Dink aan die dae lank verby
1“Hoor, hemele, ek praat,
luister na my woorde, aarde!
2My onderrig kom na julle toe soos reënwater,
my woorde verkwik julle soos dou,
soos sagte reëns op die grassies,
soos reënbuie op die graan.
3Ek wil die Naam van die Here roem.
Prys ons God om sy grootheid!
4Hy is die Rots, sy werk is volmaak,
alles wat Hy doen, is regverdig.
Hy is die getroue God, sonder onreg,
Hy is regverdig en betroubaar.
5“Israel is ontrou aan die Here,
nie meer sy kinders nie,
nie geskik vir sy diens nie,
vals en korrup.
6Doen julle dit die Here aan?
Jy is 'n dwase volk, sonder verstand.
Is die Here nie jou Vader, jou Skepper, nie?
Hy het jou gemaak, jou in die lewe gebring.
7Dink aan die dae lank verby,
onthou die jare van die voorgeslagte.
Vra jou pa dat hy jou vertel,
jou oumense dat hulle jou dit sê.
8Toe die Allerhoogste vir die nasies hulle besittings gegee het,
toe Hy die mense in volke opgedeel het,
het Hy vir hulle hulle grense bepaal,
soveel as wat daar Israeliete is.
9Hulle is die Here se volk, sy deel,
Jakob is die Here se vaste eiendom.
10Hy het sy volk in die woestyn gevind,
in 'n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu.
Die Here het sy volk omhels, hom vertroetel
en versorg soos die appel van sy oog.
11Soos 'n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop,
oor hulle fladder en hulle vang
op sy vlerke wat hy oopsprei,
soos 'n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra,
12so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei;
daar was nie 'n ander god by Hom nie.
13Die Here het sy volk die land in besit laat neem,
en hom laat eet van die opbrengs van die lande,
hom heuning uit klipskeure laat geniet,
olie uit harde klip,
14botter uit die beestrop, melk van die kleinvee,
vet lammers, skaapramme en bokramme uit Basan,
die beste koring;
die wyn wat jy drink, kom uit die beste druiwe.
15Jesurun het alles in oorvloed gehad;
hy het in opstand gekom.
Jy het oorvloed gehad, jy het dom geword,
jy het jou ooreet.
Hy het God wat hom gemaak het, verwerp,
Hy was vermetel teen die Rots wat hom gered het.
16Israel het vreemde gode bo die Here verkies,
Hom getart met hulle afskuwelike afgode,
17offers gebring aan veldduiwels, aan goed wat nie gode is nie,
aan onbekende gode,
nuwe gode wat van die bure af kom,
gode wat onbekend was aan julle voorvaders.
18Jy het jou Rots, jou Skepper, nie in ag geneem nie,
die God wat jou in die wêreld gebring het, vergeet.
19“Die Here het dit gesien en vir jou minagting gekry.
Omdat sy seuns en dogters Hom getart het,
20het Hy gesê: Ek sal nie meer vir hulle sorg nie,
Ek wil kyk wat hulle uiteinde is,
want hulle is 'n onbestendige volk,
mense sonder trou.
21Hulle het iets wat nie 'n god is nie, bo My verkies,
My getart met wat niks is nie.
Ek sal wat nie 'n volk is nie, bo hulle verkies,
met 'n nasie sonder verstand sal Ek hulle tart.
22My toorn het 'n vuur aangesteek;
dit brand tot in die doderyk daaronder,
dit verteer die aarde en sy opbrengs,
dit brand deur tot diep onder die berge.
23Ek sal ramp op ramp oor hulle bring,
my pyle op hulle afskiet:
24hongerpyne, koorsgloed,
ongeneeslike siekte.
Ek sal roofdiere op hulle afstuur,
en giftige slange!
25Op straat roei die swaard die kinders uit,
in die slaapkamers is daar angs:
jong man en jong meisie,
suigling en grysaard, almal kom om.
