PSALM 92
'n Lied vir die sabbatdag.
1'n PSALM. 'n Lied vir die sabbatdag.
2Dit is goed om die Here te loof en tot eer van u Naam te psalmsing, o Allerhoogste,
3om in die môre u goedertierenheid te verkondig en u getrouheid in die nagte;
4by die tiensnarige instrument en by die harp, by snarespel op die siter.
5Want U het my bly gemaak, Here, deur u dade; ek jubel oor die werke van u hande.
6Hoe groot is u werke, o Here; baie diep is u gedagtes!
7'n Dom mens weet nie, en 'n dwaas verstaan dit nie:
8as die goddelose mense groei soos die plante en al die werkers van ongeregtigheid bloei, is dit om hulle vir ewig te verdelg.
9Maar U is hoog verhewe tot in ewigheid, Here!
10Want kyk, u vyande, o Here, want kyk, u vyande sal vergaan; al die werkers van ongeregtigheid sal verstrooi word.
11Maar U verhoog my horing soos van 'n buffel; ek is met vars olie gesalf.
12En my oog sien met welgevalle neer op die wat my voorlê, my ore hoor van die wat teen my as kwaaddoeners opstaan.
13Die regverdige sal groei soos 'n palmboom; hy sal opgroei soos 'n seder op die Líbanon.
14Geplant in die huis van die Here, sal hulle groei in die voorhowe van onse God.
15In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen wees,
16om te verkondig dat die Here reg is, my rots, en in Hom is geen onreg nie.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2012. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling met Deuterokanonieke Boeke
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953, 1965. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2015. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.