Danksegging vir 'n groot verlossing.
1VIR die musiekleier; op die wysie van: „Sterf vir die Seun.” 'n Psalm van Dawid.
2Ek wil die Here loof met my hele hart; ek wil al u wonders vertel.
3In U wil ek bly wees en juig; ek wil psalmsing tot eer van u Naam, o Allerhoogste,
4omdat my vyande agteruitwyk, struikel en omkom van voor u aangesig.
5Want U het my reg en my regsaak behandel; U het gaan sit op die troon, o regverdige regter!
6U het die heidene gedreig, die goddelose laat omkom, hulle naam uitgedelg vir ewig en altyd.
7Die vyande het omgekom — puinhope vir ewig; ook die stede wat U verwoes het; hulle gedagtenis, ja, dié het vergaan.
8Maar die Here sit vir ewig; Hy het sy troon reggesit vir die oordeel.
9En Hy self sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke vonnis met reg.
10So is die Here dan 'n rotsvesting vir die verdrukte, 'n rotsvesting in tye van benoudheid.
11En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o Here!
12Psalmsing tot eer van die Here wat op Sion woon; verkondig onder die volke sy dade.
13Want Hy wat die bloed soek, dink aan hulle; Hy vergeet die geroep van die ellendiges nie.
14Wees my genadig, Here, aanskou my ellende vanweë my haters, U wat my verhef uit die poorte van die dood;
15sodat ek al u roemryke dade kan vertel, in die poorte van die dogter van Sion kan juig oor u heil.
16Die heidene het gesink in die kuil wat hulle gemaak het; hulle voet is gevang in die net wat hulle gespan het.
17Die Here het Hom bekend gemaak; Hy het strafgerig geoefen; die goddelose is verstrik in die werk van sy hande. Higgajōn. Sela.
18Die goddelose sal teruggaan na die doderyk, al die heidene wat God vergeet.
19Want die behoeftige sal nie vir altyd vergeet word, die verwagting van die ellendiges nie vir ewig verlore gaan nie.
20Staan op, Here, laat die mens nie sterk word nie; laat die heidene voor u aangesig geoordeel word!
21o Here, jaag hulle skrik aan; laat die heidene weet, hulle is mense! Sela.