Dawid sterf
1Die tyd het nader gekom dat Dawid moes sterf, en hy het vir sy seun Salomo gesê: 2“Ek gaan nou sterf, soos al die mense. Jy moet sterk wees, jy moet 'n dapper man wees. 3Jy moet doen wat jou God die Here gesê het. Jy moet lewe soos Hy wil hê, jy moet gehoorsaam wees en jy moet altyd doen wat die Here vir jou sê en leer, soos Moses in die wette geskryf het. Dan sal dit goed gaan met jou, dit sal goed gaan met alles wat jy doen en oral waar jy gaan. 4Dan sal die Here doen wat Hy belowe het toe Hy gesê het: ‘As jou seuns aanhou om gehoorsaam te bly aan My en as hulle met hulle hele hart en lewe doen wat Ek wil hê, dan sal daar altyd iemand van jou nageslag op die troon van Israel sit.’ 5Jy weet ook wat Joab seun van Seruja aan my gedoen het en wat hy gedoen het met die twee hoofde van die leër van Israel. Hy het vir Abner seun van Ner, en vir Amasa seun van Jeter vermoor. Hy het hulle doodgemaak toe daar vrede was, nie in 'n oorlog nie. Hulle bloed het gevloei oor die belt om sy heupe en oor die sandale aan sy voete, soos in 'n oorlog. 6Jy moet met hom doen wat jy dink is reg. Hy is 'n ou man, maar jy moenie hom in vrede laat sterf omdat hy oud is nie.
7“Maar jy moet onthou die seuns van Barsillai van Gilead is jou vriende. Jy moet hulle by jou tafel laat eet, want hulle het dit ook vir my gedoen toe ek moes vlug vir jou broer Absalom.
8“Simeï seun van Gera is ook hier by jou. Simeï is 'n Benjamin-man van die stad Bagurim. Dit is hý wat my beledig het en wat my baie hartseer gemaak het daardie dag toe ek na die stad Maganajim gegaan het. Dit is ook hý wat my later kom ontmoet het by die Jordaan-rivier, en toe het ek vir hom voor die Here belowe dat ek hom nie sal doodmaak nie. 9Maar nou moet jy hom nie vry laat wegkom nie. Jy is 'n wyse man en jy sal weet wat jy met hom moet doen. Hy is 'n ou man, maar sy bloed móét vloei, hy moet sterf.”
10Dawid het gesterf, en hulle het hom begrawe in die Dawidstad. 11Hy was 40 jaar lank koning, sewe jaar in Hebron en 33 jaar in Jerusalem. 12Salomo het op die troon van sy pa Dawid gaan sit. Almal het geweet dat hy nou die koning is.
Adonia sterf
13Adonia seun van Gaggit het na Salomo se ma Batseba toe gekom. Batseba het vir hom gevra: “Kom jy soos 'n vriend?”
Adonia het gesê: “Ja, ek kom soos 'n vriend. 14Ek wil met jou praat oor iets.”
Batseba sê toe: “Jy mag praat.”
15Toe sê Adonia: “Jy weet dat ek koning sou geword het en dat al die Israeliete dit aanvaar het. Maar die Here het iets anders laat gebeur, my broer het koning geword. 16En nou is daar een ding wat ek vir jou wil vra, en jy moenie vir my nee sê nie.”
Batseba het gesê: “Jy mag vra.”
17Toe sê Adonia: “Jy moet asseblief met koning Salomo praat, want hy sal nie vir jou nee sê nie. Jy moet vra dat hy Abisag van Sunem vir my moet gee sodat ek met haar kan trou.”
18Batseba het gesê: “Goed, ek sal met die koning gaan praat oor jou.”
19Sy het na die koning toe gegaan om met hom te praat oor Adonia. Die koning het opgestaan en hy het haar kom ontmoet. Hy het voor haar gebuig en toe het hy op sy troon gaan sit. Hy het gesê hulle moet vir die ma van die koning 'n stoel bring, en sy het regs langs hom gaan sit. 20Sy sê toe: “Ek wil iets vir jou vra, en jy moenie vir my nee sê nie.”
Die koning het vir haar gesê: “Ma, jy mag vir my vra, ek sal nie vir jou nee sê nie.”
21Sy sê toe: “Jy moet Abisag van Sunem vir jou broer Adonia gee sodat hy met haar kan trou.”
22Koning Salomo het geantwoord en vir sy ma gesê: “Hoekom vra jy dat ek Abisag van Sunem vir Adonia moet gee? Wil jy ook vir my vra dat Adonia koning moet word in my plek? Hy is my broer wat ouer is as ek, en die priester Abjatar en Joab seun van Seruja wil ook hê dat Adonia koning moet word.”
