Die Ammoniete beledig Dawid se boodskappers
1Na hierdie gebeure is koning Nagas van die Ammoniete oorlede. Sy seun het hom opgevolg, 2en Dawid het gedink: ek wil met Nagas se seun Ganun op goeie voet bly, want sy pa was my goedgesind. Dawid het toe gesante gestuur om met hom deelneming te betuig oor die dood van sy pa. Toe die amptenare van Dawid in die land van die Ammoniete by Ganun kom om met hom deelneming te betuig, 3het die leiers van die Ammoniete vir Ganun gesê: “Dink u werklik Dawid vereer u vader deur boodskappers te stuur om met u te simpatiseer? Het sy amptenare nie eerder na u toe gekom om die land deur te kyk en hier onrus te stook en inligting in te samel nie?”
4Ganun het toe Dawid se gesante gevat, hulle kaal geskeer, hulle klere net onderkant die heupe afgesny en hulle gelos. 5Hulle is toe daar weg, en die nuus oor die manne is aan Dawid meegedeel. Hy het toe boodskappers na hulle toe gestuur, want die manne was baie skaam.
Die koning het laat weet: “Bly voorlopig in Jerigo totdat julle baard gegroei het en kom dan huis toe.”
Joab verslaan die Ammoniete
6Die Ammoniete het geweet dat hulle hulle by Dawid in onguns gebring het. Daarom het Ganun en die Ammoniete vier en dertig ton silwer gestuur om vir hulle by die Arameërs van Mesopotamië en by die Arameërs van Maäka en by Soba bemande strydwaens en 'n berede mag te huur. 7Hulle het vir hulle twee en dertig duisend strydwaens gehuur. Daarmee saam het die koning van Maäka en sy leërmag gekom en hulle het regoor Medeba kamp opgeslaan. Die Ammoniete het ook bymekaargekom uit hulle stede en uitgetrek vir die oorlog.
8Toe Dawid dit hoor, het hy vir Joab met die hele leër gestuur, almal dapper manne. 9Die Ammoniete het opgeruk en hulle gevegslinies voor die stad opgestel. Die konings wat hulle kom help het, was in die oop veld. 10Joab het opgemerk dat hy aan twee kante sou moes veg, voor en agter. Hy het toe 'n aantal van die beste manne uit Israel gekies en teenoor die Arameërs laat stelling inneem. 11Die res van die leër het hy onder aanvoering van sy broer Abisai geplaas en hulle teenoor die Ammoniete laat stelling inneem.
12Hy het gesê: “As die Arameërs vir my te sterk is, moet jy my kom help, en as die Ammoniete vir jou te sterk is, sal ek jou kom help. 13Wees dapper, ja, laat ons almal dapper wees ter wille van ons volk en die stede van ons God. Mag die Here doen soos Hy dit goedvind.”
14Joab en sy manne het opgeruk om teen die Arameërs te veg, maar hulle het vir hom gevlug. 15Toe die Ammoniete gewaar dat die Arameërs vlug, het die Ammoniete ook voor sy broer Abisai op die vlug geslaan en die stad ingegaan. Joab is toe na Jerusalem toe.
Dawid verslaan die Arameërs
16Toe die Aramese state sien dat hulle deur die Israeliete verslaan is, het hulle afvaardigings gestuur om die Arameërs oorkant die Eufraat te laat kom, en Sobak die hoof van Hadad-Eser se leër het die leiding geneem. 17Toe Dawid die berig kry, het hy die hele Israel bymekaargemaak en die Jordaan oorgesteek. Toe hy naby die Arameërs kom, het hy stelling ingeneem teenoor hulle. Pas het Dawid sy stellings teenoor die Arameërs reg gehad vir die geveg, of hulle val hom aan. 18Hulle het egter vir Israel gevlug. Dawid het sewe duisend van die strydwabemanning en veertig duisend voetsoldate van Aram om die lewe gebring. Hy het verder ook vir Sobak die hoof van hulle leër doodgemaak. 19Toe die manskappe van Hadad-Eser besef dat hulle deur Israel verslaan is, het hulle vrede gesluit met Dawid en aan hom onderhorig geword. Die Arameërs was hierna nie weer bereid om die Ammoniete te help nie.