Seëning van die twaalf stamme deur Moses voor sy dood.
1EN dit is die seën waarmee Moses, die man van God, die kinders van Israel geseën het voor sy dood.
2En hy het gesê: Die Here het gekom van Sinai en vir hulle opgegaan van Seïr af; Hy het in ligglans verskyn van die gebergte Paran en gekom van heilige tienduisende af; aan sy regterhand was vlammende vuur vir hulle.
3Ja, Hy het die stamme lief. Al sy heiliges — hulle is in u hand; en hulle was gelaer by u voet; elkeen ontvang iets van u uitsprake.
4Moses het ons die wet beveel, 'n besitting vir die vergadering van Jakob.
5En Hy het Koning geword in Jesúrun, toe die hoofde van die volk vergader het, die stamme van Israel almal saam.
6Laat Ruben lewe en nie sterwe nie, en laat sy manne 'n aantal wees.
7En dít vir Juda, en hy het gesê: Hoor, Here, die stem van Juda, en bring hom na sy volk toe; met sy hande het hy geveg vir hulle, en wees U vir hom 'n hulp teenoor sy teëstanders.
8En van Levi het hy gesê: U Tummim en u Urim is vir die man, u gunsgenoot, u wat deur U beproef is in Massa, met wie U getwis het by die waters van Mériba;
9wat van sy vader en sy moeder gesê het: Ek sien hom nie, en sy broers nie erken het en van sy seuns niks geweet het nie; want hulle het u woord bewaar en u verbond gehou.
10Hulle sal Jakob u verordeninge leer en Israel u wet; hulle sal reukwerk voor U neerlê en 'n voloffer op u altaar.
11Seën, Here, sy krag, en laat die werk van sy hande U welgevallig wees; verpletter die lendene van die wat teen hom opstaan en hom haat, sodat hulle nie kan opstaan nie.
12Van Benjamin het hy gesê: Die beminde van die Here — hy sal veilig by Hom woon; Hy beskerm hom die hele dag en woon tussen sy berghange.
13En van Josef het hy gesê: Geseënd deur die Here is sy land met die kostelikste gawe van die hemel, met dou en met die wêreldvloed wat onder lê,
14en met die kostelikste voortbrengsels van die son en met die kostelikste gewasse van die mane
15en met die vernaamste voortbrengsel van die berge van die voortyd en met die kostelikste gawe van die ewige heuwels
16en met die kostelikste gawe van die aarde en van sy volheid, en die welbehae van Hom wat in die doringbos gewoon het — laat dit kom op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die vors onder sy broers.
17Sy eersgebore stier — heerlikheid is syne, en sy horings is buffelhorings; daarmee sal hy die volke stoot, die eindes van die aarde almal saam. En dit is die tienduisende van Efraim, en dit is die duisende van Manasse!
18En van Sébulon het hy gesê: Verheug jou, Sébulon, oor jou togte, en Íssaskar, oor jou tente.
19Hulle sal volke na die berg roep; daar sal hulle offers van geregtigheid offer; want hulle sal die oorvloed van die see insuig en die verborgenste skatte van die sand.
20En van Gad het hy gesê: Geseënd is Hy wat vir Gad ruimte maak; hy gaan lê soos 'n leeuin en verskeur die arm, ja, die hoofskedel.
21En hy het vir hom 'n eerstelingsaandeel uitgekies, want daar was die deel van 'n veldheer bewaar; en hy het gekom na die hoofde van die volk, hy het die geregtigheid van die Here uitgevoer en sy verordeninge met Israel.
22En van Dan het hy gesê: Dan is 'n jong leeu wat uit Basan uitspring.
23En van Náftali het hy gesê: Náftali, versadig van geluk en vol van die seën van die Here — neem jy see en suidland in besit!
24En van Aser het hy gesê: Geseënd is Aser bo die seuns; laat hy die liefling van sy broers wees, en een wat sy voet in olie insteek.
25Mag jou grendel yster en koper wees, en jou sterkte soos jou dae.
26Niemand is daar soos God, o Jesúrun, wat oor die hemel ry as jou hulp, en oor die wolke in sy hoogheid.
27Die ewige God is 'n woning, en onder — ewige arms; en Hy het die vyand voor jou uit verdrywe en gesê: Verdelg!
28So het Israel dan veilig gaan woon, die bron van Jakob in afsondering, in 'n land van koring en mos; ja, sy hemel laat dou afdrup.
29Welgeluksalig is jy, o Israel! Wie is soos jy? 'n Volk wat deur die Here verlos is, die skild van jou hulp en wat die swaard van jou hoogheid is, sodat jou vyande julle al kruipende aan jou onderwerp; maar jý sal op hulle hoogtes stap.