Gelykenisse van die afgedwaalde skaap en die verlore penning.
1EN al die tollenaars en sondaars het die gewoonte gehad om na Hom te kom en na Hom te luister.
2En die Fariseërs en die skrifgeleerdes het baie gemurmureer en gesê: Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle.
3Toe vertel Hy aan hulle hierdie gelykenis en sê:
4Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor, laat nie die negen-en-negentig in die woestyn staan en gaan agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie?
5En as hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers.
6En as hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was.
7Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor negen-en-negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.
8Of watter vrou wat tien pennings het, as sy een penning verloor, steek nie 'n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?
9En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: Wees saam met my bly, want ek het die penning gekry wat ek verloor het.
10So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.
Gelykenis van die verlore seun.
11HY het ook gesê: 'n Man het twee seuns gehad.
12En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom. En hy het die goed tussen hulle verdeel.
13En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na 'n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe.
14En toe hy alles deurgebring het, kom daar 'n swaar hongersnood in daardie land, en hy het begin gebrek ly.
15Toe het hy hom by een van die burgers van daardie land gaan voeg. En dié het hom in sy veld gestuur om varke op te pas.
16En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie.
17Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger!
18Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u,
19en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge.
20En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen.
21En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.
22Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee 'n ring vir sy hand en skoene vir sy voete.
23En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees.
24Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.
25En sy oudste seun was in die veld, en terwyl hy al nader na die huis kom, hoor hy musiek en beurtsange.
26En hy roep een van die diensknegte na hom toe en vra wat dit beteken.
27Dié sê toe vir hom: U broer het gekom, en u vader het die vetgemaakte kalf geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het.
28En hy het kwaad geword en wou nie binnegaan nie. Sy vader gaan toe uit en smeek hom.
29Maar hy antwoord en sê vir sy vader: Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit 'n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie.
30Maar toe hierdie seun van u kom, wat u goed met hoere deurgebring het, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag.
31Toe sê hy vir hom: Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue.
32Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind.