Hongersnood in Israel. Die Gibeoniete en die huis van Saul.
1EN toe daar in die dae van Dawid 'n hongersnood was, drie jaar lank, jaar ná jaar, het Dawid die aangesig van die Here gesoek; en die Here het gesê: Vanweë Saul en vanweë sy huis waarop bloedskuld rus, omdat hy die Gibeoniete omgebring het.
2Toe roep die koning die Gibeoniete en sê vir hulle — die Gibeoniete het naamlik nie behoort tot die kinders van Israel nie, maar by 'n oorblyfsel van die Amoriete; en hoewel die kinders van Israel vir hulle gesweer het, het Saul probeer om hulle om te bring in sy ywer vir die kinders van Israel en Juda —
3Dawid dan het aan die Gibeoniete gesê: Wat moet ek vir julle doen, en waarmee moet ek versoening doen, dat julle die erfdeel van die Here kan seën?
4Daarop sê die Gibeoniete vir hom: Dit is ons teenoor Saul en sy huis nie te doen om silwer en goud nie, en dit gaan vir ons nie daarom om iemand in Israel dood te maak nie. En hy vra: Wat dink julle dan moet ek vir julle doen?
5En hulle sê vir die koning: Die man wat ons vernietig het en planne teen ons beraam het om ons te verdelg sonder dat ons in enige grondgebied van Israel kan voortbestaan —
6laat sewe manne van sy seuns aan ons gegee word, dat ons hulle voor die Here kan ophang in Gíbea van Saul, die uitverkorene van die Here! En die koning het gesê: Ek sal hulle gee.
7Maar die koning het Mefibóset, die seun van Jónatan, die seun van Saul, verskoon vanweë die eed by die Here wat tussen hulle was, tussen Dawid en Jónatan, die seun van Saul.
8Toe neem die koning die twee seuns van Rispa, die dogter van Aja, wat sy vir Saul gebaar het, Armóni en Mefibóset, en die vyf seuns van Merab, die dogter van Saul, wat sy vir Ádriël, die seun van Barsíllai, die Meholatiet, gebaar het;
9en hy het hulle oorgegee in die hand van die Gibeoniete, wat hulle opgehang het op die berg voor die aangesig van die Here, sodat al sewe tesame omgekom het; en hulle is gedood in die eerste dae van die oes, in die begin van die gars-oes.
10En Rispa, die dogter van Aja, het 'n sak geneem en dit vir haar oopgespan op die rots, van die begin van die oes af totdat daar water uit die hemel op hulle gegiet het, en sy het die voëls van die hemel oordag nie toegelaat om op hulle te gaan sit nie, en ook nie die diere van die veld in die nag nie.
11Toe aan Dawid meegedeel is wat Rispa, die dogter van Aja, die byvrou van Saul, gedoen het,
12het Dawid gegaan en die bene van Saul en die bene van sy seun Jónatan van die burgers van Jabes in Gílead gaan haal, wat dit van die plein van Bet-San gesteel het, waar die Filistyne hulle opgehang het op die dag toe die Filistyne Saul op Gilbóa verslaan het.
13En hy het die bene van Saul en die bene van sy seun Jónatan daarvandaan weggebring. Hulle het ook die bene van die wat opgehang is, versamel,
14en die bene van Saul en van sy seun Jónatan in die land Benjamin, in Sela, in die graf van sy vader Kis begrawe; en hulle het alles gedoen volgens die bevel van die koning. En daarna het God Hom oor die land ontferm.
Filistynse reuse word verslaan.
15EN toe die Filistyne weer oorlog gehad het met Israel, het Dawid afgetrek, en sy dienaars saam met hom, en hulle het teen die Filistyne geveg, en Dawid het al moeg geword.
16En Jisbi-Benob wat uit die kinders van die Refaïete was — die gewig van sy spies was driehonderd sikkels koper in gewig, en hy was omgord met 'n nuwe swaard — het gedink om Dawid te verslaan.
17Maar Abísai, die seun van Serúja, het hom gehelp en die Filistyn verslaan en hom gedood. Toe het die manne van Dawid hom besweer en gesê: U mag nie meer saam met ons uittrek na die geveg nie, dat u die lamp van Israel nie uitblus nie.
18En daarna was daar weer oorlog met die Filistyne in Gob. Toe het Síbbegai, die Husatiet, Saf, uit die kinders van die Refaïete, verslaan.
19En daar was weer oorlog met die Filistyne in Gob; en Élhanan, die seun van Jáäre-Orgim uit Betlehem, het Góliat, die Gittiet, wie se spiessteel soos 'n wewersbalk was, verslaan.
20En daar was weer oorlog in Gat; en daar was 'n baie lang man, met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet, vier-en-twintig in getal, en hy was ook 'n afstammeling van die Refaïete.
21En hy het Israel gehoon, maar Jónatan, die seun van Símea, die broer van Dawid, het hom verslaan.
22Hierdie vier was afstammelinge van die Refaïete in Gat, en hulle het geval deur die hand van Dawid en deur die hand van sy dienaars.