'n Ander teken van die strafgerig.
1VERDER het die Here aan my gesê: Neem vir jou 'n groot tafel en skrywe daarop met 'n mensegriffel: Netnou is daar buit, gou is daar roof;
2en Ek wil vir My vertroubare getuies neem: Uría, die priester, en Sagaría, die seun van Jeberégja.
3En ek het na die profetes gekom, en sy het swanger geword en 'n seun gebaar; en die Here het vir my gesê: Noem hom: Netnou is daar buit, gou is daar roof.
4Want voordat die seuntjie kan roep: Vader! of: Moeder! sal hulle die rykdom van Damaskus en die buit van Samaría voor die koning van Assur bring.
5Verder het die Here nog met my gespreek en gesê:
6Omdat hierdie volk die waters van Silóa verag wat saggies vloei, en daar vreugde is saam met Resin en die seun van Remália —
7kyk, daarom sal die Here oor hulle laat opkom die sterk en magtige waters van die Eufraat — die koning van Assur en al sy heerlikheid — en hy sal bo al sy beddings styg en gaan oor al sy walle;
8en hy sal in Juda indring, instroom en oorloop; tot die nek toe sal hy kom; en die uitbreidinge van sy vlerke sal u land in sy breedte vul, o Immánuel!
9Maak geraas, o volke, en — stort inmekaar; en luister, alle ver plekke van die aarde! Gord julle en — stort inmekaar; gord julle en — stort inmekaar.
10Neem 'n besluit, en dit sal verydel word; maak 'n afspraak, en dit sal nie tot stand kom nie; want God is met ons!
11Want so het die Here met my gespreek toe sy hand my oorweldig het en Hy my vermaan het om nie te wandel op die weg van hierdie volk nie, met die woorde:
12Julle mag nie alles 'n sameswering noem wat hierdie volk 'n sameswering noem nie, en julle mag nie bevrees wees vir wat hulle vrees, of verskrik wees nie.
13Die Here van die leërskare — Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees!
14Dan sal Hy vir julle 'n heiligdom wees, maar 'n klip waar 'n mens teen stamp en 'n rots waar 'n mens oor struikel, vir die twee huise van Israel, 'n vangnet en 'n strik vir die inwoners van Jerusalem.
15En baie onder hulle sal struikel en val en verbreek en verstrik en gevang word.
16Bind die getuienis toe, verseël die wet in die hart van my leerlinge.
17En ek sal wag op die Here, wat sy aangesig verberg vir die huis van Jakob, en op Hom hoop.
18Hier is ek en die kinders wat die Here my gegee het — tot tekens en sinnebeelde is ons in Israel, vanweë die Here van die leërskare wat op die berg Sion woon.
19En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel — moet 'n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word?
20Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle 'n volk wat geen dageraad het nie.
21Dan sal hulle deur die land trek, beswaard en honger; en as hulle honger het, sal hulle in toorn uitbreek en hulle koning en hulle God vloek; dan sal hulle na bo kyk,
22ook die aarde aanskou, en kyk, daar sal benoudheid en duisternis wees! In jammernag en donkerheid is hulle gedrywe.
23Want nie langer sal dit donker wees daar waar benoudheid is nie: in die eerste tyd het Hy die land Sébulon en die land Náftali in veragting gebring, en in die laaste tyd bring Hy tot eer die weg na die see, die oorkant van die Jordaan, die streek van die heidene.