Die kwytskelding.
1AAN die einde van sewe jaar moet jy 'n kwytskelding laat plaasvind.
2En dit is die saak van die kwytskelding: elke skuldeiser moet kwytskeld wat hy aan sy naaste geleen het; hy moet sy naaste en sy broer nie aanmaan nie, want tot eer van die Here is daar 'n kwytskelding uitgeroep.
3Die uitlander mag jy aanmaan; maar wat jy by jou broer het, moet jou hand kwytskeld.
4Maar daar moet geen arme by jou wees nie, want die Here sal jou ryklik seën in die land wat die Here jou God jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem;
5as jy net goed luister na die stem van die Here jou God om sorgvuldig te hou al hierdie gebooie wat ek jou vandag beveel.
6Want die Here jou God seën jou soos Hy jou beloof het, sodat jy aan baie nasies sal uitleen, maar self nie hoef te leen nie; en jy sal oor baie nasies heers, maar oor jou sal hulle nie heers nie.
Die armes en die slawe.
7AS daar by jou 'n arme is, een uit jou broers, in een van jou poorte, in jou land wat die Here jou God jou sal gee, dan moet jy jou hart nie verhard en jou hand nie toehou vir jou arm broer nie.
8Maar jy moet jou hand wyd oopmaak vir hom, en jy moet gewillig aan hom leen, genoegsaam vir sy behoefte, wat hom ontbreek.
9Neem jou in ag, dat daar in jou hart geen slegte gedagte is nie, naamlik: Die sewende jaar, die jaar van kwytskelding, is naby — en jou oog dan jou arm broer skeef aankyk, en jy hom niks gee nie, en hy teen jou na die Here roep, en dit sonde in jou word.
10Jy moet aan hom gewillig gee, en jou hart moet nie bedroef wees as jy aan hom gee nie; want ter wille hiervan sal die Here jou God jou seën in al jou werk en in alles waar jy jou hand aan slaan.
11Want die arme sal in die land nie ontbreek nie; daarom gee ek jou bevel en sê: Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir die ellendige en die arme in jou land.
12As jou broer, 'n Hebreeuse man of 'n Hebreeuse vrou, hom aan jou verkoop, moet hy jou ses jaar lank dien; maar in die sewende jaar moet jy hom as vryman van jou laat weggaan.
13En as jy hom as vryman van jou laat weggaan, moet jy hom nie met leë hande laat weggaan nie.
14Jy moet hom 'n behoorlike voorraad saamgee van jou kleinvee en jou dorsvloer en jou wynpers; waarin die Here jou God jou geseën het, daarvan moet jy aan hom gee.
15En jy moet daaraan dink dat jy 'n slaaf in Egipteland was, en dat die Here jou God jou verlos het; daarom beveel ek jou vandag hierdie saak.
16Maar as hy vir jou sê: Ek wil nie van jou weggaan nie — aangesien hy jou en jou huis liefhet, omdat dit vir hom goed was by jou —
17dan moet jy 'n els neem en dit deur sy oor en in die deur steek, sodat hy vir altyd jou slaaf word; en ook met jou slavin moet jy net so doen.
18Dit moet nie hard in jou oë wees as jy hom as vry man van jou laat weggaan nie, want die dubbele loon van 'n dagloner het hy vir jou ses jaar lank ingedien; en die Here jou God sal jou seën in alles wat jy doen.
Die eerstelinge van die vee.
19AL die eersgeborenes van die manlike geslag wat onder jou beeste en onder jou kleinvee aankom, moet jy aan die Here jou God heilig; jy mag nie werk met die eersgeborene van jou beeste, en die eersgeborene van jou kleinvee nie skeer nie.
20Voor die aangesig van die Here jou God moet jy dit jaar vir jaar eet op die plek wat die Here sal uitkies, jy en jou huis.
21Maar as daar 'n liggaamsgebrek aan is — lam of blind, enige lelike gebrek — dan moet jy dit nie aan die Here jou God offer nie;
22in jou poorte mag jy dit eet, die onreine en die reine saam, soos die gemsbok en die takbok.
23Net die bloed mag jy nie eet nie; jy moet dit op die grond uitgooi soos water.