Teen Egipte.
1IN die tiende jaar, in die tiende maand, op die twaalfde van die maand, het die woord van die Here tot my gekom en gesê:
2Mensekind, rig jou aangesig teen Farao, die koning van Egipte, en profeteer teen hom en teen die hele Egipte.
3Spreek en sê: So spreek die Here Here: Kyk, Ek het dit teen jou, o Farao, koning van Egipte, jou groot draak wat in jou strome lê, wat sê: My stroom is myne, en ek het dit vir my gemaak.
4Maar Ek sal hake in jou kakebene slaan en die visse van jou strome aan jou skubbe laat klewe; en Ek sal jou uit jou strome optrek, saam met al die visse van jou strome wat aan jou skubbe klewe.
5En Ek sal jou wegwerp in die woestyn, jou en al die visse van jou strome; op die oop veld sal jy val; jy sal nie bymekaargemaak of versamel word nie; aan die wilde diere van die aarde en aan die voëls van die hemel gee Ek jou as voedsel.
6En al die inwoners van Egipte sal weet dat Ek die Here is, omdat hulle vir die huis van Israel 'n rietstok is —
7as Israel jou met die hand aanvat, knak jy en skeur hulle hele skouer oop; en as hulle op jou leun, dan breek jy en laat al hulle lendene wankel.
8Daarom, so sê die Here Here: Kyk, Ek bring die swaard oor jou en sal mens en dier uit jou uitroei.
9En Egipteland sal 'n wildernis en puinhoop word, en hulle sal weet dat Ek die Here is. Omdat hy sê: Die Nyl is myne, en ek het dit gemaak —
10daarom, kyk, Ek het dit teen jou en teen jou strome; en Ek sal Egipteland 'n volkome puinhoop maak, 'n wildernis van Migdol af tot by Siëne, en tot by die grens van Kus.
11Geen mens se voet sal daar deurgaan nie, en geen dier se poot sal daar deurgaan nie, en dit sal veertig jaar lank onbewoond wees.
12En Ek sal Egipteland 'n wildernis maak tussen verwoeste lande in, en sy stede sal 'n wildernis wees tussen verwoeste stede in, veertig jaar lank; en Ek sal die Egiptenaars verstrooi onder die nasies en hulle versprei in die lande.
13Want so sê die Here Here: Aan die einde van veertig jaar sal Ek die Egiptenaars versamel uit die volke waarheen hulle verstrooi was.
14En Ek sal die lot van die Egiptenaars verander en hulle laat teruggaan na die land Patros, na die land van hulle oorsprong; en daar sal hulle 'n koninkryk van geringe betekenis wees.
15En dit sal geringer wees as die ander koninkryke en hom nie meer bo die nasies verhef nie; en Ek sal hulle klein maak, sodat hulle nie heers oor die nasies nie.
16En dit sal vir die huis van Israel geen voorwerp van vertroue meer wees, wat die ongeregtigheid in gedagtenis bring as Israel omdraai agter hulle aan nie; en hulle sal weet dat Ek die Here Here is.
17En in die sewen-en-twintigste jaar, in die eerste maand, op die eerste van die maand, het die woord van die Here tot my gekom en gesê:
18Mensekind, Nebukadrésar, die koning van Babel, het sy leër 'n swaar diens teen Tirus laat verrig: elke hoof het kaal geword en elke skouer is seer geskaaf. Maar hy en ook sy leër het van Tirus geen loon ontvang vir die krygsdiens wat hy daarteen verrig het nie.
19Daarom, so sê die Here Here: Kyk, Ek gee Egipteland aan Nebukadrésar, die koning van Babel, en hy sal die rykdom daarvan wegdra en die buit daarvan buitmaak en die roof daarvan rowe, en dit sal die loon vir sy leër wees.
20As sy arbeidsloon waar hy voor gedien het, gee Ek hom Egipteland, omdat hulle vir My gewerk het, spreek die Here Here.
21In dié dag sal Ek vir die huis van Israel 'n horing laat uitspruit, en Ek sal vir jou opening van die mond gee onder hulle; en hulle sal weet dat Ek die Here is.