Harde slawerny van Israel in Egipte.
1EN dit is die name van die seuns van Israel wat in Egipte gekom het; saam met Jakob het hulle gekom, elkeen met sy huisgesin:
2Ruben, Símeon, Levi en Juda;
3Íssaskar, Sébulon en Benjamin;
4Dan en Náftali, Gad en Aser.
5En al die siele wat uit Jakob se lende voortgekom het, was sewentig siele. Maar Josef was in Egipte.
6En Josef het gesterwe, en al sy broers en daardie hele geslag.
7Maar die kinders van Israel was vrugbaar en het baie geword, en hulle het vermeerder en buitengewoon magtig geword, sodat die land vol was van hulle.
8Toe staan daar 'n nuwe koning oor Egipte op wat niks van Josef geweet het nie.
9Dié het aan sy volk gesê: Kyk, die volk van die kinders van Israel is meer en magtiger as ons.
10Kom, laat ons 'n slim plan teen hulle beraam, sodat hulle nie kan vermeerder nie, en as ons in oorlog geraak, hulle ook nie by ons vyande aansluit en teen ons veg en uit die land optrek nie.
11Daar is toe opsigters van dwangarbeid oor hulle aangestel om hulle met harde arbeid te verdruk. En hulle het vir Farao die voorraadstede Pitom en Raämses gebou.
12Maar hoe meer hulle verdruk is, hoe meer het hulle vermenigvuldig en hulle uitgebrei, sodat hulle bang geword het vir die kinders van Israel.
13Daarom het die Egiptenaars die kinders van Israel met hardheid laat dien
14en hulle lewe verbitter deur swaar werk met klei en bakstene en deur allerhande werk in die landerye — al dié werk wat hulle met hardheid deur hulle laat verrig het.
15En die koning van Egipte het met die Hebreeuse vroedvroue — die een se naam was Sifra en die ander se naam Pua — gespreek
16en gesê: As julle die Hebreeuse vroue by 'n geboorte help, moet julle na die geboortestoel kyk: as dit 'n seun is, maak hom dood; maar is dit 'n dogter, laat haar lewe.
17Maar die vroedvroue het God gevrees en nie gedoen soos die koning van Egipte aan hulle gesê het nie, maar die seuntjies laat lewe.
18Toe laat die koning van Egipte die vroedvroue roep, en hy sê vir hulle: Waarom het julle dit gedoen en die seuntjies laat lewe?
19En die vroedvroue sê vir Farao: Die Hebreeuse vroue is nie soos die Egiptiese nie, want hulle is sterk — voordat die vroedvrou by hulle kom, het hulle al gebaar.
20Maar God het aan die vroedvroue weldadigheid bewys. En die volk het vermenigvuldig en baie magtig geword.
21En omdat die vroedvroue God gevrees het, het Hy huisgesinne aan hulle geskenk.
22Toe gee Farao aan sy hele volk bevel en sê: Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl werp, maar al die dogters kan julle laat lewe.