Tweede plaag: die paddas.
1VERDER het die Here met Moses gespreek: Gaan na Farao en sê vir hom: So spreek die Here: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.
2En as jy weier om hulle te laat trek, kyk, dan sal Ek jou hele grondgebied met paddas teister,
3sodat die Nyl van paddas sal wemel. En hulle sal opklim en in jou huis kom en in jou slaapkamer en op jou bed; ook in die huis van jou dienaars en onder jou volk, en in jou bakoonde en in jou bakskottels.
4En die paddas sal teen jou en teen jou volk en teen al jou dienaars opspring.
5Verder het die Here met Moses gespreek: Sê aan Aäron: Steek jou hand uit met jou staf oor die strome en oor die kanale en oor die waterkuile, en laat die paddas opkom oor Egipteland.
6En Aäron het sy hand oor die waters van Egipte uitgesteek, en daar het paddas opgekom en Egipteland oordek.
7Maar die towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste en paddas laat opkom oor Egipteland.
8Toe het Farao Moses en Aäron laat roep en gesê: Bid tot die Here, dat Hy die paddas van my en van my volk wegneem. Dan sal ek die volk laat trek, dat hulle aan die Here kan offer.
9Maar Moses sê aan Farao: Aan u die eer bo my! Teen watter tyd moet ek vir u en u dienaars en vir u volk bid, dat die paddas van u en uit u huise uitgeroei word om net in die Nyl oor te bly?
10En hy antwoord: Teen môre. Toe sê hy: Dit sal wees volgens u woord, dat u kan weet dat daar niemand is soos die Here onse God nie.
11En die paddas sal u en u huise en u dienaars en u volk verlaat. Net in die Nyl sal hulle oorbly.
12Toe het Moses en Aäron van Farao af weggegaan; en Moses het tot die Here geroep vanweë die paddas wat Hy oor Farao beskik het.
13En die Here het gedoen volgens die woord van Moses: die paddas het weggesterwe uit die huise, van die plase af en uit die veld.
14En hulle het dit by hope bymekaargemaak, en die land het gestink.
15En toe Farao sien dat daar verligting kom, het hy sy hart verhard en na hulle nie geluister nie, soos die Here gespreek het.
Derde plaag: muskiete.
16VERDER het die Here met Moses gespreek: Sê aan Aäron: Steek jou staf uit en slaan die stof van die aarde, en dit sal muskiete word in die hele Egipteland.
17En hulle het so gedoen: Aäron het sy hand met sy staf uitgesteek en die stof van die aarde geslaan, en daar het muskiete gekom op die mense en op die vee. Al die stof van die aarde het muskiete geword in die hele Egipteland.
18En die towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste om die muskiete voort te bring, maar hulle kon nie. So was die muskiete dan op die mense en op die vee.
19Toe sê die towenaars vir Farao: Dit is die vinger van God! Maar Farao se hart was verhard, sodat hy na hulle nie geluister het nie, soos die Here gespreek het.
Vierde plaag: steekvlieë.
20VERDER het die Here vir Moses gesê: Maak jou môre vroeg klaar en stel jou voor Farao — kyk, hy sal na die water toe uitgaan — en sê vir hom: So spreek die Here: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.
21Want as jy my volk nie laat trek nie, kyk, dan stuur Ek teen jou en teen jou dienaars en teen jou volk en teen jou huise die steekvlieë, sodat die huise van die Egiptenaars vol steekvlieë sal wees, en selfs die grond waar hulle op staan.
22Maar Ek sal op dié dag met die land Gosen, waarin my volk woon, 'n uitsondering maak, dat daar geen steekvlieë sal wees nie; sodat jy kan weet dat Ek die Here is in die land.
23En Ek sal 'n verlossing stel tussen my volk en jou volk. Môre sal hierdie teken plaasvind.
24En die Here het so gedoen: dik swerms steekvlieë het in die huis van Farao en in die huis van sy dienaars en in die hele Egipteland gekom; die land is deur die steekvlieë verwoes.
25Toe laat Farao Moses en Aäron roep en sê: Gaan heen, offer aan julle God in die land.
26Maar Moses antwoord: Dit is nie reg om so te doen nie; want wat ons aan die Here onse God offer, is 'n gruwel vir die Egiptenaars. As ons iets wat 'n gruwel is vir die Egiptenaars, voor hulle oë offer, sal hulle ons dan nie stenig nie?
27Laat ons drie dagreise ver die woestyn intrek, dat ons aan die Here onse God kan offer soos Hy ons sal beveel.
28Toe sê Farao: Ek sal julle laat trek, dat julle aan die Here julle God kan offer in die woestyn; julle moet maar net nie te ver wegtrek nie. Bid vir my.
29En Moses antwoord: Kyk, ek gaan van u af weg en sal tot die Here bid, dat die steekvlieë môre Farao, sy dienaars en sy volk mag verlaat. Laat Farao ons net nie langer bedrieg deur die volk nie te laat trek om aan die Here te offer nie.
30Toe het Moses van Farao af weggegaan en tot die Here gebid.
31En die Here het gedoen volgens die woord van Moses: Hy het die steekvlieë van Farao, van sy dienaars en sy volk weggeneem. Daar het nie een oorgebly nie.
32Maar Farao het sy hart ook hierdie keer verhard en die volk nie laat trek nie.