1WEE die herders wat die skape van my weide laat omkom en hulle verstrooi, spreek die Here.
2Daarom, so sê die Here, die God van Israel, aangaande die herders wat my volk oppas: Júlle het my skape verstrooi en hulle verdrywe en hulle nie opgesoek nie. Kyk, Ek besoek oor julle die boosheid van julle handelinge, spreek die Here.
3En Ek self sal die oorblyfsel van my skape versamel uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het; en Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld, en hulle sal vrugbaar wees en vermenigvuldig.
4En Ek sal herders oor hulle verwek wat hulle sal oppas; en hulle sal nie meer bevrees of verskrik wees of vermis word nie, spreek die Here.
Die Spruit van Dawid.
5KYK, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid 'n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.
6In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.
7Daarom kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat hulle nie meer sal sê: So waar as die Here leef wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie,
8maar: So waar as die Here leef wat die geslag van die huis van Israel laat optrek en laat kom het uit die Noordland en uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het. En hulle sal woon in hulle land.
Teen die valse profete.
9WAT die profete betref — my hart is gebreek in my binneste, my hele gebeente sidder; ek is soos 'n dronk man en soos 'n man wat deur die wyn oorweldig is, vanweë die Here en sy heilige woorde.
10Want die land is vol owerspelers; want die land treur weens die vloek, die weivelde van die woestyn verdor; ja, waar hulle na strewe, is sleg, en waar hulle hul krag in soek, onreg.
11Want profeet sowel as priester is goddeloos; selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind, spreek die Here.
12Daarom sal hulle weg vir hulle wees soos glyerige plekke in die donkerheid; hulle sal neergestoot word en daarin val. Want Ek sal onheil oor hulle bring in die jaar van hulle besoeking, spreek die Here.
13Ek het wel by die profete van Samaría aanstootlike dinge gesien: hulle profeteer deur Baäl en verlei my volk Israel;
14maar by die profete van Jerusalem het Ek gesien wat afskuwelik is: hulle bedryf owerspel en gaan om met leuens, en hulle versterk die hande van die kwaaddoeners, sodat hulle hul nie bekeer elkeen van sy boosheid nie. Hulle het almal vir My geword soos Sodom, en sy inwoners soos Gomorra.
15Daarom, so sê die Here van die leërskare aangaande die profete: Kyk, Ek laat hulle wildeals eet en laat hulle gifwater drink; want van die profete van Jerusalem het goddeloosheid in die hele land uitgegaan.
16So sê die Here van die leërskare: Luister nie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie; hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die Here nie.
17Hulle sê gedurig aan my veragters: Die Here het gespreek: Julle sal vrede hê; en aan elkeen wat wandel in die verharding van sy hart, sê hulle: Geen onheil sal oor julle kom nie.
18Want wie het in die raad van die Here gestaan, dat hy sy woord sou sien en hoor? Wie het sy woord beluister en gehoor?
19Kyk, 'n storm van die Here, grimmigheid het uitgegaan, ja, 'n dwarrelstorm! Op die hoof van die goddelose mense breek dit los.
20Die toorn van die Here sal nie afgewend word nie, totdat Hy uitgevoer en tot stand gebring het die raadslae van sy hart; aan die einde van die dae sal julle dit duidelik verstaan.
21Ek het die profete nie gestuur nie, tog het hulle geloop; Ek het nie met hulle gespreek nie, tog het hulle geprofeteer.
22Maar as hulle in my raad gestaan het, moet hulle my volk my woorde laat hoor en hulle terugbring van hul verkeerde weg en van die boosheid van hul handelinge.
23Is Ek 'n God van naby, spreek die Here, en nie 'n God van ver nie?
24Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die Here. Vervul Ek nie die hemel en die aarde nie? spreek die Here.
25Ek het gehoor wat die profete sê, wat in my Naam vals profeteer met die woorde: Ek het gedroom, ek het gedroom!
26Hoe lank nog? Is dit in die hart van die profete wat leuens profeteer en profete is van die bedrieëry van hulle hart —
27is hulle daarop bedag om my volk my Naam te laat vergeet deur hulle drome wat hulle die een aan die ander vertel, soos hulle vaders my Naam vergeet het deur Baäl?
28Die profeet by wie 'n droom is, laat hom 'n droom vertel; en by wie my woord is, laat hom my woord spreek in waarheid. Wat het die strooi met die koring te doen? spreek die Here.
29Is my woord nie só, soos 'n vuur, spreek die Here, en soos 'n hamer wat 'n rots vermorsel nie?
30Daarom, kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die Here, wat my woorde steel, die een van die ander.
31Kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die Here, wat hulle eie tong gebruik en sê: Die Here spreek!
32Kyk, Ek het dit teen hulle wat leuenagtige drome profeteer, spreek die Here, en dit rondvertel en my volk verlei met hulle leuens en hulle grootpratery, terwyl Ek hulle nie gestuur en aan hulle geen bevel gegee het nie, en hulle vir hierdie volk hoegenaamd geen voordeel bring nie, spreek die Here.
33As hierdie volk of profeet of priester jou dan vra en sê: Wat het die Here gelas? — dan moet jy vir hulle sê: Júlle is die las. En Ek sal julle afwerp, spreek die Here.
34En wat betref die profeet of die priester of die volk wat sê: Die Here het gelas — oor dié man en oor sy huis sal Ek besoeking doen.
35So moet julle sê, elkeen vir sy naaste en elkeen vir sy broer: Wat het die Here geantwoord? En wat het die Here gespreek?
36Maar van: die Here het gelas — mag julle nie meer melding maak nie; want vir elkeen sal sy eie woord die las wees: dat julle verdraai die woorde van die lewende God, van die Here van die leërskare, onse God.
37So moet jy aan die profeet sê: Wat het die Here jou geantwoord? En wat het die Here gespreek?
38Maar as julle sê: Die Here het gelas — daarom, so spreek die Here: Omdat julle hierdie woord sê: Die Here het gelas — alhoewel Ek na julle gestuur het met die woorde: Julle mag nie sê: Die Here het gelas nie —
39daarom, kyk, Ek sal julle sekerlik ophef en julle, saam met die stad wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, van my aangesig af wegwerp;
40en Ek sal julle 'n ewige smaad oplê en 'n ewige skande wat nie vergeet sal word nie.