Die wonderbare weë van God met Jerusalem.
1WEE Áriël, Áriël, stad waar Dawid laer opgeslaan het! Voeg jaar by jaar; laat die feeste hulle kringloop volbring —
2dan sal Ek Áriël benoud maak, en daar sal geklaag en geklag wees, en dit sal vir My soos Áriël wees.
3En Ek sal in 'n kring teen jou laer opslaan en jou met wagposte beleër en skanse teen jou oprig.
4Dan sal jy diep uit die grond spreek, en op dowwe toon sal jou woord uit die stof voortkom; en jou stem sal uit die grond opkom soos dié van die gees van 'n afgestorwene, en uit die stof sal jou woord piep.
5Maar die menigte van jou vyande sal word soos dun stof, en die menigte van die tiranne soos kaf wat wegwaai; en dit sal heeltemal onverwags gebeur.
6Vanweë die Here van die leërskare sal jy in genade besoek word, met donder en aardbewing en groot gedruis, wind en storm en die vlam van 'n verterende vuur.
7En soos 'n droom, 'n naggesig, sal die menigte van al die nasies wees wat oorlog toe trek teen Áriël, ja, almal wat teen hom oorlog toe trek en teen sy bergvesting en hom benoud maak.
8En soos 'n hongerige droom dat hy eet, maar hy word wakker en — sy siel is leeg; en soos 'n dorstige droom dat hy drink, maar hy word wakker en — hy is moeg en sy siel versmag: só sal die menigte van al die nasies wees wat oorlog toe trek teen die berg Sion.
9Vertoef, en verwonder julle! Wees blind en verblind! Hulle is dronk, maar nie van wyn nie; hulle waggel, maar nie van sterk drank nie.
10Want die Here het oor julle uitgegiet 'n gees van diepe slaap, en Hy het julle oë — die profete — toegesluit en julle hoofde — die sieners — toegebind.
11So het dan die gesig van al hierdie dinge vir julle geword soos die woorde van 'n verseëlde boek wat hulle gee aan iemand wat kan lees, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie, want dit is verseël.
12Of hulle gee die boek aan iemand wat nie kan lees nie, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie lees nie.
13En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My 'n aangeleerde mensegebod is,
14daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil.
15Wee hulle wat planne diep verberg vir die Here, wie se werk in duisternis plaasvind; en hulle sê: Wie sien ons en wie ken ons?
16o Julle verkeerdheid! Of moet die pottebakker beskou word as klei, dat die maaksel van sy maker kan sê: Hy het my nie gemaak nie, en die vormsel van sy vormer kan sê: Hy het geen verstand nie?
17Sal dit nie nog 'n baie kort rukkie duur dat die Líbanon in 'n vrugteboord verander word, en die vrugteboord vir 'n bos gereken word nie?
18En in dié dag sal die dowes Skrifwoorde hoor, en uit donkerheid en duisternis sal die oë van die blindes sien.
19En die ootmoediges sal vreugde op vreugde smaak in die Here, en die behoeftiges onder die mense sal juig in die Heilige van Israel.
20Want gedaan is dit met die tiran, en klaar is dit met die spotter, en uitgeroei is almal wat op ongeregtigheid bedag is —
21hulle wat 'n mens as sondaar brandmerk ter wille van 'n woord, en strikke span vir hom wat vir die reg opkom in die poort, en die regverdige met nietige voorwendsels wegstoot.
22Daarom, so sê die Here tot die huis van Jakob, Hy wat Abraham verlos het: Jakob sal nou nie meer beskaamd staan nie, en nou sal sy aangesig nie meer bleek word nie;
23want as hy, as sy kinders die werk van my hande in sy midde sien, sal hulle my Naam heilig; ja, hulle sal die Heilige van Jakob heilig en vir die God van Israel met ontsag vervul wees;
24en hulle wat dwalende van gees is, sal insig verkry, en die murmureerders sal lering aanneem.