Die volk hou 'n vas- en biddag.
1EN op die vier-en-twintigste dag van hierdie maand het die kinders van Israel vergader en gevas in rouklere en met grond op hulle hoof.
2En die afstammelinge van Israel het hulle afgesonder van al die uitlanders, en hulle het gaan staan en belydenis gedoen van hulle sondes en die ongeregtighede van hulle vaders.
3En hulle het van hulle plek opgestaan, en gedurende 'n vierde deel van die dag gelees uit die wetboek van die Here hulle God, en gedurende 'n vierde deel belydenis gedoen en die Here hulle God aanbid.
4En op die verhoog van die Leviete het Jésua en Bani, Kádmiël, Sebánja, Bunni, Serébja, Bani, Kenáni opgestaan en met 'n groot stem die Here hulle God aangeroep.
5En die Leviete Jésua en Kádmiël, Bani, Hasábneja, Serébja, Hodía, Sebánja, Petágja het gesê: Staan op, loof die Here julle God van ewigheid tot in ewigheid! En laat hulle u heerlike Naam loof wat bo alle lof en prys verhewe is!
6U is alleen die Here, Ú het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërskare, gemaak, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat daarin is, en U hou dit alles in die lewe, en die leër van die hemel buig hulle voor U neer.
7U is die Here, die God wat Abram uitverkies het en hom uit Ur van die Chaldeërs uitgelei het en sy naam tot Abraham gemaak het.
8En U het sy hart getrou bevind voor u aangesig, en U het met hom die verbond gesluit om die land te gee van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete en Feresiete en Jebusiete en Girgasiete, om dit aan sy nageslag te gee; en U het u woorde vervul, want U is regverdig.
9En U het die ellende van ons vaders in Egipte aangesien en hulle geroep by die Skelfsee gehoor,
10en U het tekens en wonders gedoen aan Farao en aan al sy dienaars en aan die hele volk van sy land; want U het geweet dat hulle vermetel teen hulle gehandel het, en U het vir U 'n Naam gemaak soos dit vandag is.
11En die see het U voor hulle geklowe, sodat hulle op droë grond dwarsdeur die see getrek het; maar hulle vervolgers het U in die kolke gewerp soos 'n klip in sterk waters.
12En U het hulle gelei met 'n wolkkolom bedags en met 'n vuurkolom snags om die pad vir hulle te verlig waar hulle langs moes trek.
13En op die berg Sinai het U neergedaal en met hulle gespreek uit die hemel, en U het aan hulle regte verordeninge en betroubare wette, goeie insettinge en gebooie gegee.
14En u heilige sabbat het U aan hulle bekend gemaak, en gebooie en insettinge en 'n wet deur die diens van u kneg Moses hulle beveel.
15En U het hulle brood gegee uit die hemel vir hulle honger en water vir hulle uit die rots laat uitkom vir hulle dors, en aan hulle gesê om die land in besit te gaan neem waaromtrent U u hand opgehef het om hulle dit te gee.
16Maar hulle, naamlik ons vaders, het vermetel gehandel en hulle nek verhard en nie na u gebooie geluister nie;
17ja, hulle het geweier om te luister en nie gedink aan u wonders wat U by hulle gedoen het nie; maar hulle het hul nek verhard en in hul wederstrewigheid 'n hoof aangestel om terug te gaan na hulle slawerny. Maar U is 'n God van vergewing, genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en U het hulle nie verlaat nie.
18Selfs toe hulle 'n gegote kalf vir hulle gemaak en gesê het: Dit is jou gode wat jou uit Egipte laat optrek het! — en hulle groot, afskuwelike dinge gedoen het,
19het U in u grote barmhartigheid hulle tog nie verlaat in die woestyn nie; die wolkkolom het nie bedags van hulle gewyk om hulle op die pad te lei nie, en die vuurkolom ook nie snags om vir hulle die pad te verlig waar hulle langs moes trek nie.
20En u goeie Gees het U gegee om hulle te onderrig, en u manna het U nie van hulle mond teruggehou nie en aan hulle water gegee vir hulle dors.
21En veertig jaar lank het U hulle onderhou in die woestyn; hulle het nie gebrek gehad nie; hulle klere het nie verslyt en hulle voete nie geswel nie.
