God se verkiesing van Israel
1In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my 2dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is 3oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees. 4Hulle is tog Israeliete; vir hulle het God as sy kinders aangeneem en in sy heerlikheid was Hy by hulle; met hulle het Hy die verbonde gesluit en aan hulle die wet van Moses gegee, asook die tempeldiens en die beloftes; 5hulle stam van die aartsvaders af, en uit hulle is die Christus as mens gebore – Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig! Amen.
6Dit wil nie sê dat die woord van God nie meer geld nie. Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie; 7en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie. Inteendeel, die belofte was: “Uit Isak sal daar vir jou 'n nageslag kom.” 8Dit wil sê: Dit is nie die kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore is, wat kinders van God is nie; dit is die kinders wat kragtens die belofte van God gebore is, wat as Abraham se nageslag gereken word. 9Die woorde: “Op dié tyd sal Ek weer kom, en dan sal Sara 'n seun hê,” was immers 'n belofte.
10En dis nie al nie. Rebekka was net een keer swanger, deur ons voorvader Isak. 11-13Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: “Die oudste sal die jongste dien.” Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.” Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat 'n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep.
14Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie! 15Vir Moses het Hy gesê:
“Ek sal barmhartig wees
oor wie Ek barmhartig wil wees,
en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.”
16Dit hang dus nie af van 'n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is. 17In die Skrif sê God immers vir die farao: “Juis hiervoor het Ek jou teen My in opstand laat kom: dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.”
18Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.
Die oordeel en genade van God
19Nou sal jy vir my sê: “Maar waarom verwyt Hy ons dan nog? Wie kan tog teen sy wil ingaan?”
20Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” 21Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie? 22En as God dieselfde wou doen? Hy wou sy toorn laat sien en sy mag bekend maak. Daarom het Hy die voorwerpe van sy toorn, die mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra. 23So sou Hy ook die rykdom van sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van sy ontferming, die mense wat Hy vantevore voorberei het om aan sy heerlikheid deel te hê. 24En onder hulle is ook ons, wat Hy nie net uit die Jode nie, maar ook uit die ander nasies geroep het. 25So sê Hy dan ook in die boek Hosea:
“Hulle wat nie my volk is nie,
sal Ek roep om my volk te wees,
en haar wat geen liefde ontvang het nie,
om my geliefde te wees.”
26“En in plaas daarvan dat vir hulle gesê is:
‘Julle is nie my volk nie,’
sal hulle geroep word om kinders van die lewende God te wees.”
27En Jesaja roep van Israel dít uit:
“Al was die Israeliete so baie soos die sand van die see,
net die handjievol wat oorbly, sal gered word,
28want die Here gaan eens en vir altyd
hier op aarde die saak afhandel.”
29So het Jesaja trouens al vroeër gesê:
“As die Here, die Almagtige,
nie vir ons 'n klompie laat oorbly het nie –
soos met Sodom sou dit met ons gegaan het,
soos Gomorra sou ons uitgewis gewees het.”
Israel en die evangelie
30Wat is nou ons gevolgtrekking?
Dít: heidene het nie God se vryspraak gesoek nie, maar dit wel gekry – die vryspraak deur die geloof. 31Israel, daarenteen, het 'n wet gesoek waardeur hulle God se vryspraak sou kon kry, maar by so 'n wet het hulle nie uitgekom nie.
32Waarom kon hulle nie die vryspraak kry nie? Omdat hulle nie op die geloof wou bou nie, maar op hulle eie prestasies. Hulle het oor die struikelblok gestruikel 33waarvan daar geskrywe staan:
“Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer waaroor 'n mens struikel,
'n rots waarteen jy jou stamp,
maar wie in Hom glo,
sal nie teleurgestel word nie.”