1EN Moses het die hele Israel laat roep en vir hulle gesê: Hoor, Israel, die insettinge en die verordeninge wat ek vandag voor julle ore uitspreek; julle moet dit leer en dit sorgvuldig hou.
2Die Here onse God het by Horeb met ons 'n verbond gesluit.
3Met ons vaders het die Here hierdie verbond nie gesluit nie, maar met ons self, ons wat hier vandag almal in die lewe is.
4Van aangesig tot aangesig het die Here op die berg uit die vuur met julle gespreek —
5ek het in dié tyd tussen die Here en julle gestaan om aan julle die woord van die Here bekend te maak, want julle was bevrees vir die vuur en het nie op die berg geklim nie — en Hy het gesê:
6Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.
7Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.
8Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie.
9Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, en aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;
10en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.
11Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.
12Onderhou die sabbatdag, dat jy dit heilig soos die Here jou God jou beveel het.
13Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen;
14maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie — jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou os of jou esel of enige dier van jou, of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie; sodat jou dienskneg en jou diensmaagd kan rus soos jy.
15En jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland 'n slaaf was, en die Here jou God jou daarvandaan uitgelei het deur 'n sterke hand en 'n uitgestrekte arm; daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te hou.
16Eer jou vader en jou moeder soos die Here jou God jou beveel het, dat jou dae verleng mag word en dat dit met jou goed mag gaan in die land wat die Here jou God aan jou gee.
17Jy mag nie doodslaan nie.
18En jy mag nie egbreek nie.
19En jy mag nie steel nie.
20En jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.
21En jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie; en jy mag nie na jou naaste se huis hunker nie — na sy landerye of sy dienskneg of sy diensmaagd, sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.
22Met hierdie woorde het die Here julle hele vergadering op die berg, uit die vuur, die wolk en die wolkedonkerheid met 'n groot stem toegespreek, en niks meer nie; en Hy het dit op twee kliptafels geskrywe en dit aan my gegee.
23En toe julle die stem uit die duisternis hoor, terwyl die berg met vuur brand, het julle na my toe aangekom, al die hoofde van julle stamme en julle oudstes,
24en gesê: Kyk, die Here onse God het ons sy heerlikheid en sy grootheid laat sien, en ons het sy stem uit die vuur gehoor; vandag het ons gesien dat God met die mens spreek en hy in die lewe bly.
25Maar waarom moet ons nou sterwe? Want hierdie groot vuur sal ons verteer. As ons die stem van die Here onse God nog langer hoor, sal ons sterwe.
26Want wie is daar van alle vlees wat die stem van die lewende God uit die vuur hoor spreek het soos ons en in die lewe gebly het?
27Gaan ú naderby en hoor alles wat die Here onse God sal sê; dan kan ú ons alles meedeel wat die Here onse God met u sal spreek, en ons sal dit hoor en doen.
28En die Here het die stem van julle woorde gehoor toe julle met my gespreek het. Toe sê die Here vir my: Ek het gehoor die stem van die woorde van hierdie volk wat hulle met jou gespreek het; dit is alles goed wat hulle gespreek het.
29Ag, as hulle maar so 'n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan.
30Gaan sê vir hulle: Gaan maar terug na julle tente toe.
31Maar jy, bly hier by My staan, dat Ek jou kan meedeel al die gebooie en die insettinge en die verordeninge wat jy hulle moet leer, dat hulle dit kan doen in die land wat Ek hulle sal gee om dit in besit te neem.
32Sorg dan dat julle doen soos die Here julle God julle beveel het; julle mag nie regs of links afwyk nie.
33In al die weë wat die Here julle God julle beveel het moet julle wandel, sodat julle kan lewe en dit met julle goed kan gaan en julle die dae kan verleng in die land wat julle in besit sal neem.