2 Samuel 6
Dawid bring die verbondskis in die Dawidstad
1Dawid het gesê al die belangrike manne in die land Israel moet bymekaarkom. 2Hy en al die manne het gereedgemaak en hulle het na die stad Baäl in Juda gegaan om die verbondskis daar te gaan haal. Dit is die kis van God, die kis wat sy Naam het, die Naam van die Here wat oor alles regeer. Sy troon is bokant die gerubs. 3Hulle het die kis van God uit die huis van Abinadab op die heuwel geneem en hulle het dit op 'n nuwe wa gesit. Ussa en Agjo, die seuns van Abinadab, het die beeste gedryf wat die wa getrek het. 4Agjo het voor die kis geloop. 5Dawid en al die leiers van Israel het voor die verbondskis gespeel op musiek-instrumente van sipreshout, op liere en harpe en ratels en simbale. 6Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, het die beeste amper geval en Ussa het sy hand uitgesteek om die kis van God vas te hou. 7Dit was 'n fout. Die Here het kwaad geword vir Ussa en Hy het vir Ussa daaroor gestraf. Ussa het daar by die kis van God gesterf. 8Dawid was baie geskok en ontsteld omdat die Here vir Ussa laat sterf het. Dawid het daardie plek genoem “Peres-Ussa,” en dit is vandag nog die plek se naam. 9Dawid het daardie dag baie bang geword vir die Here. Dawid het gesê: “Ek kan nie die kis van die Here na my toe laat kom nie.”
10Daarom het Dawid nie die kis na hom toe laat kom in die Dawidstad nie. Hy het gesê hulle moet die kis bring na die huis van Obed-Edom. Obed-Edom het van die stad Gat gekom. 11Die kis van die Here het drie maande lank in die huis van Obed-Edom gebly. Die Here het die huisgesin van Obed-Edom geseën en ook alles wat aan hom behoort. 12Koning Dawid het gehoor dat die Here dit goed laat gaan met die huisgesin van Obed-Edom en met alles wat hy het, omdat die kis van God by hom is. Dawid het toe gegaan en hy het die kis van God uit die huis van Obed-Edom geneem en hy het dit na die Dawidstad gebring. Dawid was baie bly. 13Die manne wat die kis gedra het, het ses tree geloop, en daarna het Dawid 'n bul en 'n vet jong bees ge-offer. Hy het dit elke maal gedoen wanneer hulle ses tree geloop het. 14Dawid het wild gedans voor die Here. Hy het 'n linne-skouer-kleed aangehad. 15Dawid en al die leiers van Israel het die kis van God gebring. Hulle het geskree en hulle het ramshorings geblaas. 16Toe die kis van die Here in die Dawidstad kom, het Mikal dogter van Saul by die venster uitgekyk en sy het gesien hoe spring en dans koning Dawid voor die Here. Sy het Dawid nie meer gerespekteer nie.
17Dawid het 'n tent laat opslaan vir die kis van die Here. Hulle het toe die kis gebring en hulle het dit neergesit op sy plek in die tent. Dawid het brand-offers en ete-offers vir die Here gebring. 18Daarna het hy die Naam van die Here wat oor alles regeer, genoem en hy het die mense gegroet. 19Hy het 'n broodjie en 'n koek dadels en 'n koek rosyne vir elke vrou en elke man gegee. Hy het dit vir al die mense gegee, vir al die baie mense van Israel. Hulle het toe almal huis toe gegaan. 20Toe Dawid teruggaan om sy huisgesin te groet, het Mikal dogter van Saul na hom toe gekom en gesê: “Die koning van Israel het vandag 'n slegte ding gedoen. Jy het soos 'n dwaas amper kaal voor jou amptenare se slavinne gedans.”
21Dawid het vir Mikal gesê: “Ek het gedans voor die Here wat my gekies en aangestel het om koning te wees oor sy volk Israel. Hy het nie jou pa en sy hele nageslag gekies nie. 22Ek sal my nog meer verneder en ek sal wys hoe onbelangrik ek is. Jy praat van hierdie slavinne, maar hulle sal aanhou om my te respekteer.”
23Mikal dogter van Saul het nooit 'n baba gekry nie, totdat sy gesterf het.
Bybel vir dowes/almal © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007, 2008. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2012. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.