Nuwe veroweringe. Verslapping van die stamme in die verdrywing van die Kanaäniete.
1EN ná die dood van Josua het die kinders van Israel die Here geraadpleeg en gesê: Wie van ons moet eerste optrek teen die Kanaäniete om teen hulle te veg?
2En die Here het gesê: Juda moet optrek. Kyk, Ek gee die land in sy hand.
3Toe sê Juda aan sy broer Símeon: Trek saam met my op in my aandeel, dat ons die Kanaäniete kan beveg, dan sal ek ook met jou saam optrek in jou aandeel. En Símeon het saam met hom getrek;
4en toe Juda optrek, het die Here die Kanaäniete en Feresiete in hul hand gegee, sodat hulle tienduisend man van hulle by Besek verslaan het.
5En hulle het Adóni-Besek aangetref in Besek en teen hom geveg, en die Kanaäniete en Feresiete verslaan.
6En toe Adóni-Besek wegvlug, het hulle hom agternagejaag en hom gevang en sy duime en sy groottone afgekap.
7Daarop sê Adóni-Besek: Sewentig konings met afgekapte duime en groottone het onder my tafel krummels opgetel: soos ek gedoen het, so het God my vergeld. En hulle het hom na Jerusalem gebring, en daar het hy gesterwe.
8En die kinders van Juda het teen Jerusalem geveg en dit ingeneem en dit met die skerpte van die swaard verslaan en die stad aan die brand gesteek.
9En daarna het die kinders van Juda afgetrek om te veg teen die Kanaäniete wat op die Gebergte en in die Suidland en in die Laeveld gewoon het.
10Juda het dan teen die Kanaäniete uitgetrek, die inwoners van Hebron — maar die naam van Hebron was tevore Kirjat-Arba — en hulle het Sesai en Ahíman en Talmai verslaan.
11En daarvandaan het hy uitgetrek teen die inwoners van Debir — maar die naam van Debir was tevore Kirjat-Sefer.
12En Kaleb het gesê: Hy wat Kirjat-Sefer verslaan en dit inneem, aan hom sal ek my dogter Agsa as vrou gee.
13Daarop het Ótniël, die seun van Kenas, die jonger broer van Kaleb, dit ingeneem; en hy het sy dogter Agsa aan hom as vrou gegee.
14En toe sy aankom, het sy hom aangespoor om van haar vader 'n stuk grond te vra; en toe sy van die esel afklim, sê Kaleb vir haar: Wat wil jy hê?
15En sy sê vir hom: Gee my tog 'n geskenk; omdat u my na 'n dor land versit het, moet u my waterfonteine gee. Toe gee Kaleb haar fonteine op die hoogte en fonteine in die laagte.
16En die kinders van die Keniet, die swaer van Moses, het saam met die kinders van Juda opgetrek uit die Palmstad na die woestyn van Juda wat in die suide van Arad lê; en hy het heengegaan en met die volk saamgewoon.
17En Juda het saam met sy broer Símeon getrek, en hulle het die Kanaäniete verslaan wat in Sefat gewoon het en dit met die banvloek getref; daarom noem hulle die stad Horma.
18En Juda het Gasa met sy grondgebied en Áskelon met sy grondgebied en Ekron met sy grondgebied ingeneem.
19En die Here was met Juda, sodat hy die gebergte in besit geneem het; maar die bewoners van die laagte kon hy nie verdrywe nie, omdat hulle ysterwaens gehad het.
20En hulle het Hebron aan Kaleb gegee, soos Moses gespreek het; en hy het die drie seuns van Enak daaruit verdrywe.
21En die kinders van Benjamin het die Jebusiete, die inwoners van Jerusalem, nie verdrywe nie, sodat die Jebusiete saam met die kinders van Benjamin in Jerusalem woon tot vandag toe.
22En die huis van Josef, hulle het ook opgetrek na Bet-el, en die Here was met hulle.
23En toe die huis van Josef Bet-el laat bespied — maar die naam van die stad was tevore Lus —
24sien die spioene 'n man uit die stad uitkom, en hulle sê vir hom: Wys ons tog 'n plek om in die stad in te kom, dan sal ons jou 'n guns bewys.
25Hy wys hulle toe 'n plek om in die stad in te kom; en hulle het die stad verslaan met die skerpte van die swaard; maar die man en sy hele geslag het hulle laat gaan.
26En die man het weggetrek na die land van die Hetiete, en hy het 'n stad gebou en dit Lus genoem; dit is sy naam tot vandag toe.
27En Manasse het Bet-Sean met sy onderhorige plekke en Táänag met sy onderhorige plekke en die inwoners van Dor met sy onderhorige plekke en die inwoners van Jíbleam met sy onderhorige plekke en die inwoners van Megíddo met sy onderhorige plekke nie verdrywe nie; en die Kanaäniete het verkies om in hierdie land te bly woon.
28Maar toe Israel sterk word, het hy die Kanaäniete dienspligtig gemaak; hy het hulle egter nie heeltemal verdrywe nie.
29En Efraim het die Kanaäniete, die inwoners van Geser, nie verdrywe nie; sodat die Kanaäniete in sy midde in Geser bly woon het.
30Sébulon het die inwoners van Kitron en die inwoners van Náhalol nie verdrywe nie; sodat die Kanaäniete in sy midde bly woon het; maar hulle het dienspligtig geword.
31Aser het die inwoners van Akko en die inwoners van Sidon en Aglab en Agsib en Helba en Afik en Rehob nie verdrywe nie;
32sodat die Aseriete bly woon het onder die Kanaäniete, die bevolking van die land, want hulle het hulle nie verdrywe nie.
33Náftali het die inwoners van Bet-Semes en die inwoners van Bet-Anat nie verdrywe nie, sodat hy bly woon het onder die Kanaäniete, die bevolking van die land; maar die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat het aan hulle dienspligtig geword.
34En die Amoriete het die kinders van Dan die gebergte in gedruk, want hulle het hul nie toegelaat om na die laagte af te kom nie;
35sodat die Amoriete verkies het om te bly woon in Har-Heres, in Ájalon en in Saälbim; maar die hand van die huis van Josef was swaar, sodat hulle dienspligtig geword het.
36En die grens van die Amoriete was van Skerpioennek, van die rots af, en verder op.