Die goeie herder en die slegtes.
1EN die woord van die Here het tot my gekom en gesê:
2Mensekind, profeteer teen die herders van Israel; profeteer en sê vir hulle, die herders: So spreek die Here Here: Wee die herders van Israel wat aan hulleself weiding verskaf! Moet die herders nie die skape laat wei nie?
3Julle eet die vet en beklee julle met die wol; julle slag die vettes, maar die skape laat julle nie wei nie;
4julle versterk die swakkes nie en maak die siekes nie gesond nie en die wat gewond is, verbind julle nie en wat weggedryf is, bring julle nie terug nie en wat verlore is, soek julle nie; maar met strengheid heers julle oor hulle en met hardheid.
5So het hulle dan verstrooid geraak, omdat daar geen herder was nie; en hulle het die voedsel geword vir al die wilde diere van die veld en het verstrooid geraak.
6My skape dwaal rond op al die berge en op al die hoë heuwels; ja, oor die hele oppervlakte van die aarde is my skape verstrooi, sonder dat iemand na hulle vra of hulle soek.
7Daarom, o herders, hoor die woord van die Here:
8So waar as Ek leef, spreek die Here Here, gewis, omdat my skape 'n prooi geword het en my skape as voedsel gedien het van al die wilde diere van die veld, omdat daar geen herder was nie, en my herders na my skape nie vra nie; en die herders aan hulleself weiding verskaf, maar my skape nie laat wei nie —
9daarom, o herders, hoor die woord van die Here!
10So sê die Here Here: Kyk, Ek het dit teen die herders! En Ek sal my skape van hulle hand eis en maak dat hulle geen skape meer oppas nie, sodat die herders aan hulleself nie meer weiding sal verskaf nie; en Ek sal my skape uit hulle mond uitruk, sodat dit hulle nie as voedsel sal dien nie.
11Want so sê die Here Here: Kyk, hier is Ek, en Ek sal na my skape vra en vir hulle sorg.
12Soos 'n herder vir sy trop skape sorg op die dag as hy onder sy verspreide skape is, so sal Ek vir my skape sorg; en Ek sal hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is, op die dag van wolke en donkerheid.
13En Ek sal hulle uitlei uit die volke en versamel uit die lande en hulle bring in hul land; en Ek sal hulle laat wei op die berge van Israel, in die klowe en in al die bewoonbare plekke van die land.
14Op 'n goeie weiveld sal Ek hulle laat wei, en op die hoë berge van Israel sal hulle weiplek wees. Daar sal hulle lê op 'n goeie plek en wei in 'n geil weiveld op die berge van Israel.
15Ek self sal my skape oppas, en Ek self sal hulle laat lê en rus, spreek die Here Here.
16Die wat verlore is, sal Ek soek, en wat weggedryf is, sal Ek terugbring, en wat gewond is, sal Ek verbind, en die siekes sal Ek versterk; maar die vettes en die sterkes sal Ek verdelg: Ek sal hulle oppas soos dit reg is.
17En wat julle aangaan, my skape, so sê die Here Here, kyk, Ek sal oordeel tussen skape en skape, die ramme en die bokramme.
18Is dit vir julle nie genoeg dat julle die goeie weiveld afwei nie? En moet julle die orige van jul weiveld met jul pote vertrap? En moet julle die helder water drink, terwyl julle die wat oorbly, met jul pote troebel maak?
19En moet my skape afwei wat met julle pote vertrap is, en drink wat met julle pote troebel gemaak is?
20Daarom, so sê die Here Here vir hulle: Kyk, hier is Ek, en Ek sal oordeel tussen die vet skape en die maer skape.
21Omdat julle al die swakkes met skof en skouer wegdruk en met julle horings stoot, totdat julle hulle uitgejaag het,
22daarom sal Ek my skape red, sodat hulle nie meer 'n prooi sal wees nie; en Ek sal oordeel tussen skape en skape.
23En Ek sal een enkele herder oor hulle verwek, en hy sal hulle laat wei, naamlik my kneg Dawid; hy sal hulle laat wei, en hy sal vir hulle 'n herder wees.
24En Ek, die Here, Ek sal vir hulle 'n God wees, en my kneg Dawid 'n vors in hulle midde. Ek, die Here, het dit gespreek.
25En Ek sal 'n verbond van vrede met hulle sluit en die wilde diere uit die land laat verdwyn; en hulle sal veilig bly in die woestyn en slaap in die bosse.
26En Ek sal hulle en die plekke rondom my heuwel tot 'n seën maak en die stortreën laat val op sy tyd; stortreëns van seën sal dit wees.
27En die bome van die veld sal hulle vrugte gee, en die land sal sy opbrings gee, en hulle sal veilig wees in hul land; en hulle sal weet dat Ek die Here is as Ek hulle jukskeie stukkend breek en hulle red uit die hand van die wat hulle diensbaar gemaak het.
28En hulle sal nie meer 'n prooi vir die nasies wees nie, en die wilde diere van die land sal hulle nie opeet nie; maar hulle sal veilig woon sonder dat iemand hulle verskrik.
29En Ek sal vir hulle plante van naam verwek, sodat hulle nie meer deur hongersnood in die land weggeruk sal word nie en die smaad van die nasies nie meer sal dra nie.
30Maar hulle sal weet dat Ek, die Here hulle God, met hulle is, en dat hulle, die huis van Israel, my volk is, spreek die Here Here.
31En julle is my skape, die skape van my weide; julle is mense, Ek is julle God, spreek die Here Here.