Siba bring donkies en kos vir Dawid
1Dawid was nie ver oor die top van die berg nie, toe kom Siba daar na hom toe. Siba het vir Mefiboset gewerk. Siba het twee donkies by hom gehad. Op die saals van die donkies was daar 200 brode, 100 koeke rosyne, 100 koeke gedroogde vye en 'n velsak vol wyn. 2Die koning het vir Siba gevra: “Vir wie bring jy hierdie goed?”
Siba het gesê: “Die donkies is vir die huisgesin van die koning, hulle moet op die donkies ry, die brood en vrugte is vir die manne om te eet, die wyn is vir iemand wat miskien moeg word in die woestyn.”
3Toe die koning vir Siba vra waar sy meneer is, sê Siba: “My meneer? Nee, hy is in Jerusalem. Hy dink die leiers van Israel sal hom vandag koning maak, soos sy oupa Saul was.”
4Die koning het toe vir Siba gesê: “Alles wat aan Mefiboset behoort het, is nou joune.”
Siba het geantwoord: “Meneer die koning, ek buig voor jou. Ek hoop jy sal tevrede wees met my.”
Simeï vervloek vir Dawid
5Toe koning Dawid by die stad Bagurim kom, het iemand van die familie van Saul uit die stad gekom. Dit was Simeï seun van Gera. Terwyl hy aankom, het Simeï aangehou om vir Dawid te vervloek. 6Hy het vir Dawid met klippe gegooi, en ook al die amptenare van koning Dawid en al die mense en al die manne wat langs die koning geloop het. 7Toe Simeï vir Dawid vervloek het, het hy gesê: “Gaan weg! Gaan weg! Jy is 'n moordenaar en 'n skurk! 8Die Here straf jou nou omdat jy Saul se familie almal vermoor het toe jy koning geword het ná hom. Nou het die Here jou seun Absalom laat koning word ná jou. Hy het dit gedoen omdat jy 'n moordenaar is.”
9Abisai seun van Seruja sê toe vir die koning: “Hoekom vervloek hierdie man vir Meneer die koning? Hy beteken niks, hy is soos 'n dooie hond. Mag ek sy kop gaan afkap?”
10Maar die koning het gesê: “Seuns van Seruja, ek en julle kan niks doen wanneer hy my vervloek nie. Dit is die Here wat vir hom gesê het hy moet vir Dawid vervloek. Niemand kan nou vir hom vra hoekom hy dit doen nie.”
11Dawid het vir Abisai en al die amptenare gesê: “Onthou, my eie seun wil hê ek moet sterf, daarom moet julle nou hierdie man van die Benjamin-stam los. Hy vervloek my omdat die Here gesê het hy moet dit doen. 12Die Here sien hoe swaar ek kry, miskien sal Hy dit weer goed laat gaan met my nadat die man my vandag vervloek het.”
13Dawid en sy manne het verder gegaan. Simeï het teen die kant van die berg langs die pad geloop en hy het aangehou om vir Dawid te vervloek en om klippe en stof na hulle te gooi. 14Die koning en al die mense by hom was baie moeg toe hulle by die Jordaan-rivier aankom, en Dawid het daar 'n bietjie gerus.
Dawid se vriend Gusai by Absalom
15Toe Absalom en al die manne van Israel in Jerusalem aankom, was Agitofel by hom. 16Dawid se vriend Gusai, van die stad Erek, het na Absalom toe gekom en hy het vir hom gesê: “Ek bid dat die koning lank sal lewe! Ek bid dat die koning lank sal lewe!”
17Absalom het vir Gusai gevra: “Is dit wat jy vir jou vriend Dawid doen? Hoekom het jy nie saam met jou vriend gegaan nie?”
18Toe sê Gusai vir Absalom: “Nee, ek behoort aan jou. Die Here en hierdie mense en al die manne van Israel het vir jóú gekies, en ek wil by jou bly. 19En ook, vir wie sal ek werk? Ek wil vir my vriend se seun werk. Ek het vir jou pa gewerk, en nou wil ek ook so vir jou werk.”
20Absalom het toe vir Agitofel gesê: “Kom, julle moet vir my sê wat ons moet doen.”
21Toe sê Agitofel: “Jou pa het byvroue hier laat bly om die paleis op te pas. Jy moet na hulle toe gaan en jy moet seks hê met hulle. Wanneer al die Israeliete hoor dat jy jou pa verneder het, dan sal almal wat saam met jou is, nie bang wees nie, hulle sal doen wat hulle moet doen.”
22Hulle het vir Absalom 'n tent opgeslaan op die paleis se dak, en al die Israeliete kon sien dat hy gaan slaap by sy pa se byvroue. 23In daardie tyd het mense gedink dit is God wat vir Agitofel sê wat hy vir die koning moet sê. Dit was so in die tyd toe Dawid koning was en in die tyd toe Absalom koning was.