Josua stuur twee manne uit om Kanaän en Jérigo te verken.
1DAAROP het Josua, die seun van Nun, uit Sittim in die geheim twee manne as verkenners uitgestuur en gesê: Gaan bekyk die land en Jérigo. Hulle het toe gegaan en in die huis van 'n hoer, met die naam van Ragab, ingekom; en hulle het daar gaan slaap.
2En toe daar aan die koning van Jérigo gesê is: Kyk, manne uit die kinders van Israel het vannag hierheen gekom om die land te verken,
3stuur die koning van Jérigo na Ragab om te sê: Lewer die manne uit wat na jou gekom het, wat in jou huis ingegaan het; want hulle het gekom om die hele land te verken.
4Maar die vrou het die twee manne geneem en hulle weggesteek; en sy het gesê: Seker, die manne het na my gekom; maar ek het nie geweet waar hulle vandaan was nie.
5En toe die poort met donker gesluit moes word, het die manne uitgegaan; ek weet nie waar die manne heengegaan het nie; jaag hulle gou agterna, want julle sal hulle inhaal.
6Maar sy het hulle op die dak laat klim en hulle weggesteek onder die vlasstoppels wat op haar dak oopgegooi was.
7Die manne het hulle toe agternagejaag in die rigting van die Jordaan, na die driwwe; en die poort het hulle gesluit nadat hulle vervolgers uitgegaan het.
8En voordat hulle gaan slaap het, het sy op die dak geklim na hulle toe
9en aan die manne gesê: Ek weet dat die Here die land aan julle gegee het en dat die skrik vir julle op ons geval het en dat al die inwoners van die land vir julle bewe;
10want ons het gehoor dat die Here die water van die Skelfsee voor julle by jul uittog uit Egipte laat opdroog het en wat julle die twee konings van die Amoriete, Sihon en Og, oorkant die Jordaan aangedoen het, dat julle hulle met die banvloek getref het.
11Toe ons dit hoor, het ons hart gesmelt, sodat daar by niemand enige moed meer oorgebly het teenoor julle nie; want die Here julle God, Hy is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder.
12Sweer dan nou tog vir my by die Here dat, terwyl ek aan julle 'n guns bewys het, julle ook aan my familie 'n guns sal bewys; en gee my 'n betroubare teken
13dat julle die lewe van my vader en my moeder en my broers en my susters en almal wat aan hulle behoort, sal spaar en ons siele sal red van die dood.
14Toe sê die manne vir haar: Mag ons siel in julle plek sterwe! As julle nie hierdie saak van ons bekend maak nie, dan sal ons, as die Here ons die land gee, aan jou guns en trou bewys.
15Daarop het sy hulle met 'n lyn deur die venster laat afsak; want haar huis was in die stadsmuur ingebou, sodat sy aan die muur gewoon het;
16en sy het vir hulle gesê: Loop die gebergte in, dat die vervolgers julle nie aantref nie, en steek julle daar drie dae lank weg totdat die vervolgers teruggekom het; daarna kan julle dan verder gaan.
17Toe sê die manne vir haar: Ons sal ontslae wees van hierdie eed aan jou wat jy ons laat sweer het —
18kyk, as ons die land inkom, moet jy hierdie gedraaide rooi lyn waarmee jy ons laat afsak het, aan die venster vasbind, en jy moet jou vader en jou moeder en jou broers en jou hele familie by jou in die huis versamel.
19Elkeen wat dan uit die deure van jou huis buitentoe gaan, dié se bloed sal op sy hoof wees, en ons onskuldig; maar elkeen wat by jou in die huis sal wees, dié se bloed sal op ons hoof wees, ingeval 'n hand teen hom is.
20Maar as jy hierdie saak van ons bekend maak, sal ons ontslae wees van die eed aan jou wat jy ons laat sweer het.
21Daarop sê sy: Soos julle sê, is dit goed; en sy het hulle laat gaan, en hulle het weggegaan; en sy het die rooi lyn aan die venster vasgebind.
22Hulle het toe weggegaan en in die gebergte gekom en daar drie dae lank gebly totdat die vervolgers teruggekeer het; want die vervolgers het op die hele pad gesoek maar niks gekry nie.
23Die twee manne het toe weer van die gebergte afgeklim en deurgegaan en by Josua, die seun van Nun, gekom en hom alles vertel wat hulle ondervind het.
24Verder het hulle vir Josua gesê: Sekerlik gee die Here die hele land in ons hand, ja, al die inwoners van die land bewe selfs vir ons.