Job verwyt sy vriende dat hulle hom as skuldige bly aanspreek.
1MAAR Job het geantwoord en gesê:
2Hoe lank sal julle my siel kwel en my met woorde verbrysel?
3Nou tien maal al doen julle my smaadheid aan, mishandel julle my sonder om julle te skaam.
4En het ek ook werklik my misgaan, dan bly my fout by my.
Dit is nie sy skuld dat hy ly nie, maar God behandel hom onregverdig, sê Job.
5AS julle jul werklik teen my wil groot maak en teen my my smaadheid wil bewys,
6weet dan dat Gód my onregverdig behandel het en met sy net my rondom ingesluit het.
7As ek roep: Geweld! dan word ek nie verhoor nie; ek roep om hulp, maar daar is geen reg nie.
8Hy het my weg toegemuur, sodat ek nie verby kan nie; en oor my paaie het Hy duisternis gesprei.
9My eer het Hy van my afgetrek en die kroon van my hoof weggeneem.
10Hy werp my aan alle kante omver, en — daar gaan ek! En Hy het my verwagting uitgeruk soos 'n boom.
11Ook het Hy sy toorn teen my laat ontvlam en my beskou as een van sy vyande.
12As een man kom sy skare aan en baan 'n pad vir hulle teen my, en hulle slaan die laer op rondom my tent.
God het hom 'n voorwerp van veragting en afsku gemaak.
13MY broers het Hy ver van my verwyder, en my bekendes het vir my heeltemal vreemd geword.
14My nabestaandes ontbreek, en my vertroudes het my vergeet.
15My bywoners en my slavinne beskou my as 'n vreemde; 'n onbekende het ek geword in hulle oë.
16Ek roep my slaaf, maar hy antwoord nie; met my mond moet ek hom smeek.
17My asem is vir my vrou hinderlik, en my slegte reuk vir die kinders van my moeder se skoot.
18Selfs jong seuns minag my; wil ek opstaan, dan spot hulle met my.
19Al my vertroude vriende het 'n afsku van my; en die wat ek liefgehad het, het hulle teen my gekeer.
20My gebeente kleef aan my vel en aan my vlees, en ek het slegs met my tandvlees ontsnap.
21Ontferm julle oor my, ontferm julle oor my, o my vriende, want die hand van God het my getref!
22Waarom vervolg julle my, soos God, en word nie versadig van my vlees nie?
23Ag, mag my woorde tog maar opgeskrywe, mag hulle maar in 'n boek opgeteken word —
24met 'n ystergriffel en lood — vir altyd in 'n rots ingekap!
Ewenwel is God alleen sy Losser teenoor sy onbarmhartige vriende.
25MAAR ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.
26En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou;
27Hom wat ék sal aanskou my ten goede, en my oë — en geen vreemde nie — sal sien, My niere versmag van verlange in my binneste.
28As julle sê: Hoe sal ons hom vervolg, aangesien die wortel van die saak in hom gevind is! —
29vrees dan vir die swaard, want grimmigheid is een van die oortredinge wat die swaard verdien, sodat julle kan weet dat daar 'n oordeel is.