Korag, Datan en Abíram maak oproer teen Moses en Aäron.
1EN Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, saam met Datan en Abíram, seuns van Elíab, en On, die seun van Pelet, seuns van Ruben, het manne geneem,
2en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met tweehonderd-en-vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam.
3En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die Here is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die Here?
4Toe Moses dit hoor, het hy op sy aangesig geval;
5en hy het met Korag en sy hele bende gespreek en gesê: Môre vroeg, dan sal die Here bekend maak wie Hom toebehoort en wie die heilige is, en wie Hy na Hom laat nader kom: wie Hy uitkies, sal Hy na Hom laat nader kom.
6Doen dit: Neem vir julle vuurpanne, Korag en sy hele bende,
7en gooi daar môre vuur in en lê daar reukwerk op voor die aangesig van die Here; dan sal die man wat die Here uitkies, die heilige wees. Dit is nou genoeg, kinders van Levi!
8Verder het Moses vir Korag gesê: Luister tog, kinders van Levi!
9Is dit julle nie genoeg dat die God van Israel julle uit die vergadering van Israel afgeskei het om julle na Hom te laat nader kom, om die dienswerk van die Here se tabernakel te verrig en te staan voor die vergadering om hulle te dien nie,
10en Hy jou laat nader kom het en al jou broers, die kinders van Levi, saam met jou — dat julle nou ook die priesteramp begeer?
11Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die Here vergader; want Aäron, wat is hy, dat julle teen hom murmureer?
12En Moses het gestuur om Datan en Abíram, die seuns van Elíab, te laat roep; maar hulle het gesê: Ons sal nie opkom nie.
13Is dit nie genoeg dat jy ons uit 'n land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn om te bring, dat jy ook gedurig oor ons die baas wil speel nie?
14Ook het jy ons nie gebring in 'n land wat oorloop van melk en heuning en aan ons geen lande en wingerde as erfdeel gegee nie. Wil jy die oë van hierdie manne uitgrawe? Ons sal nie opkom nie.
15Toe het Moses baie kwaad geword, en hy het aan die Here gesê: Sien hulle offer nie aan nie. Ek het nie een esel van hulle geneem en nie een van hulle kwaad aangedoen nie.
16Verder het Moses vir Korag gesê: Jy en jou hele bende, sorg dat julle môre voor die aangesig van die Here is, jy en hulle en Aäron.
17En neem julle elkeen sy vuurpan en gooi daar reukwerk op, en bring voor die aangesig van die Here elkeen sy vuurpan, tweehonderd-en-vyftig vuurpanne, ook jy en Aäron elkeen sy vuurpan.
18Toe het hulle elkeen sy vuurpan geneem en daar vuur op gegooi en reukwerk op gelê; en hulle het gaan staan by die ingang van die tent van samekoms, ook Moses en Aäron.
19En Korag het die hele vergadering teen hulle bymekaar laat kom by die ingang van die tent van samekoms. Toe verskyn die heerlikheid van die Here aan die hele vergadering.
20En die Here het met Moses en Aäron gespreek en gesê:
21Skei julle af van hierdie vergadering, en Ek sal hulle in 'n oomblik verteer.
22Maar hulle het op hul aangesig geval en gesê: o God, God van die geeste van alle vlees! Sal een man sondig en U op die hele vergadering toornig word?
23En die Here het met Moses gespreek en gesê:
24Spreek met die vergadering en sê: Maak dat julle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abíram!
25Toe het Moses opgestaan en na Datan en Abíram gegaan, en die oudstes van Israel het agter hom aan gegaan.
26Daarop het hy die vergadering toegespreek en gesê: Verwyder julle tog van die tente van hierdie goddelose manne en raak nie aan iets wat aan hulle behoort nie, dat julle nie weens al hulle sondes omkom nie.
27En hulle het gemaak dat hulle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abíram; maar Datan en Abíram het uitgekom en gaan staan by die deur van hulle tente saam met hulle vroue en seuns en kindertjies.
28Toe sê Moses: Hieraan sal julle weet dat die Here my gestuur het om al hierdie werke te doen, dat hulle nie uit my eie hart is nie:
29as hierdie mense sterwe soos alle mense sterwe en met die besoeking van alle mense besoek word, dan het die Here my nie gestuur nie.
30Maar as die Here iets nuuts skep en die grond sy mond oopmaak en hulle verslind met alles wat aan hulle behoort, en hulle lewendig na die doderyk afdaal, dan sal julle weet dat hierdie manne die Here verag het.
31En toe hy al hierdie woorde klaar gespreek het, skeur die grond wat onder hulle was,
32en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind saam met hul huisgesinne en al die mense wat aan Korag behoort het en al die goed.
33So het hulle dan met alles wat hulle s'n was, lewendig na die doderyk afgedaal; en die aarde het hulle oordek, en hulle het omgekom uit die vergadering.
34En die hele Israel wat rondom hulle was, het gevlug vir hulle geroep; want hulle het gesê: Dalk verslind die aarde ons!
35Toe het 'n vuur van die Here uitgegaan en die tweehonderd-en-vyftig man verteer wat die reukwerk gebring het.
36En die Here het met Moses gespreek en gesê:
37Sê aan Eleásar, die seun van die priester Aäron, dat hy die vuurpanne uit die brand moet wegneem en die vuur ver weg moet strooi; want hulle is heilig —
38naamlik die vuurpanne van die wat gesondig het ten koste van hulle lewe; en daarvan moet dun plate geslaan word as 'n oortreksel vir die altaar. Want hulle het dié voor die aangesig van die Here gebring — daarom is hulle heilig; en hulle sal vir die kinders van Israel 'n teken wees.
39Toe het die priester Eleásar die kopervuurpanne geneem wat die mense wat verbrand is, gebring het, en hulle het dit plat geslaan as 'n oortreksel vir die altaar —
40'n aandenking vir die kinders van Israel, sodat 'n onbevoegde wat nie uit die nageslag van Aäron is nie, nie sal nader kom om reukwerk voor die aangesig van die Here aan die brand te steek nie; sodat hy nie word soos Korag en sy bende nie, soos die Here aan hom deur die diens van Moses gesê het.
41Maar die volgende dag het die hele vergadering van die kinders van Israel teen Moses en Aäron gemurmureer en gesê: Júlle het die volk van die Here gedood.
42En terwyl die vergadering teen Moses en Aäron bymekaarkom, het hulle hul na die tent van samekoms gedraai, en meteens het die wolk dit oordek en die heerlikheid van die Here het verskyn.
43En toe Moses en Aäron tot voor die tent van samekoms kom,
44het die Here met Moses gespreek en gesê:
45Trek julle terug uit hierdie vergadering, dat Ek hulle in 'n oomblik kan verteer. Toe val hulle op hul aangesig,
46en Moses sê vir Aäron: Neem die vuurpan en gooi vuur van die altaar daarin en lê reukwerk daarop, en bring dit gou na die vergadering en doen versoening vir hulle; want die toorn het van die Here se aangesig uitgegaan, die plaag het begin!
47Toe neem Aäron dit soos Moses gespreek het en hardloop onder die vergadering in, en kyk, die plaag het al onder die volk begin! En hy het die reukwerk daarop gelê en versoening gedoen vir die volk.
48En terwyl hy tussen die dooies en die lewendes staan, het die plaag opgehou.
49En die wat deur die plaag gesterf het, was veertienduisend-sewehonderd, buiten die wat gesterf het om Korag se ontwil.
50Daarop gaan Aäron na Moses terug by die ingang van die tent van samekoms; en die plaag is gestuit.