Die martelaar.
1VIR die musiekleier; op die wysie van: „Lelies.” 'n Psalm van Dawid.
2Verlos my, o God, want die waters het tot by die siel gekom.
3Ek sink in grondelose modder waar geen staanplek is nie; ek het in waterdieptes gekom, en die stroom loop oor my.
4Ek is moeg van my geroep, my keel brand, my oë versmag terwyl ek wag op my God.
5Die wat my sonder oorsaak haat, is meer as die hare van my hoof; die wat klaar staan om my te vernietig, wat sonder grond my vyande is, is magtig; wat ek nie geroof het nie, moet ek dan teruggee.
6o God, Ú weet van my dwaasheid, en my skuldige dade is vir U nie verborge nie.
7Laat die wat u verwag, deur my nie beskaamd staan nie, o Here, Here van die leërskare! Laat die wat U soek, deur my nie in die skande kom nie, o God van Israel!
8Want om U ontwil dra ek smaad, bedek skande my aangesig.
9Vreemd het ek vir my broers geword en 'n onbekende vir die seuns van my moeder.
10Want die ywer vir u huis het my verteer, en die smaadhede van die wat U smaad, het op my geval.
11Wat my aangaan, my siel het geween met vas; maar dit het smaadhede vir my geword.
12Ek het ook 'n rougewaad my kleding gemaak en vir hulle 'n spreekwoord geword.
13Die wat in die poort sit, praat van my — ook die spotlied van die wat sterk drank drink.
14Maar ek — my gebed is tot U, o Here: in die tyd van genade, o God, verhoor my deur die grootheid van u goedertierenheid, deur die trou van u heil!
15Red my uit die modder en laat my nie sink nie; laat my gered word van my haters en uit waterdieptes.
16Laat die waterstroom nie oor my loop en die diepte my nie verslind nie, en laat die put sy mond bo my nie toesluit nie!
17Verhoor my, o Here, want u goedertierenheid is goed; wend U tot my na die grootheid van u barmhartighede.
18En verberg u aangesig nie vir u kneg nie; want ek is benoud. Verhoor my dan gou!
19Kom nader na my siel, verlos dit; bevry my om my vyande ontwil.
20Ú ken my smaad en my beskaming en my skande; al my teëstanders is voor U.
21Die smaad breek my hart, en ek is verswak; ja, ek het gewag op medelyde, maar verniet; en op vertroosters, maar het hulle nie gevind nie.
22En hulle het aan my gal gegee as my spys, en vir my dors het hulle my asyn laat drink.
23Laat hul tafel voor hulle 'n vangnet wees en vir hulle wat sorgeloos is, 'n strik.
24Laat hulle oë duister word, sodat hulle nie sien nie; en maak dat hulle heupe altyddeur wankel.
25Stort oor hulle u grimmigheid uit, en laat u toorngloed hulle inhaal.
26Laat hulle laer woes word, laat in hulle tente geen bewoner wees nie.
27Want hulle vervolg hom wat deur U swaar getref is, en vertel van die smart van u gewondes.
28Voeg skuld by hulle skuld, en laat hulle nie in u geregtigheid kom nie.
29Laat hulle uitgedelg word uit die boek van die lewe en nie saam met die regverdiges opgeskrywe word nie.
30Maar ek is ellendig en in pyn: laat u hulp, o God, my beskerm!
31Ek wil die Naam van God prys met 'n lied en Hom groot maak met danksegging;
32en dit sal die Here welgevalliger wees as beeste, as stiere wat horings en gesplitste kloue het.
33As die ootmoediges dit sien, sal hulle bly wees; julle wat na God soek, laat julle hart lewe!
34Want die Here luister na die behoeftiges en verag sy gevangenes nie.
35Laat hemel en aarde Hom prys, die see en alles wat daarin roer.
36Want God sal Sion verlos en die stede van Juda bou; en daar sal hulle woon en dit besit.
37En die nageslag van sy knegte sal dit beërwe, en die liefhebbers van sy Naam sal daarin woon.