Jeremia word deur die priester Pashur geslaan en in die blok gesit.
1EN Pashur, die seun van Immer, die priester — wat hoofopsigter was in die huis van die Here — het Jeremia hierdie woorde hoor profeteer.
2Toe het Pashur die profeet Jeremia geslaan en hom in die blok gesit wat in die Boonste Poort van Benjamin was, by die huis van die Here.
3Maar die volgende dag het Pashur Jeremia uit die blok laat uithaal. Toe sê Jeremia vir hom: Die Here noem jou nie Pashur nie, maar Skrik — rondom!
4Want so spreek die Here: Kyk, Ek maak jou 'n skrik vir jouself en vir al jou vriende; en hulle sal val deur die swaard van hul vyande, terwyl jou oë dit sien, en die hele Juda sal Ek gee in die hand van die koning van Babel, wat hulle in ballingskap sal wegvoer na Babel en hulle met die swaard sal verslaan.
5Ook sal Ek die hele besitting van hierdie stad en al sy goed en al sy kosbare dinge gee, ja, al die skatte van die konings van Juda sal Ek gee in die hand van hulle vyande, en hulle sal dit buitmaak en saamneem en na Babel bring.
6En jy, Pashur, en al die inwoners van jou huis sal in gevangenskap gaan; en jy sal in Babel kom en daar sterwe en daar begrawe word, jy en al jou vriende vir wie jy vals geprofeteer het.
7Here, U het my oorgehaal, en ek het my laat oorhaal; U was te sterk vir my en het oorwin; ek was 'n belagging die hele dag, almal saam spot met my.
8Want elke keer as ek spreek, moet ek dit uitskreeu, moet ek roep: Geweld en verdrukking! — omdat die woord van die Here vir my 'n smaad en spot geword het die hele dag.
9En as ek sê: Ek sal aan Hom nie dink nie en in sy Naam nie meer spreek nie, dan word dit in my hart soos 'n brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie.
10Want ek het die skindertaal van baie gehoor — skrik rondom! — Klaag aan, en ons sal hom aanklaag! Al die mense wat met my in vrede lewe, loer op my val; hulle sê: Miskien laat hy hom verlei, dan kan ons hom oorweldig en ons wraak op hom neem.
11Maar die Here is met my soos 'n geweldige held; daarom sal my vervolgers struikel en nie oorwin nie; hulle staan diep beskaamd, omdat hulle nie geslaag het nie, 'n ewige smaad wat nie vergeet sal word nie.
12Maar, Here van die leërskare, wat die regverdige toets, wat die niere en die hart sien — laat my u wraak sien op hulle, want aan U het ek my regsaak toevertrou.
13Sing tot eer van die Here, prys die Here! Want Hy het die siel van die behoeftige uit die hand van die kwaaddoeners verlos.
14Vervloek is die dag waarop ek gebore is; laat die dag waarop my moeder my gebaar het, nie geseënd wees nie.
15Vervloek is die man wat aan my vader berig gebring en gesê het: Vir jou is 'n seun gebore — waardeur hy hom grootliks verbly het.
16Ja, laat dié man wees soos die stede wat die Here omgekeer het sonder dat dit Hom berou het; en laat hom in die môre angsgeroep hoor en op die middagtyd krygsgeskreeu,
17omdat hy my nie gedood het van die moederskoot af, sodat my moeder my graf geword het en haar skoot vir ewig swanger gebly het nie.
18Waarom het ek tog uit die moederskoot voortgekom om moeite en kommer te sien, sodat my dae in skande verdwyn?