Laaste woorde teen Jerusalem.
1EN in die negende jaar, in die tiende maand, op die tiende van die maand, het die woord van die Here tot my gekom en gesê:
2Mensekind, skrywe vir jou die naam van die dag, van hierdie selfde dag, op. Die koning van Babel het hom hierdie selfde dag op Jerusalem gewerp.
3En dra aan die wederstrewige huis 'n gelykenis voor en sê vir hulle: So spreek die Here Here: Sit die pot op, sit dit op, en gooi ook water daarin.
4Sit sy stukke almal daarin, al die goeie stukke, die boud en die blad; maak dit vol met die beste bene.
5Neem die beste van die kleinvee, en ook 'n stapel hout daaronder; laat dit sterk opborrel; ook moet die bene daarin kook.
6Daarom, so sê die Here Here: Wee die bloedstad, die pot waar roes in is en waarvan die roes nie afgegaan het nie. Haal stuk vir stuk daaruit; geen lot is daaroor gewerp nie.
7Want die stad se bloed is binne-in hom; op 'n kaal rots het hy dit neergesit; hy het dit nie op die grond uitgegooi om dit met stof te bedek nie.
8Om grimmigheid te verwek, om wraak te neem, het Ek sy bloed op 'n kaal rots neergesit, dat dit nie toegemaak sou word nie.
9Daarom, so sê die Here Here: Wee die bloedstad! Ék sal ook die houtstapel groot maak.
10Dra baie hout aan, steek die vuur aan, maak gaar die vleis en roer die sous en laat die bene braai.
11En laat dit leeg op sy kole staan, dat dit warm kan word en sy koper kan gloei en sy onreinheid kan smelt in hom — sy roes verteer kan word.
12Dit het My met moeite oorlaai, en sy baie roes gaan nie van hom af nie. Sy roes moet die vuur in!
13Oor jou skandelike onreinheid, omdat Ek jou gereinig het en jy nie rein geword het van jou onreinheid nie, sal jy nie meer rein word totdat Ek my grimmigheid teen jou tot rus gebring het nie.
14Ek, die Here, het dit gespreek; dit kom, en Ek sal dit doen; Ek sal nie ophou nie en sal nie verskoon of berou hê nie; volgens jou wandel en jou handelinge sal hulle jou oordeel, spreek die Here Here.
15Verder het die woord van die Here tot my gekom en gesê:
16Mensekind, kyk, Ek neem die lus van jou oë van jou af weg deur 'n sware slag; nogtans mag jy nie rouklaag of ween nie, en jou trane mag nie kom nie.
17Sug in stilte; oor die dooies mag jy geen rou bedryf nie; bind jou hoofdoek vir jou om en trek jou skoene aan jou voete; jy mag ook die baard nie bedek nie en die brood wat die mense bring, nie eet nie.
18Toe het ek die môre met die mense gespreek, en die aand het my vrou gesterwe; en ek het die volgende môre gedoen soos dit my beveel was.
19En die mense het vir my gesê: Sal u ons nie te kenne gee wat dit vir ons beteken dat u so maak nie?
20Toe het ek hulle geantwoord: Die woord van die Here het tot my gekom en gesê:
21Sê aan die huis van Israel: So spreek die Here Here: Kyk, Ek sal my heiligdom ontheilig, die glorie van julle sterkte, die lus van julle oë, die medelyde van julle siel; en julle seuns en julle dogters wat julle laat agterbly het, sal deur die swaard val.
22Dan sal julle doen soos ek gedoen het: die baard sal julle nie bedek nie en die brood wat die mense bring, nie eet nie.
23En jul hoofdoek sal op julle hoofde wees en jul skoene aan julle voete; julle sal nie rouklaag of ween nie, maar wegteer in julle ongeregtighede en sug, die een teen die ander.
24En Eségiël sal vir julle 'n sinnebeeld wees; net soos hy gedoen het, sal julle doen; as dit kom, sal julle weet dat Ek die Here Here is.
25En wat jou aangaan, mensekind, sekerlik, die dag as Ek hulle vesting van hulle af wegneem, hulle heerlike vreugde, die lus van hulle oë en die verlange van hulle siel, hulle seuns en hulle dogters,
26op dié dag sal 'n vlugteling na jou toe kom om jou dit te verkondig.
27Op dié dag sal jou mond geopen word tegelyk met dié van die vlugteling, en jy sal spreek en nie meer stom wees nie. So sal jy dan vir hulle 'n sinnebeeld wees, en hulle sal weet dat Ek die Here is.