PSALM 143
Dawid bid om gou verlos te word van sy vyande.
1'n PSALM van Dawid.
o Here, hoor my gebed; luister tog na my smekinge; verhoor my in u trou, in u geregtigheid.
2En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie.
3Want die vyand vervolg my siel; hy vertrap my lewe teen die grond; hy laat my woon in duisternisse soos hulle wat lankal dood is.
4En my gees versmag in my, my hart verstyf in my binneste.
5Ek dink aan die dae uit die voortyd; ek peins oor al u dade; ek dink ná oor die werk van u hande.
6Ek brei my hande tot U uit; my siel dors na U soos 'n uitgedorde land. Sela.
7Verhoor my tog gou, Here: my gees beswyk! Verberg u aangesig nie vir my nie, sodat ek nie word soos hulle wat in die kuil neerdaal nie.
8Laat my u goedertierenheid in die môre hoor, want op U vertrou ek; maak my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U.
9Red my van my vyande, Here! By U skuil ek.
10Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in 'n gelyk land.
11o Here, maak my lewend om u Naam ontwil; lei my siel uit die benoudheid, in u geregtigheid.
12En vernietig my vyande in u goedertierenheid, en bring hulle almal om wat my as vyand behandel; want ek is u kneg.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2012. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling met Deuterokanonieke Boeke
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953, 1965. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2015. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.