God bestraf Israel.
1EN die woord van die Here het tot my gekom en gesê:
2Gaan en roep uit voor die ore van Jerusalem en sê: So spreek die Here: Ek onthou die geneentheid van jou jeug, die liefde van jou bruidstyd, toe jy agter My aan geloop het in die woestyn, in 'n onbesaaide land.
3Israel was vir die Here 'n heiligheid, die eerstelinge van sy opbrings; almal wat hom opeet, sal skuld op hulle laai, onheil sal oor hulle kom, spreek die Here.
4Hoor die woord van die Here, huis van Jakob, en alle geslagte van die huis van Israel!
5So sê die Here: Watter onreg het julle vaders in My gevind, dat hulle ver van My afgewyk en agter nietige afgode aan geloop het en self nietig geword het?
6En hulle het nie gesê nie: Waar is die Here wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons in die woestyn gelei het, in 'n land van wildernis en kuile, in 'n land van droogte en doodskaduwee, in 'n land waar niemand deurtrek en waar geen mens woon nie?
7En Ek het julle gebring in 'n land van tuine, om die vrugte en die goeie daarvan te eet; maar toe julle inkom, het julle my land verontreinig en my erfenis 'n gruwel gemaak.
8Die priesters het nie gesê: Waar is die Here nie? En die wat die wet handhaaf, het My nie geken nie; en die vorste het teen My oortree, en die profete het geprofeteer deur Baäl en agter dinge aan geloop wat geen voordeel bring nie.
9Daarom sal Ek nog met julle twis, spreek die Here; en met julle kindskinders sal Ek twis.
10Want gaan oor na die eilande van die Kittiërs, en kyk; en stuur na Kedar, en gee daar goed ag op; en kyk of so iets gebeur het:
11of 'n nasie sy gode verruil — wat nie eers gode is nie. Maar my volk het sy heerlikheid verruil vir wat geen voordeel bring nie.
12Verbaas julle hieroor, o hemele, en huiwer, verstyf heeltemal van skrik, spreek die Here.
13Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.
14Is Israel 'n dienskneg? Of is hy 'n bediende wat in die huis gebore is? Waarom het hy dan 'n buit geword?
15Die jong leeus het oor hom gebrul, hulle het hul stem laat hoor en van sy land 'n woesteny gemaak; sy stede is verwoes, sonder inwoner.
16Ook skeer die kinders van Nof en Tagpánhes jou die hoofskedel kaal.
17Het jou verlating van die Here jou God in die tyd toe Hy jou op die pad gelei het, jou dit nie berokken nie?
18Wat het jy dan nou te doen met die pad na Egipte, om die water van die Nyl te drink? En wat het jy te doen met die pad na Assur, om die waters van die Eufraat te drink?
19Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerighede sal jou straf; weet dan en sien dat dit verkeerd en bitter is dat jy die Here jou God verlaat het, en dat my vrees nie by jou is nie, spreek die Here, die Here van die leërskare.
20Want van ouds af het jy jou juk verbreek, jou stroppe stukkend geruk. En jy het gesê: Ek sal nie dien nie; want op elke hoë heuwel en onder elke groen boom gaan jy lê om te hoereer.
21Nogtans het Ek jou geplant as 'n edele wingerdstok, as heeltemal egte saad; maar hoe is jy vir My verander in wilde lote van 'n vreemde wingerdstok!
22Want al sou jy jou was met loog en baie seep vir jou neem, tog bly jou ongeregtigheid 'n vlek voor my aangesig, spreek die Here Here.
23Hoe kan jy sê: Ek is nie verontreinig nie; ek het nie agter die Baäls aan geloop nie? Kyk jou weg in die dal; weet wat jy gedoen het, jou vinnige jong kameelkoei wat rond hardloop!
24'n Wilde-eselin, gewend aan die woestyn, wat in haar heftige begeerte die wind opsnuiwe — haar hittigheid, wie sal dit keer? Almal wat haar soek, hoef hulle nie te vermoei nie; in haar maand sal hulle haar kry.
25Hou jou voet terug, dat dit sy skoen nie verloor nie; en jou keel, dat dit nie dors word nie. Maar jy sê: Dit is tevergeefs, nee; want ek het vreemdes lief en sal agter hulle aan loop.
26Soos 'n dief in die skande kom as hy uitgevind word, so het die huis van Israel in die skande gekom; hulle, hulle konings, hulle vorste en hulle priesters en hulle profete,
27wat vir 'n stuk hout sê: Jy is my vader; en vir 'n klip: Jy het my gebaar. Want hulle het My die rug toegekeer en nie die aangesig nie. Maar in die tyd van hulle onheil sê hulle: Staan op en verlos ons!
28Waar is dan jou gode wat jy vir jou gemaak het? Laat hulle opstaan as hulle jou kan verlos in die tyd van jou onheil; want volgens die getal van jou stede is jou gode, o Juda!
29Waarom twis julle met My? Julle almal het teen My oortree, spreek die Here.
30Tevergeefs het Ek julle kinders geslaan; hulle het geen tugtiging aangeneem nie; julle swaard het julle profete verslind soos 'n verskeurende leeu.
31o Geslag, verneem die woord van die Here! Het Ek vir Israel 'n woestyn geword of 'n land van duisternis? Waarom sê my volk dan: Ons swerf vry rond, ons sal nie meer na U toe kom nie?
32Kan 'n jonkvrou haar versiersel vergeet, 'n bruid haar pronkgordel? Maar my volk het My vergeet, dae sonder getal.
33Hoe goed kry jy jou pad om liefde te soek! Daarom het jy ook jou weë aan die slegte dinge gewend gemaak.
34Ook is aan jou some die bloed gevind van die siele van onskuldige armes; nie by 'n plek waar ingebreek is, het Ek dit gevind nie, maar by hierdie almal.
35Nogtans het jy gesê: Ek is tog onskuldig; gewis het sy toorn hom van my afgewend. Kyk, Ek sal met jou na die gereg gaan, omdat jy sê: Ek het nie gesondig nie.
36Wat loop jy so baie weg om jou pad te verander? Jy sal ook deur Egipte in die skande kom soos jy deur Assur in die skande gekom het.
37Ook daarvan sal jy uitgaan met jou hande op jou hoof; want die Here het hulle verwerp op wie jy vertrou, en jy sal met hulle geen voorspoed hê nie.