Rebekka word gevra as vrou vir Isak.
1EN Abraham was oud en ver op sy dae, en die Here het Abraham in alles geseën.
2Toe sê Abraham aan sy dienaar, die oudste van sy huis wat die opsig gehad het oor al sy goed: Lê tog jou hand onder my heup,
3dat ek jou kan laat sweer by die Here, die God van die hemel en die God van die aarde, dat jy vir my seun geen vrou sal neem uit die dogters van die Kanaäniete onder wie ek woon nie;
4maar dat jy na my land en my familie sal gaan om vir my seun Isak 'n vrou te neem.
5Toe sê die dienaar vir hom: Miskien sal die vrou my nie wil volg na hierdie land nie. Moet ek u seun dan maar terugbring in die land waaruit u weggetrek het?
6En Abraham antwoord hom: Neem jou tog in ag dat jy my seun nie weer daarheen bring nie.
7Die Here, die God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my geboorteland weggeneem het, en wat met my gespreek en vir my gesweer het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee — Hy sal sy engel voor jou uit stuur, en jy moet vir my seun daar 'n vrou gaan haal.
8Maar as die vrou jou nie wil volg nie, dan is jy ontslae van hierdie eed aan my. Jy moet net my seun nie weer daarheen bring nie.
9Toe lê die dienaar sy hand onder die heup van Abraham, sy heer, en hy het vir hom gesweer, met die oog op hierdie saak.
10En die dienaar het tien kamele van die kamele van sy heer geneem en weggegaan met allerhande kosbare goed van sy heer by hom: hy het klaargemaak en na Mesopotámië, na die stad van Nahor, getrek.
11En hy het die kamele laat neerkniel buitekant die stad by 'n put, teen die aand, teen die tyd dat die vroue uitgaan om water te skep,
12en gesê: Here, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer.
13Hier staan ek by die fontein, terwyl die dogters van die manne van die stad uitkom om water te skep.
14Laat dít nou tog gebeur: as die dogter aan wie ek sal sê: Hou tog jou kruik, dat ek kan drink, antwoord: Drink, en ek sal ook u kamele laat drink — dan is sy dit wat U bestem het vir u kneg Isak, en daaraan sal ek weet dat U guns aan my heer bewys het.
15Hy het nog nie klaar gespreek nie, of daar kom Rebekka uit wat vir Bétuel, die seun van Milka, die vrou van Nahor, Abraham se broer, gebore is, met haar kruik op haar skouer.
16En die dogter was baie mooi van aansien, 'n jongmeisie, en geen man het haar beken nie. En sy het afgedaal na die fontein en haar kruik volgemaak en weer opgekom.
17Toe loop die dienaar haar tegemoet en sê: Laat my tog 'n bietjie water uit jou kruik drink.
18En sy antwoord: Drink, my heer! Daarop laat sy gou haar kruik op haar hand afsak en laat hom drink.
19Nadat sy hom genoeg laat drink het, sê sy: Ek sal vir u kamele ook skep totdat hulle genoeg gedrink het.
20Dadelik het sy toe haar kruik in die drinkbak leeggemaak en weer na die put geloop om te skep en vir al sy kamele geskep.
21En die man het haar stilswyend betrag om te weet of die Here sy weg voorspoedig gemaak het of nie.
22En toe die kamele genoeg gedrink het, neem die man 'n goue ring, 'n halfsikkel in gewig, en twee armbande vir haar hande, tien sikkels goud in gewig.
23En hy sê: Wie se dogter is jy? Vertel my tog. Is daar plek vir ons in die huis van jou vader om te vernag?
24Toe antwoord sy hom: Ek is die dogter van Bétuel, die seun van Milka wat sy vir Nahor gebaar het.
25Verder sê sy vir hom: Daar is ook strooi en voer in oorvloed by ons, ook plek om te vernag.
26Toe buig die man hom neer en aanbid die Here
27met die woorde: Geloofd sy die Here, die God van Abraham, my heer, wat sy goedertierenheid en sy trou aan my heer nie onttrek het nie. Wat my aangaan, die Here het my op die weg gelei na die huis van die broers van my heer.
28Daarna het die dogter geloop en in die huis van haar moeder vertel wat daar gebeur het.
29En Rebekka het 'n broer gehad met die naam van Laban, en Laban het uitgeloop na die man buite by die fontein.
30Want toe hy die ring en die armbande aan die hande van sy suster sien en die woorde van sy suster Rebekka hoor, naamlik: So het die man met my gespreek — het hy na die man gegaan, terwyl hy nog daar staan by die kamele by die fontein,
31en gesê: Kom in, geseënde van die Here! Waarom staan jy buitekant terwyl ek die huis reggemaak het en ook plek vir die kamele?
32En die man het in die huis ingekom — die kamele is afgesaal en vir die kamele is strooi en voer gegee, en water om sy voete te was en die voete van die manne wat by hom was.
33Daarop het hulle ete voor hom neergesit; maar hy het gesê: Ek sal nie eet voordat ek my saak voorgedra het nie. En hy antwoord: Spreek maar.
34Toe sê hy: Ek is die dienaar van Abraham.
