PSALM 60
Gebed en vertroue ná 'n neerlaag.
1VIR die musiekleier; op die wysie van: „Die Lelie van die Getuienis.” 'n Gedig van Dawid, om te onderrig.
2Toe hy oorlog gevoer het teen die Arameërs van Mesopotámië en die Arameërs van Soba, en Joab teruggekom en die Edomiete verslaan het in die Soutdal, twaalfduisend.
3o God, U het ons verstoot, ons vanmekaar geskeur; U was toornig; herstel ons!
4U het die land laat bewe, dit gekloof; genees sy breuke, want dit wankel!
5U het u volk harde dinge laat sien; U het ons bedwelmende wyn laat drink.
6U het aan die wat u vrees, 'n banier gegee, om te vlug vir die boog! Sela.
7Sodat u bemindes gered mag word; verlos deur u regterhand en verhoor ons!
8God het gespreek in sy heiligdom: Ek wil jubel, Ek wil Sigem verdeel en die dal van Sukkot afmeet.
9Gílead is myne en Manasse is myne, en Efraim is die beskutting van my hoof; Juda is my veldheerstaf.
10Moab is my waskom; op Edom werp Ek my skoen; jubel oor My, o Filistéa!
11Wie sal my bring in die versterkte stad? Wie kan my lei tot in Edom?
12Het Ú, o God, ons nie verwerp nie? En U trek nie uit, o God, saam met ons leërs nie.
13Verleen ons hulp teen die vyand, want die mens se hulp is ydelheid.
14In God sal ons kragtige dade doen, en Hy self sal ons vyande vertrap.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2012. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling met Deuterokanonieke Boeke
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953, 1965. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2015. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.