Danklied van die verlostes.
1LOOF die Here, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!
2Dit moet die verlostes van die Here sê, wat Hy uit die nood verlos het
3en uit die lande versamel het, van die ooste en die weste, van die noorde en van die see af.
4Hulle het gedwaal in die woestyn, op woeste paaie; 'n stad om in te woon het hulle nie gevind nie.
5Honger, ook dors was hulle; hulle siel het in hulle versmag.
6Toe het hulle die Here aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle gered.
7En Hy het hulle gelei op 'n regte pad om te gaan na 'n stad om in te woon.
8Laat hulle die Here loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
9want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul.
10Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en ysters —
11omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het,
12het Hy hulle hart deur moeite verneder; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie.
13Toe het hulle die Here aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.
14Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek.
15Laat hulle die Here loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
16want Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan.
17Die wat dwase was vanweë die weg van hulle oortreding en weens hulle ongeregtighede gepynig is —
18hulle siel het 'n afsku gehad van elke soort voedsel, en hulle het tot by die poorte van die dood gekom.
19Toe het hulle die Here aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.
20Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red.
21Laat hulle die Here loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
22en laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werke vertel.
23Die wat na die see toe afdaal in skepe, wat handel drywe op die groot waters —
24húlle het die werke van die Here gesien en sy wonders in die diepte.
25Want Hy het gespreek en 'n stormwind laat opsteek wat die golwe daarvan opgesweep het.
26Hulle het opgerys na die hemel, neergedaal na die dieptes — hulle siel het vergaan van wee.
27Hulle het getuimel en gewaggel soos 'n dronk man, en al hulle wysheid is verwar.
28Toe het hulle die Here aangeroep in hul benoudheid, en uit hul angste het Hy hulle uitgelei.
29Hy het die storm 'n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword.
30Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het, en Hy het hulle gelei na die hawe van hul begeerte.
31Laat hulle die Here loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders.
32En laat hulle Hom verhoog in die vergadering van die volk en Hom roem in die kring van die oudstes.
33Hy het riviere 'n woestyn gemaak en waterfonteine 'n dorsland,
34vrugbare land 'n brak aarde, oor die boosheid van die wat daarin woon.
35Hy het die woestyn 'n waterplas gemaak en die dor land waterfonteine;
36en Hy het hongeriges daar laat bly, en hulle het 'n stad gestig om in te woon.
37En hulle het lande gesaai en wingerde geplant wat vrugte as opbrings verskaf het.
38En Hy het hulle geseën, sodat hulle sterk vermenigvuldig het, en hulle vee het Hy nie min gemaak nie.
39Toe het hulle min geword en weggesink deur die druk van onheil en kommer —
40Hy wat veragting uitstort oor edeles en hulle laat dwaal in 'n woeste wêreld, sonder pad —
41Hy het die behoeftige beskerm teen verdrukking en die geslagte soos kuddes gemaak.
42Die opregtes sien dit en is bly, maar alle ongeregtigheid hou sy mond toe.
43Wie wys is, laat hy op hierdie dinge ag gee, en laat hulle let op die goedertierenhede van die Here.