35En die Here het my heer baie geseën, sodat hy groot geword het, en aan hom kleinvee en beeste, silwer en goud, slawe en slavinne en kamele en esels gegee.
36En Sara, die vrou van my heer, het vir my heer 'n seun gebaar nadat sy al oud was; en hy het aan hom alles oorgegee wat hy besit.
37En my heer het my laat sweer en gesê: Jy moet vir my seun geen vrou neem uit die dogters van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie;
38maar jy moet gaan na die huis van my vader en na my geslag en vir my seun 'n vrou gaan haal.
39Toe het ek aan my heer gesê: Miskien sal die vrou my nie volg nie.
40Maar hy het my geantwoord: Die Here voor wie se aangesig ek gewandel het, sal sy engel met jou saamstuur, en Hy sal jou weg voorspoedig maak, sodat jy vir my seun 'n vrou uit my geslag en uit die huis van my vader kan gaan haal.
41Dan sal jy ontslae wees van die eed aan my: as jy by my geslag kom en hulle haar aan jou nie wil gee nie, dan is jy ontslae van die eed aan my.
42Ek het toe vandag by die fontein gekom en gesê: Here, God van Abraham, my heer, as U dan my weg waar ek op gaan, voorspoedig wil maak —
43ek staan hier by die fontein — laat dít nou tog gebeur: die jongmeisie wat uitkom om te skep en aan wie ek sal sê: Laat my tog 'n bietjie water uit jou kruik drink —
44en wat my sal antwoord: Drink u self, en ook vir u kamele sal ek skep — sý is die vrou wat die Here vir die seun van my heer bestem het.
45Ek het nog nie klaar in my hart gespreek nie of daar het Rebekka uitgekom met haar kruik op die skouer en na die fontein afgedaal en geskep. Ek het toe vir haar gesê: Laat my tog drink!
46En sy het dadelik haar kruik van haar laat afsak en gesê: Drink, en ek sal u kamele ook laat drink. En ek het gedrink, en sy het ook die kamele laat drink.
47Toe vra ek haar en sê: Wie se dogter is jy? En sy antwoord: Die dogter van Bétuel, die seun van Nahor wat Milka vir hom gebaar het. Daarop het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar hande,
48en ek het my in aanbidding neergebuig voor die Here en die Here geloof, die God van Abraham, my heer, wat my op die regte weg gelei het om die dogter van my heer se broer vir sy seun te gaan haal.
49As julle dan nou guns en trou aan my heer wil bewys, sê dit vir my; en so nie, sê dit vir my, dat ek regs of links kan gaan.
50Toe antwoord Laban en Bétuel en sê: Van die Here kom die saak; ons kan jou daar geen kwaad of goed van spreek nie.
51Daar staan Rebekka voor jou, neem haar en gaan heen, dat sy 'n vrou kan wees vir die seun van jou heer, soos die Here gespreek het.
52Toe die dienaar van Abraham hulle woorde hoor, het hy hom voor die Here neergebuig na die aarde toe.
53Daarna het die dienaar silwer- en goue goed en klere uitgehaal en dit aan Rebekka gegee; ook aan haar broer en haar moeder het hy kosbare geskenke gegee.
54En hulle het geëet en gedrink, hy en die manne wat by hom was, en die nag oorgebly. Toe hulle die môre vroeg opgestaan het, sê hy: Laat my trek na my heer!
55Maar haar broer en haar moeder sê: Laat die dogter 'n dag of tien by ons bly; daarna kan jy heengaan.
56Maar hy antwoord hulle: Moet my nie ophou nie aangesien die Here my weg voorspoedig gemaak het; laat my trek, dat ek na my heer kan gaan.
57Toe sê hulle: Laat ons die dogter roep en haar self vra.
58En hulle het Rebekka geroep en haar gevra: Wil jy met hierdie man saamgaan? En sy antwoord: Ja.
59Daarop het hulle Rebekka, hulle suster, en haar oppasser laat trek saam met die dienaar van Abraham en sy manne.
60En hulle het Rebekka geseën en aan haar gesê: Ons suster, mag jy duisende van tienduisende word, en mag jou nageslag die poort van sy vyande in besit neem!
61Toe het Rebekka en haar diensmeisies hulle klaargemaak en op die kamele weggery en die man gevolg. So het die dienaar dan Rebekka saamgeneem en weggetrek.
62En Isak het uit die rigting van die put Lagai-Roï gekom; want hy het gaan woon in die Suidland.
63En Isak het teen die aand uitgegaan om te peins in die veld. En toe hy sy oë opslaan, sien hy meteens kamele aankom.
64Rebekka het ook haar oë opgeslaan en Isak gesien. Toe het sy van die kameel afgegly
65en aan haar dienaar gesê: Watter man is dit wat ons tegemoetloop in die veld? En die dienaar antwoord: Dit is my heer. Toe neem sy die sluier en bedek haar.
66Daarop het die dienaar aan Isak alles vertel wat hy gedoen het.
67En Isak het haar in die tent van sy moeder Sara ingebring en Rebekka geneem, en sy het sy vrou geword; en hy het haar liefgehad. So is Isak dan getroos ná die dood van sy moeder.