Saul sal nie meer koning wees nie
1Samuel het vir koning Saul gesê: “Die Here het my gestuur om jou te salf sodat jy koning kan wees oor sy volk Israel. Nou moet jy luister na wat die Here sê. 2Die Here wat oor alles regeer, sê: Ek het gesien wat die Amalekiete aan die Israeliete gedoen het. Hulle het die Israeliete aangeval toe die Israeliete uit Egipte gekom het. 3Nou moet jy die Amalekiete gaan aanval en oorwin, en jy moet alles doodmaak wat hulle het. Jy moenie jammer wees vir hulle nie, jy moet almal doodmaak: mans en vroue, kinders en babas, beeste, skape, kamele en donkies.”
4Saul het toe die manne laat roep en hy het hulle laat bymekaarkom in Telaim. Daar was 200 000 manne van Israel en 10 000 manne van Juda. 5Saul het gekom tot by die stad van die Amalekiete. Hy en die manne het in die vallei weggekruip en hulle het vir die Amalekiete gewag. 6Saul het vir die Keniete 'n boodskap gestuur. Hy het gesê: “Julle moet weggaan van die Amalekiete, julle moenie by hulle bly nie. Dan sal ons julle nie doodmaak saam met die Amalekiete nie, want julle het goed gedoen aan die Israeliete toe hulle uit Egipte gekom het.”
Die Keniete het toe weggegaan van die Amalekiete, 7en Saul het die Amalekiete aangeval. Hy het hulle oorwin, van die land Gawila tot by Sur, oos van Egipte. 8Hy het Agag, die koning van die Amalekiete, lewendig gevang maar hy het al die ander Amalekiete doodgemaak. 9Saul en die manne het Agag laat lewe, en ook die beste en vetste skape, bokke en beeste. Hulle wou nie al die goeie diere doodmaak nie. Hulle het al die maer en swak diere doodgemaak. 10Die Here het vir Samuel gesê: 11“Ek is jammer dat Ek vir Saul koning gemaak het, want hy was ontrou, hy het nie gedoen wat Ek gesê het nie.”
Samuel was baie bekommerd en ontsteld. Hy het die hele nag tot die Here gebid en gevra dat die Here hom moet help. 12Hy het vroeg die oggend opgestaan om Saul te gaan ontmoet. Iemand het vir Samuel gesê: “Saul het na Karmel-berg gekom, en weet jy wat het hy gedoen? Hy het vir homself 'n gedenkteken ingeplant. Daarna het hy verder gegaan na die stad Gilgal.”
13Samuel het na Saul toe gegaan, en Saul het vir hom gesê: “Ek bid dat die Here dit goed sal laat gaan met jou. Ek het gedoen wat die Here gesê het.”
14Toe sê Samuel: “Maar hoekom hoor ek skape en bokke blêr en beeste bulk?”
15Saul het gesê: “Die manne het die diere van die Amalekiete gevat. Hulle het die beste skape en bokke en beeste laat lewe om dit te offer vir jou God die Here. Hulle het al die ander diere doodgemaak.”
16Samuel sê toe vir Saul: “Bly stil. Ek sal vir jou sê wat die Here gisteraand vir my gesê het.”
Saul het gesê: “Goed, ek luister.”
17Toe sê Samuel: “Jy het gesê jy is nie 'n belangrike man nie, maar jy is nou die hoof van die stamme van Israel. Die Here het jou gesalf en Hy het jou koning oor Israel gemaak. 18Die Here het jou gestuur en Hy het gesê jy moet die sondaars, die Amalekiete, gaan doodmaak, jy moet teen hulle gaan oorlog maak totdat jy hulle almal doodgemaak het. 19Hoekom het jy nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie? En hoekom het jy so vinnig hulle goed gaan vat en iets gaan doen waarvan die Here nie hou nie?”
20Saul het vir Samuel gesê: “Maar ek hét gedoen wat die Here gesê het, ek hét gegaan toe Hy my gestuur het. Ek het vir Agag, die koning van die Amalekiete, hiernatoe gebring, maar ek het al die Amalekiete doodgemaak. 21En die manne het van die skape en bokke en beeste gevat om hulle vir jou God die Here hier in Gilgal te offer. Dit is die beste van die diere wat gewy was en wat hulle moes doodmaak.”
22Samuel het gesê:
“Wat dink jy is vir die Here
die belangrikste:
Dat jy brand-offers vir Hom
moet bring,
of dat jy doen wat Hy vir jou sê?
Jy moet dit weet:
Dit is beter om gehoorsaam
te wees as om te offer,
dit is beter om te luister
na Hom as om die vet
van ramme te offer.
23Want iemand wat opstandig is,
doen ook sonde
soos waarsêers sonde doen.
En iemand wat ongehoorsaam is,
doen ook sonde soos mense
wat afgodsbeeldjies het.”
“Jy het nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie, daarom het Hy besluit dat jy nie meer koning sal wees nie.”
24Saul het vir Samuel gesê: “Ek het sonde gedoen, ek het nie gedoen wat die Here en jy vir my gesê het nie. Ek was bang vir die manne en ek het gedoen wat hulle gevra het. 25Maar nou vra ek: Jy moet asseblief my sonde vergewe en saam met my teruggaan, sodat ek tot die Here kan bid.”
26Maar Samuel het vir Saul gesê: “Ek sal nie saam met jou teruggaan nie, want jy het nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie, en die Here sal jou nie meer koning laat wees nie.”
27Samuel het omgedraai om te gaan, maar Saul het aan Samuel se bo-kleed vasgehou, en die bo-kleed het geskeur. 28Toe sê Samuel vir Saul: “Jy was koning oor die Israeliete, maar vandag het die Here dit van jou afgeskeur en weggeneem en Hy het dit gegee vir iemand wat beter is as jy. 29En ook, die Ewige God van Israel is nie vals nie en Hy verander nie sy besluite nie, want Hy is nie soos 'n mens wat sy besluite verander nie.”
30Toe sê Saul: “Ek het sonde gedoen, maar jy moet my asseblief respekteer voor die offisiere en voor die Israeliete. Jy moet saam met my teruggaan, sodat ek tot die Here kan bid.”
31Samuel het toe saam met Saul teruggegaan, en Saul het tot die Here gebid. 32Daarna het Samuel gesê: “Julle moet vir Agag, die koning van die Amalekiete, na my toe bring.”
Agag het na Samuel toe gekom. Agag was nie bekommerd nie. Hy het gesê: “Ek is seker hulle sal my nie doodmaak nie, ek is nie meer bang nie.”
33Maar Samuel het gesê: “Jy het vroue se kinders doodgemaak, en daarom sal jou ma ook nie meer 'n kind hê nie.”
Samuel het toe vir Agag in stukke gekap daar by die tempel. 34Samuel het daarna na die stad Rama gegaan, en Saul het na sy huis gegaan in die stad Gibea-van-Saul. 35Samuel het nooit weer vir Saul gesien nie. Maar Samuel het oor Saul gehuil en getreur. Die Here was jammer dat Hy vir Saul koning gemaak het oor die Israeliete.