23Koning Salomo het gesê die Here moet die getuie wees en die Here moet hom straf as hy Adonia laat aanhou lewe nadat hy hierdie ding gevra het. 24Die koning het gesê: “So seker soos die Here lewe, die Here wat my koning laat word het, die Here wat my laat sit het op die troon van my pa Dawid en wat my familie die koningsfamilie gemaak het soos Hy belowe het, so seker sal Adonia vandag moet sterf.”
25Koning Salomo het vir Benaja seun van Jojada gestuur, en hy het Adonia doodgemaak.
Die koning stuur vir Abjatar weg
26Die koning het vir die priester Abjatar gesê: “Jy moet in Anatot op jou grond gaan bly. Miskien moet ek jou laat doodmaak, maar ek sal dit nie vandag doen nie, want jy het die kis van die Here gedra voor my pa Dawid en jy het saam met hom swaargekry. Die Here is die Here.”
27So het Salomo vir Abjatar laat ophou om priester te wees, en so het waar geword wat die Here gesê het van die familie van Eli in Silo.
Joab sterf
28Toe Joab hoor wat gebeur het, het hy na die tent van die Here gevlug en aan die horings van die altaar gaan vashou. Hy wou voorheen nie vir Absalom help om koning te word nie, maar nou wou hy vir Adonia help. 29Toe koning Salomo hoor dat Joab na die tent van die Here gevlug het en dat hy daar langs die altaar staan, het hy vir Benaja seun van Jojada gestuur en gesê hy moet vir Joab gaan doodmaak. 30Benaja het na die tent van die Here gegaan en vir Joab gesê: “Die koning sê jy moet uitkom.”
Maar Joab het gesê: “Ek sal nie, ek wil hiér sterf.”
Benaja het vir die koning gaan sê wat Joab gesê het, 31en die koning het vir Benaja gesê: “Jy moet doen wat hy gesê het, gaan maak hom dood en begrawe hom. Dan sal die mense nie meer vir my en my familie beskuldig dat ons mense doodgemaak het nie, die mense vir wie Joab onskuldig doodgemaak het. 32Die Here self sal vir Joab straf omdat hy die twee goeie manne doodgemaak het, manne wat beter was as hy. Joab het hulle met 'n swaard doodgesteek, maar my pa Dawid het niks daarvan geweet nie. Die twee manne was Abner seun van Ner, die hoof van die leër van Israel, en Amasa seun van Jeter, die hoof van die leër van Juda. 33Joab en sy nageslag sal vir altyd skuldig wees omdat hulle daardie manne doodgemaak het, maar die Here sal dit goed laat gaan met Dawid en sy nageslag, met sy familie en met sy regering.”
34Benaja seun van Jojada het gegaan en hy het vir Joab doodgemaak. Hulle het vir Joab begrawe by sy huis in die woestyn. 35Die koning het vir Benaja seun van Jojada in Joab se plek gekies en aangestel om die hoof van die leër te wees, en hy het die priester Sadok gekies en aangestel in Abjatar se plek.
Simeï sterf
36Die koning het vir Simeï laat roep en hy het vir Simeï gesê: “Jy moet vir jou in Jerusalem 'n huis bou en daar gaan woon. Jy moenie uit die stad gaan nie. 37As jy van jou huis weggaan en oor die Kedron-vallei gaan, dan sal jy sterf, dit is seker, en dit sal jóú skuld wees.”
38Simeï het vir die koning gesê: “Wat Meneer die koning sê, is goed. Ek sal dit doen.”
Simeï het lank in Jerusalem gewoon, 39maar drie jaar later het twee van sy slawe weggeloop na Akis seun van Maäka, die koning van die stad Gat. Die mense het vir Simeï gesê sy slawe is in Gat. 40Hy het gereedgemaak en sy donkie opgesaal. Hy het na Akis in Gat gegaan om sy slawe te soek, en hy het hulle teruggebring uit Gat. 41Salomo het gehoor dat Simeï uit Jerusalem na Gat gegaan het en weer teruggekom het. 42Hy laat toe vir Simeï roep en hy sê vir Simeï: “Kan jy onthou dat ek jou voor die Here laat belowe het en dat ek jou gewaarsku het? Ek het gesê wanneer jy uit die stad na 'n ander plek gaan, dan moet jy weet jy sal sterf, dit is seker. En jy het vir my gesê dit is goed, jy verstaan dit. 43Hoekom het jy nie gedoen wat jy voor die Here belowe het nie? Hoekom het jy nie gedoen wat ek vir jou gesê het nie?”
44Die koning het ook vir Simeï gesê: “Jy weet jy is 'n slegte mens. Jy weet ook wat jy teen my pa Dawid gedoen het. Die Here sal jou nou straf oor wat jy gedoen het. 45Maar die Here sal aanhou om dit goed te laat gaan met koning Salomo, en daar sal altyd iemand op die troon van Dawid voor die Here wees.”
46Die koning het toe vir Benaja seun van Jojada gestuur, en hy het vir Simeï doodgemaak. Almal het toe geweet en aanvaar dat Salomo die koning is.