1EN dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie —
2voordat die son en die lig en die maan en die sterre verduister word en die wolke terugkom ná die reën,
3dié dag wanneer die wagters van die huis sal bewe en die sterk manne krom word en die malers die werk staak, omdat hulle te min geword het, en die wat deur die vensters kyk, verduister word,
4en die deure na die straat gesluit word, terwyl die geruis van die meul verswak; en hy opstaan as die voëltjies begin sing en al die tone van die lied dof sal word.
5Ook sal hy bang wees vir 'n hoogte, en verskriklike dinge sal op die pad wees! En die amandelboom sal in bloei staan, en die sprinkaan sal homself met moeite voortsleep, en die kapperkruid nutteloos wees; want die mens gaan na sy ewige huis, en die rouklaers sal op die straat rondgaan.
6Voordat die silwerdraad verwyder word en die goue oliekruik stukkend val en die kruik by die fontein gebreek word en die wiel stukkend in die put val
7en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.
8Alles tevergeefs, sê die Prediker, dit is alles tevergeefs.
Vrees God en hou sy gebooie.
9EN behalwe dat die Prediker 'n wyse was, het hy die volk nog kennis geleer en het oorweeg en ondersoek; hy het baie spreuke opgestel.
10Die Prediker het gesoek om welgevallige woorde te vind en wat reg geskrywe is — woorde van waarheid.
11Die woorde van die wyse manne is soos prikkels; en soos spykers, diep ingeslaan, is die versamelde spreuke; hulle is deur die enige Herder gegee.
12En buitendien, my seun, wees gewaarsku; aan baie boeke maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees.
13Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.
14Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.