1TOE Bíleam sien dat dit goed was in die oë van die Here om Israel te seën, het hy hom nie soos die vorige kere tot towery gewend nie, maar sy gesig na die woestyn gedraai.
2Toe Bíleam sy oë opslaan en Israel sien soos hy volgens sy stamme in die laer staan, het die Gees van God op hom gekom.
3En hy het sy spreuk aangehef en gesê: Bíleam, die seun van Beor, spreek, en die man met geopende oog spreek.
4Die hoorder van die woorde van God spreek, hy wat die gesigte van die Almagtige sien, wat neerval en geopende oë het.
5Hoe mooi is jou tente, o Jakob, jou wonings, o Israel!
6Soos dale met waterlope wat hulle ver uitstrek, soos tuine by 'n rivier, soos alewees wat die Here geplant het, soos seders by die water.
7Water vloei uit sy emmers, en sy saad is by baie waters. En laat sy koning hoër wees as Agag, en sy koninkryk hom verhef!
8God wat hom uit Egipte uitgelei het, is vir hom soos die horings van 'n buffel; hy sal nasies, sy vyande, verteer en hulle gebeente stukkend breek en met sy pyle verbrysel.
9Hy buig hom, hy gaan lê soos 'n leeu en soos 'n leeuin: wie sal hom opjaag? Geseënd is hulle wat jou seën, en vervloek is hulle wat jou vervloek!
10Toe het Balak baie kwaad geword vir Bíleam en sy hande saamgeslaan, en Balak het aan Bíleam gesê: Ek het jou laat roep om my vyande te vloek, en kyk, jy het nou al drie maal net geseën!
11Trek dan nou gou na jou woonplek! Ek het gesê dat ek jou hoog sal vereer; maar kyk, die Here het jou van verering teruggehou.
12Toe het Bíleam vir Balak gesê: Het ek nie alreeds met jou boodskappers wat jy na my gestuur het, gespreek en gesê nie:
13Al gee Balak my sy huis vol silwer en goud, ek kan die bevel van die Here nie oortree om goed of kwaad uit my eie hart te doen nie; wat die Here spreek, dit sal ek spreek.
14En nou, kyk, ek gaan na my volk toe. Kom, ek sal jou inligting gee, wat hierdie volk jou volk sal aandoen aan die einde van die dae.
15Toe het hy sy spreuk aangehef en gesê: Bíleam, die seun van Beor, spreek, en die man met geopende oog spreek.
16Die hoorder van die woorde van God spreek, en hy wat die wetenskap van die Allerhoogste ken, wat die gesigte van die Almagtige sien wat neerval en geopende oë het.
17Ek sien hom, maar nie nou nie, ek aanskou hom, maar nie naby nie: 'n ster kom te voorskyn uit Jakob, en 'n septer kom uit Israel op, en hy verbrysel die slape van die hoof van Moab en werp al die oorlogsugtiges omver.
18Ook sal Edom 'n besitting wees; en Seïr, sy vyande, sal 'n besitting wees, maar Israel neem toe in krag.
19En laat daar een uit Jakob heers en die vrygeraaktes uit die stede vernietig.
20Toe hy Ámalek sien, het hy sy spreuk aangehef en gesê: Ámalek is die eersteling van die heidene, maar sy einde is ondergang.
21Toe hy die Keniete sien, het hy sy spreuk aangehef en gesê: Jou woonplek is vas, en jou nes is gebou op die rots.
22Ewenwel sal Kain tot verwoesting wees. Hoe lank nog? Assur sal jou as gevangene wegvoer.
23Verder het hy sy spreuk aangehef en gesê: Wee, wie sal lewe as God dít beskik?
24En skepe kom van die kant van die Kittiërs af, en hulle verneder Assur en hulle verneder Heber; en hy is ook tot ondergang bestem.
25Toe het Bíleam hom klaargemaak en weggetrek en na sy woonplek teruggekeer. En Balak het ook sy koers gegaan.