vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel wat gebeur het. 18Hy het gebid die God van die hemel moet vir hulle goed wees en vir hom sê wat die koning gedroom het. Dan sal die koning se manne nie vir Daniël en sy vriende doodmaak saam met die ander wyse mense van Babel nie. 19Die God van die hemel het daardie nag vir Daniël gewys wat die koning gedroom het. Daniël het God geprys. 20Hy het gesê:
“Die mense moet die Naam
van God altyd prys,
want Hy weet alles
en Hy is baie sterk.
21Hy laat jare en maande verbygaan
en Hy sê wat moet gebeur.
Hy vat konings weg,
Hy kies nuwe konings
en stel hulle aan.
God gee wysheid en kennis
vir wyse en verstandige mense.
22Hy help mense om moeilike dinge
te verstaan.
Hy weet wat in die donker is,
want by Hom is lig.
23Ek prys U,
God van my voorvaders,
want U het vir my wysheid gegee
en U het my sterk gemaak.
U het vir my gesê
wat ek vir U gevra het.
U het vir ons gesê
wat die koning gedroom het.”
24Daarna het Daniël na Arjok toe gegaan. Arjok moes die wyse mense van Babel doodmaak. Daniël het vir Arjok gesê: “Jy moenie die wyse mense van Babel doodmaak nie. Vat my na die koning toe, dan sal ek vir hom sê wat sy droom beteken.”
25Arjok het gou vir Daniël na die koning toe gebring en vir die koning gesê: “Ek het 'n man gekry wat vir jou kan sê wat die droom beteken. Dit is een van die gevangenes wat uit Juda gekom het.”
26Die koning het vir Daniël gevra: “Kan jy vir my sê wat ek gedroom het en wat die droom beteken?”
Daniël se ander naam was Beltsassar. 27Daniël het vir die koning gesê: “Koning, die wyse mense, al die slim mense, kan nie vir jou sê wat jy wil weet nie. 28Maar in die hemel is daar 'n God wat kan sê wat mense nie weet nie. Hy het vir jou, koning Nebukadnesar, gewys wat later sal gebeur. Ek sal nou vir jou vertel wat jy gedroom en gesien het toe jy geslaap het:
29“Jy, Koning, het op jou bed gelê en gedink wat later sal gebeur, en die God wat kan sê wat mense nie weet nie, het vir jou gewys wat sal gebeur. 30Ek weet nie meer as ander mense nie, maar God het vir my gesê wat die ander mense nie weet nie. Hy wil hê jy moet weet wat die droom beteken. Jy moet die dinge verstaan waaroor jy gedink het.
31“Koning, jy het iets gesien. Dit was 'n groot beeld wat voor jou gestaan het. Die beeld was groot en dit het geblink. Jy het geskrik toe jy die beeld sien. 32Die beeld se kop was van skoon goud, sy bors en sy arms was van silwer, sy maag en sy heupe was van brons, 33sy bene was van yster, en sy voete was van yster en van klei. 34Jy het gekyk, en toe kom daar 'n klip en dit val op die beeld se voete, op die yster en klei. Die klip het die beeld se voete stukkend geval. Dit was nie 'n mens wat die klip gegooi het nie. 35Die klip het alles fyngebreek, die yster, die klei, die brons, die silwer en die goud.
“Dit het fyn geword soos die kaf van koring op die dorsvloer in die somer. Die wind het die fyn stukkies van die beeld weggewaai, en niemand het dit weer gesien nie. Maar die klip wat die beeld stukkend geval het, het 'n baie groot klip geword. Dit het die hele aarde toegemaak. 36Koning, dit is wat jy gedroom het, en ons sal nou vir jou sê wat die droom beteken.
37“Koning, jy is die kop van goud. Jy is 'n koning van ander konings. Die God van die hemel het vir jou koning gemaak en jy het baie sterk en belangrik geword. 38Hy het gesê jy kan regeer oor die mense, die diere en die voëls op die hele aarde. 39Ná jou sal daar ander konings kom wat nie so belangrik soos jy sal wees nie. Hulle is soos die silwer. Dan sal daar nog ander konings kom wat oor die hele aarde sal regeer. Hulle is soos die brons. 40Die konings wat daarna sal kom, sal so hard soos yster wees, want yster maak alles stukkend en fyn. 41Jy het voete en tone gesien van klei en yster. Dit beteken daardie konings sal regeer oor mense wat nie met mekaar saamwerk nie, 42hulle sal partymaal sterk wees en partymaal swak. 43Jy het gesien die yster en klei is bymekaar. Dit beteken die mense van een volk sal met mense van 'n ander volk trou, maar hulle sal nie een volk word nie, want 'n mens kan nie yster en klei meng nie.
44“In die tyd wanneer daardie konings sal regeer, sal die God van die hemel self kom en Hy sal koning wees. Hy sal altyd regeer, en niemand sal ná Hom regeer nie. Hy sal al die konings oorwin, en hulle sal nie meer regeer nie. Hy self sal altyd regeer. 45Jy het ook gesien daar breek 'n stuk klip af van 'n groot klip en dit breek die yster en maak dit fyn. Jy het gesien die klip breek ook die brons, die klei, die silwer en die goud, en dit was nie 'n mens wat die klip afgebreek het nie. Koning, die Groot God wys nou vir jou wat later sal gebeur. Dit is wat jy gedroom het, en dit is wat die droom beteken, en dit is waar.”
46Toe het koning Nebukadnesar voor Daniël gebuig soos 'n mens voor 'n god buig. Die koning het gesê hulle moet vir Daniël 'n koring-offer en wierook-offers bring. 47Die koning het vir Daniël gesê: “Regtig, jou God is sterker as al die gode en al die konings. Hy het vir jou dinge gesê wat niemand anders weet nie, en daarom kon jy vir my sê wat ek gedroom het.”
48Die koning het toe vir Daniël 'n baie belangrike man gemaak en hy het vir Daniël baie presente gegee. Hy het gesê Daniël moet oor die hele land Babel regeer en hy moet die hoof wees van al die wyse mense in Babel. 49Daniël het gevra die koning moet vir Sadrag, Mesag en Abed-Nego kies om te help regeer oor Babel. Die koning het dit gedoen. Daniël het by die koning gebly.