Die broers van Josef in Egipte.
1TOE Jakob merk dat daar koring in Egipte was, het Jakob aan sy seuns gesê: Wat kyk julle so na mekaar?
2En hy sê: Kyk, ek het gehoor dat daar koring in Egipte is; trek daarheen af, en koop vir ons daar koring, dat ons kan lewe en nie sterwe nie.
3Daarop het tien van Josef se broers afgetrek om koring uit Egipte te koop.
4Maar Benjamin, die broer van Josef, het Jakob nie saam met sy broers gestuur nie; want hy het gedink: Altemit kan 'n ongeluk hom oorkom.
5So het die seuns van Israel dan gekom om koring te koop onder diegene wat daar aangekom het; want daar was hongersnood in die land Kanaän.
6En Josef was die maghebber oor die land, hy wat aan al die mense van die land koring verkoop het; daarom het die broers van Josef gekom en hulle voor hom met die aangesig na die aarde gebuig.
7Sodra Josef sy broers sien, het hy hulle herken maar hom vreemd teenoor hulle gehou en hulle hard aangespreek en vir hulle gesê: Waar kom julle vandaan? En hulle antwoord: Uit die land Kanaän om voedsel te koop.
8En Josef het sy broers herken, maar húlle het hom nie herken nie.
9Toe dink Josef aan die drome wat hy aangaande hulle gedroom het; en hy sê vir hulle: Julle is spioene, julle het gekom om te kyk waar die land oop is.
10Maar hulle het hom geantwoord: Nee, my heer, maar u dienaars het gekom om voedsel te koop.
11Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen spioene nie.
12Toe sê hy vir hulle: Nee, maar julle het gekom om te kyk waar die land oop is.
13En hulle antwoord: U dienaars is twaalf in getal, ons is broers, seuns van een man in die land Kanaän; en kyk, die jongste is nou by ons vader, maar die eenis daar nie meer nie.
14Toe sê Josef vir hulle: Dit is wat ek julle gesê het: Julle is spioene!
15Hieraan sal julle getoets word: so waar as Farao leef, julle sal hiervandaan nie trek tensy dat julle jongste broer hierheen kom nie.
16Stuur een van julle, dat hy julle broer gaan haal, maar júlle moet in die gevangenis bly. So sal dan julle woorde getoets word, of die waarheid by julle is of nie. So waar as Farao leef, julle is spioene!
17Daarop het hy hulle saam drie dae lank in bewaring laat hou.
18En op die derde dag sê Josef vir hulle: Doen dit, dan sal julle lewe; ek vrees God!
19As julle eerlike mense is, laat een van julle broers gevange bly in die huis waar julle in bewaring is; maar gaan júlle, bring die koring vir die honger van julle huisgesinne weg,
20en bring julle jongste broer na my toe — dan sal julle woorde waar gemaak word, en julle sal nie sterwe nie. En hulle het so gedoen.
21Toe sê hulle vir mekaar: Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie — daarom kom hierdie benoudheid oor ons.
22Daarop antwoord Ruben hulle: Het ek nie vir julle gesê nie: Besondig julle nie aan die seun nie? Maar julle het nie geluister nie. Kyk, so word dan ook sy bloed geëis.
23En hulle het nie geweet dat Josef dit verstaan nie, want daar was 'n tolk tussen hulle.
24Toe draai hy hom van hulle af weg en ween. Daarna het hy na hulle teruggegaan en met hulle gespreek; en hy het Símeon onder hulle uitgeneem en hom voor hulle oë gebind.
25Daarop gee Josef bevel om hulle sakke vol koring te maak en elkeen se geld weer in sy sak te sit en om aan hulle padkos vir die reis saam te gee. En so is aan hulle gedoen.
26En hulle het die koring op hulle esels gelaai en daar weggetrek.
27En toe die een sy sak oopmaak om sy esel in die herberg voer te gee, sien hy sy geld; en kyk, dit was sommer bo in sy sak!
28En hy sê vir sy broers: My geld is teruggegee; hier lê dit dan ook in my sak! Toe het hulle hart hul begewe, en hulle draai verskrik na mekaar toe en sê: Wat het God ons nou aangedoen?
29En hulle het by hul vader Jakob in die land Kanaän gekom en hom alles vertel wat hulle wedervaar het en gesê:
30Die man, die heer van die land, het ons hard aangespreek en ons vir spioene van die land gehou.
31Maar ons het aan hom gesê: Ons is eerlike mense, ons is geen spioene nie.
32Ons is twaalf broers, seuns van ons vader; die een is daar nie meer nie, en die jongste is nou by ons vader in die land Kanaän.
33Daarop het die man, die heer van die land, aan ons gesê: Hieraan sal ek weet dat julle eerlike mense is — laat een van julle broers by my bly; en neem vir die honger van julle huisgesinne en trek weg,
34en bring julle jongste broer na my toe; dan sal ek weet dat julle geen spioene is nie. As julle eerlike mense is, sal ek julle broer aan julle teruggee, en julle mag in die land rondtrek.
35En toe hulle hul sakke leegmaak, was elkeen se bondeltjie geld daar in sy sak! En toe hulle hul bondeltjies geld sien, hulle en hul vader, was hulle bevrees.
36Daarop sê Jakob, hulle vader, vir hulle: Julle beroof my van kinders. Josef is weg! En Símeon is weg! En Benjamin wil julle wegneem! Alles is teen my!
37Toe spreek Ruben sy vader aan en sê: U kan my twee seuns doodmaak as ek hom nie na u terugbring nie. Vertrou hom aan my toe, en ék sal hom na u terugbring.
38Maar hy sê: My seun sal nie saam met julle aftrek nie, want sy broer is dood, en hy het alleen oorgebly; en as 'n ongeluk hom oorkom op die pad wat julle sal gaan, dan sal julle my grys hare met kommer in die doderyk laat afdaal.