Inleiding.
1DIE spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel,
2om wysheid en tug te ken, om woorde van insig te verstaan,
3om aan te neem tug wat verstandig maak, geregtigheid en reg en regverdigheid;
4om aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg;
5laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry,
6om 'n spreuk en beeldspraak te verstaan, die woorde van die wyse manne en hulle raaisels.
Standvastigheid teen versoeking in die vrees van die Here.
7DIE vrees van die Here is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.
8My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie;
9want dit is 'n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou hals.
10My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie;
11as hulle sê: Gaan saam met ons, laat ons loer op bloed, laat ons die onskuldige voorlê sonder oorsaak,
12laat ons hulle lewendig verslind soos die doderyk en die gesondes soos die wat in die kuil neerdaal;
13allerhande kosbare goed sal ons vind, ons huise sal ons vol maak met buit;
14jy sal jou lot onder ons werp, ons sal almal een beurs hê —
15my seun, gaan nie met hulle saam op die weg nie, hou jou voet terug van hulle pad;
16want hulle voete hardloop na die kwaad en haas hulle om bloed te vergiet;
17want die net word tevergeefs uitgesprei voor die oë van allerhande voëls:
18so loer hulle op hul eie bloed, hulle lê hulleself voor.
19So gaan dit met almal wat onregverdige wins maak: dit ontneem sy besitter die lewe.
Oproep van die hoogste Wysheid aan die onkundiges.
20DIE Wysheid roep hardop daarbuite, sy verhef haar stem op die pleine,
21op die hoek van die rumoerige strate roep sy, by die ingange van die poorte, in die stad, spreek sy haar woorde:
22Hoe lank sal julle, eenvoudiges, die eenvoudigheid liefhê en die spotters lus hê om te spot en die dwase kennis haat?
23Wend julle tot my teregwysing, dan laat ek my gees vir julle uitstroom, wil ek my woorde aan julle bekend maak.
24Omdat ek geroep en julle geweier het, ek my hand uitgestrek en niemand geluister het nie,
25en julle al my raad nie opgevolg en van my teregwysing nie wou geweet het nie,
26daarom sal ek ook lag by julle ondergang, ek sal spot as julle verskrikking kom;
27as julle verskrikking kom soos 'n onweer, en julle ondergang soos 'n stormwind aankom, as benoudheid en angs julle oorval.
28Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie.
29Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die Here nie verkies het nie,
30van my raad nie wou weet nie, al my teregwysinge verag het,
31daarom sal hulle eet van die vrug van hulle wandel en versadig word van hulle planne.
32Want hulle eie afkerigheid maak die eenvoudiges dood, en hulle eie sorgeloosheid rig die dwase te gronde;
33maar die wat na my luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil.