Die vraag oor die skeibrief.
1EN toe Jesus hierdie woorde geëindig het, het Hy van Galiléa vertrek en in die gebied van Judéa oorkant die Jordaan gekom.
2En groot menigtes het Hom gevolg, en Hy het hulle daar gesond gemaak.
3Toe kom die Fariseërs na Hom om Hom te versoek, en sê vir Hom: Is dit 'n man geoorloof om oor allerhande redes van sy vrou te skei?
4En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie,
5en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees;
6sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.
7Hulle sê vir Hom: Waarom het Moses dan beveel om 'n skeibrief te gee en van haar te skei?
8Hy antwoord hulle: Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie.
9Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en 'n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.
10Sy dissipels sê vir Hom: As die saak van 'n man met 'n vrou so is, dan is dit nie wenslik om te trou nie.
11Maar Hy sê vir hulle: Almal vat hierdie woord nie, maar net dié aan wie dit gegee is.
12Want daar is persone wat onbekwaam is om te trou, wat van die moederskoot af so gebore is, en daar is persone wat deur die mense onbekwaam gemaak is, en daar is persone wat hulleself onbekwaam gemaak het ter wille van die koninkryk van die hemele. Wie dit kan vat, laat hom dit vat.
Jesus seën die kindertjies.
13TOE bring hulle kindertjies na Hom, dat Hy hulle die hande sou oplê en bid; en die dissipels het hulle bestraf.
14Maar Jesus sê: Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.
15En Hy het hulle die hande opgelê en daarvandaan vertrek.
Die ryk jongman.
16EN daar kom een na Hom en sê vir Hom: Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?
17En Hy sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.
18Hy vra Hom: Watter? En Jesus sê — dit: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie;
19eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
20Die jongman sê vir Hom: Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. Wat kom ek nog kort?
21Jesus antwoord hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.
22Maar toe die jongman dié woord hoor, het hy bedroef weggegaan; want hy het baie besittings gehad.
23En Jesus sê vir sy dissipels: Voorwaar Ek sê vir julle dat 'n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan.
24En verder sê Ek vir julle, dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.
25Toe sy dissipels dit hoor, was hulle baie verslae en sê: Wie kan dan gered word?
26Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.
27Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees?
28En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel.
29En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe.
30Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.