Die saak teen Paulus voor Feliks
1Vyf dae later het die hoëpriester Ananias saam met 'n paar van die familiehoofde en 'n advokaat, Tertullus, daar aangekom. Hulle het voor die goewerneur verskyn om hulle aanklag teen Paulus in te dien. 2Paulus is ingeroep, en Tertullus het met die aanklag voor Feliks begin: “U Edele, onder u lewe ons in rus en vrede, en deur u beleid het daar verbeteringe vir hierdie volk ingetree. 3Dit erken ons altyd en oral met diep dankbaarheid.
4“Ek wil u nie onnodig vermoei nie. Ek versoek u om met u kenmerkende welwillendheid na 'n kort uiteensetting van ons saak te luister.
5“Ons beskou hierdie man as 'n gevaar vir die samelewing. Hy bring skeuring in die Joodse geledere dwarsdeur die wêreld. Hy is 'n leier van die dwaalrigting van die Nasareners. 6Toe hy probeer het om selfs die tempel te ontheilig, het ons hom gevange geneem. 8As ú hom oor al hierdie dinge verhoor, kan u te wete kom waarom ons hom aankla.”
9Hiermee het die Jode saamgestem en hulle het bevestig dat dit so is.
10Op 'n teken van die goewerneur het Paulus begin praat:
“Ek weet dat u al jare lank hierdie mense se regter is. Daarom verdedig ek my saak voor u met vertroue.
11“U kan self vasstel dat ek maar sowat twaalf dae gelede in Jerusalem aangekom het om daar te aanbid. 12Niemand het my in die tempel of in die sinagoges of êrens in die stad gekry dat ek met iemand gestry of die skare tot oproer aangehits het nie. 13Die beskuldigings wat hulle nou teen my inbring, kan hulle ook nie vir u bewys nie.
14“Dit erken ek wel voor u: Ek dien die God van my voorvaders volgens die leer van Christus wat hulle 'n dwaalrigting noem. Ek glo nog steeds alles wat in die wet en die profete geskrywe staan. 15Ek het my hoop op God gestel, en net soos hulle verwag ek dat alle mense, goeies en slegtes, uit die dood sal opstaan. 16Daarom doen ek ook my uiterste bes om altyd 'n skoon gewete voor God en die mense te hê.
17“Na baie jare het ek teruggekom om my mense met 'n geldelike bydrae te help en om aan God te offer. 18Toe ek met die offers besig was, het hulle my in die tempel gekry. Ek was klaar met die reinigingshandeling, en daar was nie 'n skare of 'n gedrang om my nie. 19Daar was net 'n paar Jode van die provinsie Asië. Dit is eintlik hulle wat hier voor u moes gewees het om my aan te kla, as hulle iets teen my kan inbring. 20Of laat hierdie mense dan nou sê aan watter misdaad ek in my verhoor voor die Joodse Raad skuldig bevind is. 21Al wat ek daar vir hulle gesê het, was: Ek staan vandag hier voor julle tereg omdat ek aan die opstanding van die dooies glo.”
22Hier het Feliks, wat die besonderhede in verband met die leer van Christus taamlik goed geken het, die verhoor onderbreek. “Wanneer Lisias, die kommandant, kom, sal ek julle saak afhandel,” het hy gesê.
23Hy het die kaptein beveel om Paulus nog aan te hou, maar om hom minder streng te behandel en sy mense ook toe te laat om vir hom te sorg.
Paulus word aangehou
24Na 'n paar dae het Feliks en sy Joodse vrou, Drusilla, vir Paulus laat haal om meer van hom te hoor oor die geloof in Christus Jesus. 25Paulus het met hom gepraat oor 'n lewe in gehoorsaamheid aan God, oor selfbeheersing en oor die komende oordeel. Dit het Feliks laat bang word, en hy het gesê: “Dit is nou genoeg! Gaan maar terug, en as ek tyd het, sal ek jou weer laat roep.”
26Hy het die hele tyd ook gehoop Paulus sou hom omkoopgeld aanbied om los te kom. Daarom het hy hom so dikwels moontlik laat haal om met hom te praat.
27Twee jaar later is Feliks deur Porcius Festus opgevolg. En omdat Feliks die Jode 'n guns wou bewys, het hy Paulus as gevangene agtergelaat.