Die vermeerdering van die brode.
1DAARNA het Jesus na die oorkant van die see van Galiléa, dit is, van Tibérias, gegaan;
2en 'n groot menigte het Hom gevolg, omdat hulle sy tekens gesien het wat Hy aan die siekes doen.
3En Jesus het op die berg geklim en daar met sy dissipels gaan sit.
4En die pasga, die fees van die Jode, was naby.
5Toe Jesus dan sy oë opslaan en sien dat 'n groot menigte na Hom kom, sê Hy vir Filippus: Waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet?
6Maar Hy het dit gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self geweet wat Hy wou doen.
7Filippus antwoord Hom: Brood vir tweehonderd pennings sal nie genoeg wees vir hulle, sodat elkeen van hulle 'n stukkie kan kry nie.
8Een van sy dissipels, Andréas, Simon Petrus se broer, sê vir Hom:
9Hier is 'n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, maar wat is dit vir so baie mense?
10En Jesus sê: Laat die mense gaan sit. En daar was baie gras op dié plek. Die manne het toe gaan sit, omtrent vyfduisend in getal.
11En Jesus het die brode geneem, en nadat Hy gedank het, deel Hy dit uit aan die dissipels en die dissipels aan die wat daar sit; so ook van die vissies, soveel as hulle wou hê.
12En nadat hulle versadig was, sê Hy vir sy dissipels: Maak die brokstukke bymekaar wat oorgeskiet het, sodat niks verlore gaan nie.
13Hulle maak toe bymekaar en het twaalf mandjies gevul met brokstukke van die vyf garsbrode wat oorgeskiet het by die wat geëet het.
14Toe die mense dan die teken sien wat Jesus gedoen het, sê hulle: Hy is waarlik die profeet wat in die wêreld sou kom.
15En toe Jesus merk dat hulle wou kom en Hom met geweld neem om Hom koning te maak, het Hy weer weggegaan na die berg, Hy alleen.
Jesus loop op die see.
16EN toe dit aand geword het, het sy dissipels afgegaan na die see toe.
17En nadat hulle in die skuit geklim het, het hulle oor die see gevaar na Kapérnaüm; en dit was al donker, en Jesus het nog nie by hulle gekom nie.
18En die see was onstuimig, omdat 'n sterk wind gewaai het.
19En toe hulle omtrent drie of vier myl geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom; en hulle het bang geword.
20Maar Hy sê vir hulle: Dit is Ek, moenie vrees nie.
21Toe was hulle gewillig om Hom in die skuit te neem, en dadelik het die skuit by die land aangekom waar hulle na toe gegaan het.
Jesus die brood van die lewe vir die gelowiges.
22DIE volgende dag sien die skare wat oorkant die see gestaan het, dat daar geen ander skuit was nie, behalwe daardie een waarin sy dissipels gegaan het; en dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit gegaan het nie, maar dat sy dissipels alleen weggevaar het.
23Maar ander skuite het van Tibérias aangekom naby die plek waar hulle die brood geëet het, nadat die Here gedank het.
24Toe die skare dan sien dat Jesus nie daar was nie en sy dissipels ook nie, het hulle self ook in die skuite geklim en na Kapérnaüm gegaan om Jesus te soek.
25En toe hulle Hom oorkant die see gevind het, sê hulle vir Hom: Rabbi, wanneer het U hier gekom?
26Jesus antwoord hulle en sê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het.
27Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël.
28Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring?
29Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.
30En hulle sê vir Hom: Watter teken doen U dan, sodat ons kan sien en U glo? Wat werk U?
31Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is: Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet.
32En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel.
33Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee.
34Toe sê hulle vir Hom: Here, gee ons altyd hierdie brood.
35En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.
36Maar Ek het vir julle gesê dat julle My gesien het, en tog glo julle nie.
37Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.
38Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.
39En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag.
40En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
41Toe murmureer die Jode oor Hom, omdat Hy gesê het: Ek is die brood wat uit die hemel neergedaal het.
42En hulle sê: Is Hy nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie? Hoe sê Hy dan: Ek het uit die hemel neergedaal?
43En Jesus antwoord en sê vir hulle: Moenie onder mekaar murmureer nie.
44Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
45Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees. Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe.
46Nie dat iemand die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van God kom: Hy het die Vader gesien.
47Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe.
48Ek is die brood van die lewe.
49Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe.
50Dít is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie.
51Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.
52Die Jode het toe met mekaar gestry en gesê: Hoe kan Hy ons sy vlees gee om te eet?
53En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie.
54Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
55Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank.
56Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.
57Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe.
58Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het — nie soos julle vaders die manna geëet en gesterwe het nie; wie hierdie brood eet, sal tot in ewigheid lewe.
59Hierdie dinge het Hy gesê in die sinagoge toe Hy in Kapérnaüm onderrig gegee het.
Baie van Jesus se dissipels verlaat Hom. Belydenis van Petrus.
60EN baie van sy dissipels het gesê toe hulle dit hoor: Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?
61En Jesus het in Homself geweet dat sy dissipels hieroor murmureer, en Hy sê vir hulle: Is dit julle tot 'n aanstoot?
62Hoe dan as julle die Seun van die mens daarheen sien opvaar waar Hy tevore was?
63Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
64Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie. Want Jesus het van die begin af geweet wie hulle was wat nie glo nie, en wie hy was wat Hom sou verraai.
65En Hy sê: Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie.
66Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie.
67Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie?
68En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.
69En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God.
70Jesus antwoord hulle: Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is 'n duiwel!
71En Hy het bedoel Judas Iskáriot, die seun van Simon; want hy sou Hom verraai, hy wat een van die twaalf was.