26Ek sou wou sê Ek sal hulle verstrooi,
Ek sal maak dat geen mens meer aan hulle dink nie,
27maar Ek is bevrees die vyand sal My tart,
Israel se teenstanders sal dit verkeerd beoordeel
en sê: ‘In eie krag het ons dit alles gedoen,
nie die Here nie,’
28want hulle is 'n nasie sonder verstand,
hulle het geen insig nie.
29“As hulle wysheid gehad het, sou hulle dit verstaan het,
sou hulle begryp het wat hulle uiteinde sal wees.
30Hoe kan een mens duisend agtervolg
of twee tienduisende op die vlug jaag?
Gebeur dit nie omdat die Rots van Israel hulle verkoop het nie,
omdat die Here hulle uitgelewer het nie?
31Die rots van die nasies is nie soos ons Rots nie,
ons vyande kan tog self oordeel,
32want hulle stam uit Sodom se wingerd,
uit Gomorra se droë gelyktes.
Hulle druiwe is giftig,
elke tros is bitter.
33Hulle wyn is slanggif,
wrede addergif.
34“Die Here het gesê:
‘Dit is weggebêre by My,
toegesluit in my skure.
35Ek straf en Ek vergeld
op die dag as hulle voete gly.
Die dag van hulle ondergang is naby;
wat oor hulle besluit is, kom gou.’
36“Die Here behartig die saak van sy volk,
die Here ontferm Hom oor sy dienaars,
want Hy sien hulle krag het ingegee,
dit is klaar met hulle almal.
37Dan sal Hy vra: ‘Waar is hulle gode?
Waar is die rots waar hulle gaan skuil het,
38die gode deur wie die vet van hulle offers geëet is
en die wyn van hulle drankoffers gedrink is?
Laat hulle na vore kom en julle help,
laat hulle vir julle 'n skuiling wees!
39Besef dit tog: Ek, Ek is die Here!
Naas My is daar geen ander God nie.
Ek maak dood en Ek gee lewe.
Ek maak siek en Ek maak gesond.
Uit my mag word niemand bevry nie.
40Ek steek my hand op na die hemel toe
en lê 'n eed af: So seker as Ek ewig lewe,
41wanneer Ek my blink swaard skerp gemaak het,
wanneer my hand dit gevat het om te oordeel,
sal Ek my teenstanders straf
en my haters vergeld vir wat hulle gedoen het.
42My swaard sal dood saai;
Ek sal my pyle deurweek met bloed:
die bloed van gesneuweldes en gevangenes,
die bloed van die vyand
met die lang haarlokke.’
43“Al julle nasies, julle moet
die volk van die Here roem,
want Hy wreek die bloed van sy dienaars,
Hy straf sy teenstanders,
Hy bring vrede tussen Hom en sy land,
tussen Hom en sy volk.”
44Moses het nader gekom en hierdie hele lied aan die volk voorgehou. Josua seun van Nun was by hom. 45Toe Moses hiermee klaar was, 46het hy vir al die Israeliete gesê: “Neem al die woorde waarmee ek julle vandag vermaan het, ter harte. Julle moet julle kinders beveel om dit te gehoorsaam en te lewe volgens hierdie hele wet. 47Dit is nie 'n geringe saak vir julle nie, dit is die lewe vir julle, en deur hierdie gebod te onderhou, sal julle julle verblyf verleng in die land wat julle in besit sal neem wanneer julle die Jordaan deurtrek.”
Moses moet sterf op Neboberg
48Op dieselfde dag waarop Moses so met die Israeliete gepraat het, het die Here vir hom gesê: 49“Klim op Neboberg in die Abarimberge in Moab regoor Jerigo en bekyk Kanaän wat Ek vir die Israeliete as besitting sal gee. 50Jy sal sterf op die berg waarop jy moet klim. So het jou broer Aäron gesterf op Horberg. 51Julle was voor die oë van die Israeliete aan My ontrou by die waters van Meriba-Kades in die Sinwoestyn, want julle het My nie daar voor hulle oë as die Heilige geëer nie. 52Jy sal die land wat Ek aan die Israeliete sal gee, regoor jou sien, maar jy sal daar nie binnegaan nie.”