22En U het aan hulle koninkryke en volke gegee en dié volgens bepaalde grense verdeel; en hulle het die land van Sihon, ja, die land van die koning van Hesbon, en die land van Og, die koning van Basan, in besit geneem.
23En U het hulle kinders vermenigvuldig soos die sterre aan die hemel en hulle in die land ingebring waarvan U aan hulle vaders gesê het dat hulle sou ingaan om dit in besit te neem.
24En die kinders het ingegaan en die land in besit geneem, en U het die inwoners van die land, die Kanaäniete, voor hulle onderwerp en dié in hulle hand gegee, hulle konings sowel as die volke van die land, om met hulle te handel soos hulle dit goedvind.
25En hulle het versterkte stede en 'n vet land ingeneem, en huise in besit geneem vol allerhande goeie dinge, uitgekapte putte, wingerde en olyfbome en vrugtebome in menigte, en hulle het geëet en versadig en vet geword en weelderig gelewe deur u grote goedheid.
26Maar hulle het wederstrewig en opstandig geword teen U en u wet agter hulle rug gewerp; en u profete wat hulle gewaarsku het, om hulle na U terug te bring, het hulle gedood en groot, afskuwelike dinge gedoen.
27Daarom het U hulle oorgegee in die hand van hulle teëstanders, dat dié hulle in benoudheid sou bring. Maar wanneer hulle in die tyd van hulle benoudheid U aangeroep het, het Ú uit die hemel gehoor en na u grote barmhartigheid aan hulle verlossers gegee, dat dié hulle uit die hand van hul teëstanders kon verlos.
28Maar sodra hulle rus gehad het, het hulle weer kwaad gedoen voor u aangesig, en U het hulle oorgelewer in die hand van hul vyande, dat dié oor hulle sou heers; as hulle U dan weer aanroep, het U uit die hemel gehoor en hulle na u barmhartigheid baiekeer gered.
29En U het hulle gewaarsku om hulle na u wet terug te bring, maar hulle het vermetel gehandel en nie geluister na u gebooie nie, en teen u verordeninge, daarteen het hulle gesondig, waarvan geld dat 'n mens dit moet doen, dat hy daardeur kan lewe; en hulle het 'n wederstrewige skouer gegee en hulle nek verhard en nie geluister nie.
30En U was baie jare lankmoedig oor hulle, en U het hulle gewaarsku deur u Gees, deur middel van u profete; maar hulle het geen gehoor gegee nie. Daarom het U hulle oorgegee in die hand van die volke van die lande.
31Maar in u grote barmhartigheid het U hulle nie volkome vernietig en hulle nie verlaat nie, want U is 'n genadige en barmhartige God.
32Onse God, groot, magtige en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou, laat dan nou al die moeilikheid nie gering wees voor u aangesig nie wat ons, ons konings, ons owerstes en ons priesters en ons profete en ons vaders en u hele volk oorgekom het van die dae van die konings van Assur af tot vandag toe.
33Maar U is regverdig in alles wat oor ons gekom het; want U het getrou gehandel, maar ons het goddeloos gehandel;
34en ons konings, ons owerstes, ons priesters en ons vaders het u wet nie volbring en na u gebooie en u getuienisse waarmee U hulle gewaarsku het, nie geluister nie.
35En hulle het in hul koninkryk en by u groot seën wat U hulle geskenk het, en in die wye en vet land wat U aan hulle oorgegee het, U nie gedien nie en hulle nie van hul verkeerde handelinge bekeer nie.
36Ons is vandag slawe, en die land wat U aan ons vaders gegee het om die vrug en die volle seën daarvan te geniet — daarin is ons slawe.
37En dit vermeerder sy opbrings vir die konings wat U oor ons gestel het om ons sondes ontwil, en hulle heers oor ons liggame en oor ons vee na hulle willekeur, en ons is in 'n groot benoudheid.
Die volk sluit 'n verbond met God.
38MAAR op grond van dit alles sluit ons 'n vaste verbond en beskryf dit; en op die verseëlde stuk het ons owerstes, ons Leviete, ons priesters geteken.