Ek wil my in die Here verbly
1Ek wil die Here loof!
Here my God, U is baie groot,
U is beklee met koninklike luister,
2U is met 'n kleed van lig omhul.
Dit is U wat die hemelkoepel soos 'n tentdoek gespan
3en vir U 'n woonplek ingerig het oor die waters daarbo,
U wat op die wolke ry,
op die vleuels van die wind,
4U wat die winde u boodskappers maak,
die weerligte u dienaars,
5U wat die aarde stewig gevestig het,
sodat dit nooit sal wankel nie.
6Die groot waters het die aarde soos 'n kleed oordek,
die waters het bo-oor die berge gestaan.
7Maar toe U die waters aanspreek, het hulle gevlug,
voor die krag van u stem het hulle die wyk geneem.
8Hulle het oor die berge gespoel
en in die laagtes weggevloei
na die plek toe wat U vir hulle bestem het.
9U het 'n grens gestel waaroor hulle nie mag gaan nie:
hulle mag die aarde nie weer oordek nie.
10U laat fonteine in die valleie ontspring
en tussen die berge deur stroom.
11Daar kom al die wilde diere drink
en die wildedonkies hulle dors les.
12Die voëls maak hulle neste langs die water
en kwetter tussen die takke.
13Uit die hemel laat U dit op die berge reën,
die aarde word versadig deur die reën wat U gee.
14U laat gras uitspruit vir die diere,
en groen plante vir die mens
sodat hy sy kos uit die aarde kan kry:
15wyn om mense se harte bly te maak,
olie om die gesig te versorg,
kos om die mens nuwe krag te gee.
16Die bome van die Here kry volop reën,
die seders op die Libanon, dié wat Hy geplant het,
17waar die voëls hulle neste maak,
en die reier sy huis in die boomtoppe bou.
18Die hoë berge is 'n tuiste vir die klipbokke,
die rotse is 'n skuilplek vir die dassies.
19U het die maan gemaak om die vaste tye mee aan te gee,
die son weet wanneer om onder te gaan.
20As U die donker bring en dit nag word,
roer al die diere in die bos.
21Die leeus brul op soek na prooi:
hulle vra hulle kos van God.
22As die son opkom, sluip hulle weg
en gaan lê in hulle skuilplekke.
23Dan gaan die mens na sy werk toe,
en hy werk tot die aand.
24U het baie dinge geskep, Here,
die aarde is vol van wat U gemaak het,
en tog, U het alles in wysheid geskep.
25Daar is die see, groot en wyd,
wat wemel van diere, klein en groot.
26Daar vaar die skepe,
en daar is die Leviatan.
U het hom gemaak om mee te speel.
27Hulle is almal van U afhanklik,
U gee hulle kos op hulle tyd.
28U gee, en hulle eet,
U maak u hand oop, en hulle kry meer as genoeg.
29Maar as U U terugtrek, is dit klaar met hulle,
as U hulle asem wegneem, is hulle dood
en word hulle weer stof.
30U gee die lewensasem en daar is lewe;
ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit.
31Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie!
Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf,
32Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe,
wat die berge aanraak, en hulle brand.
33Ek wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is.
34Mag hierdie bepeinsinge van my vir Hom aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.
35Mag die sondaars van die aarde af verdwyn,
mag die goddeloses ophou om te bestaan!
Ek wil die Here loof.
Prys die Here!