PSALM 99
'n Psalm tot eer van die driemaal-Heilige.
1DIE Here is Koning; laat die volke bewe! Hy troon op die gérubs; laat die aarde sidder!
2Die Here is groot in Sion, en verhewe is Hy bo al die volke.
3Laat hulle u grote en gedugte Naam loof! Heilig is Hy!
4Ook die sterkte van die Koning wat die reg liefhet. Ú het bevestig wat regverdig is; Ú het reg en geregtigheid gedoen in Jakob.
5Verhef die Here onse God, en buig julle neer voor die voetbank van sy voete. Heilig is Hy!
6Moses en Aäron was onder sy priesters, en Samuel onder die aanroepers van sy Naam. Hulle het die Here aangeroep, en Hý het hulle verhoor.
7In die wolkkolom het Hy met hulle gespreek. Hulle het sy getuienisse onderhou en die insetting wat Hy hulle gegee het.
8o Here onse God, Ú het hulle verhoor, U was vir hulle 'n vergewende God en Een wat wraak oefen oor hulle dade.
9Verhef die Here onse God, en buig julle neer voor sy heilige berg. Want heilig is die Here onse God.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2012. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling met Deuterokanonieke Boeke
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953, 1965. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2015. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.