Die Rubeniete, die Gadiete en die halwe stam van Manasse vertrek na hulle stede toe.
1TOE het Josua die Rubeniete en die Gadiete en die halwe stam van Manasse laat roep
2en aan hulle gesê: Julle het alles onderhou wat Moses, die kneg van die Here, julle beveel het, en julle het na my geluister in alles wat ek julle beveel het.
3Julle het jul broers nie in die steek gelaat nie — dit is nou baie dae al tot vandag toe — en het die ordening van die gebod van die Here julle God onderhou.
4Maar nou het die Here julle God jul broers rus gegee, soos Hy hulle beloof het; draai dan nou om en gaan na julle tente, na die land van julle besitting wat Moses, die kneg van die Here, julle oorkant die Jordaan gegee het.
5Neem net noukeurig in ag die onderhouding van die gebod en die wet wat Moses, die kneg van die Here, julle beveel het, om die Here julle God lief te hê en in al sy weë te wandel en sy gebooie te onderhou en Hom aan te hang en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel.
6So het Josua hulle dan geseën en hulle laat gaan; en hulle het getrek na hul tente toe.
7Maar aan die een helfte van die stam van Manasse het Moses in Basan 'n erfdeel gegee, en aan die ander helfte daarvan het Josua 'n deel gegee saam met hulle broers, duskant die Jordaan in die weste. En toe Josua hulle laat gaan het na hul tente, het hy hulle ook geseën
8en met hulle gespreek en gesê: Gaan terug na julle tente met groot rykdomme en 'n menigte van vee, met silwer en goud en koper en yster en baie klere; deel die buit van julle vyande saam met julle broers.
9So het die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse dan teruggegaan, en hulle het weggetrek van die kinders van Israel af, uit Silo wat in die land Kanaän lê, om te gaan na die land Gílead, na die land van hulle besitting waarin hulle, op bevel van die Here deur die diens van Moses, vaste besittings verkry het.
10Toe hulle kom by die klipkrale van die Jordaan, wat in die land Kanaän lê, het die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse daar 'n altaar gebou by die Jordaan, 'n altaar groot van aansien.
11Maar toe die kinders van Israel hoor sê: Kyk, die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse het die altaar gebou teenoor die land Kanaän, by die klipkrale van die Jordaan, aan die kant van die kinders van Israel —
12toe die kinders van Israel dit hoor, het die hele vergadering van die kinders van Israel bymekaargekom in Silo om op kommando teen hulle op te trek.
13En die kinders van Israel het Pínehas, die seun van Eleásar, die priester, na die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse, na die land Gílead gestuur,
14en tien owerstes saam met hom, vir elke familie van al die stamme van Israel een owerste; en hulle was elkeen 'n familiehoof van die stamme van Israel.
15Toe hulle by die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse in die land Gílead kom, het hulle met hulle gespreek en gesê:
16So sê die hele vergadering van die Here: Wat is dit vir 'n troubreuk wat julle begaan teen die God van Israel, dat julle vandag van die Here afvallig word deur vir julle 'n altaar te bou, deur vandag teen die Here in opstand te kom?
17Is die ongeregtigheid in verband met Peor vir ons nog nie genoeg nie, waarvan ons tot vandag toe ons nie gereinig het nie — toe die plaag oor die vergadering van die Here gekom het?
18En julle wil vandag van die Here afvallig word! As julle dan vandag in opstand kom teen die Here, sal Hy môre toornig word op die hele vergadering van Israel.
19As die land van julle besitting egter onrein is, trek dan oor na die eie land van die Here waar die tabernakel van die Here gevestig is, en verkry onder ons vaste besittings; maar kom nie teen die Here in opstand nie, en moenie teen ons opstandig wees deur vir julle 'n altaar te bou naas die altaar van die Here onse God nie.
20Toe Agan, die seun van Serag, hom vergryp het aan die bangoed, het daar nie 'n toorn oor die hele vergadering van Israel gekom nie? En hy self het nie alleen weens sy ongeregtigheid omgekom nie.
21Daarop het die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse geantwoord en aan die stamhoofde van Israel gesê:
22Die God van die gode, die Here, die God van die gode, die Here, Hy weet dit; en ook Israel mag dit weet: As dit deur opstandigheid of deur troubreuk teen die Here is — verlos ons nie vandag nie, Here! —
23dat ons 'n altaar vir ons gebou het om van die Here afvallig te word; en as dit is om daarop 'n brandoffer en spysoffer te bring of om daarop dankoffers te berei, dan mag die Here self dit wreek.
24Maar waarlik, ons het dit uit 'n sekere besorgdheid gedoen en gesê: Later sou julle kinders met ons kinders kan spreek en sê: Wat het julle te doen met die Here, die God van Israel?
25Die Here het tog tussen ons en julle, kinders van Ruben en kinders van Gad, die Jordaan as grens gestel; julle het geen deel aan die Here nie; so sal julle kinders dan maak dat ons kinders die Here nie meer vrees nie.
26Daarom het ons gesê: Laat ons tog dit doen en vir ons die altaar bou, nie vir brandoffer en nie vir slagoffer nie,
27maar dat dit 'n getuie kan wees tussen ons en julle en ons geslagte ná ons dat ons die diens van die Here sal waarneem voor sy aangesig met ons brandoffers en ons slagoffers en ons dankoffers, sodat julle kinders later nie aan ons kinders kan sê: Julle het geen deel aan die Here nie.
28En ons het gedink: As hulle dit later aan ons en ons geslagte sou sê, sal ons sê: Kyk na die boustyl van die altaar van die Here wat ons vaders gemaak het, nie vir brandoffer en nie vir slagoffer nie, maar 'n getuie is hy tussen ons en julle.
29Dit is ver van ons dat ons opstandig sou word teen die Here en vandag afvallig sou word van die Here deur 'n altaar te bou vir brandoffer, spysoffer en slagoffer naas die altaar van die Here onse God wat voor sy tabernakel staan.
30Toe Pínehas, die priester, en die owerstes van die vergadering, die stamhoofde van Israel wat saam met hom was, die woorde hoor wat die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die kinders van Manasse gespreek het, was dit goed in hulle oë.
31Toe sê Pínehas, die seun van Eleásar, die priester, aan die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die kinders van Manasse: Vandag weet ons dat die Here in ons midde is, omdat julle hierdie troubreuk teen die Here nie begaan het nie; nou het julle die kinders van Israel gered uit die hand van die Here.
32Daarop het Pínehas, die seun van Eleásar, die priester, en die ouerstes teruggekeer van die kinders van Ruben en die kinders van Gad, uit die land Gílead na die land Kanaän, na die kinders van Israel, en hulle 'n antwoord gebring.
33En die antwoord was goed in die oë van die kinders van Israel, en die kinders van Israel het God geprys; en hulle het daar nie meer van gespreek om teen hulle op kommando te trek, om die land waarin die kinders van Ruben en die kinders van Gad gewoon het, te verwoes nie.
34En die kinders van Ruben en die kinders van Gad het die altaar genoem: Hy is getuie tussen ons dat die Here God is.