1TOE het die koning gestuur, en hulle het al die oudstes van Juda en Jerusalem by hom versamel.
2En die koning het opgegaan in die huis van die Here en al die manne van Juda en al die inwoners van Jerusalem saam met hom, en die priesters en die profete en die hele volk, klein en groot; en hy het al die woorde van die verbondsboek wat in die huis van die Here gevind is, voor hulle ore gelees.
3En die koning het op die verhoog gaan staan en die verbond voor die aangesig van die Here gesluit om die Here te volg en sy gebooie en sy getuienisse en sy insettinge met die hele hart en met die hele siel te onderhou, om die woorde van hierdie verbond wat in hierdie boek geskrywe is, te bevestig. En die hele volk het toegetree tot die verbond.
4Toe gee die koning die hoëpriester Hilkía en die priesters van die tweede rang en die drumpelwagters bevel om uit die tempel van die Here al die voorwerpe uit te bring wat gemaak is vir Baäl en Asjéra en die hele leër van die hemel; en hy het dit buitekant Jerusalem in die velde van Kidron verbrand en die as daarvan na Bet-el laat dra.
5En hy het die afgodspriesters uitgeroei wat deur die konings van Juda aangestel was om op die hoogtes in die stede van Juda en in die omgewing van Jerusalem rook te laat opgaan, en ook die wat vir Baäl, vir die son en die maan en die sterrebeelde en die hele leër van die hemel offerrook laat opgaan het.
6En hy het die Asjéra uit die huis van die Here buitekant Jerusalem uitgebring na die spruit Kidron en dit by die spruit Kidron verbrand en dit tot stof vermaal en sy stof gegooi op die algemene begraafplaas.
7En hy het die huise van die skandseuns afgebreek wat in die huis van die Here was, waar die vroue tente geweef het vir Asjéra.
8En hy het al die priesters uit die stede van Juda laat kom en die hoogtes verontreinig waar die priesters offerrook laat opgaan het, van Geba af tot by Berséba, en die hoogtes van die poorte afgebreek, die wat by die ingang van die poort van Josua, die owerste van die stad, was en die wat aan 'n mens se linkerhand in die stadspoort was.
9Die priesters van die hoogtes mag egter nie op die altaar van die Here in Jerusalem geklim het nie, maar hulle het ongesuurde brode onder hulle broers geëet.
10Hy het ook Tofet verontreinig wat in die dal van die kinders van Hinnom was, sodat niemand sy seun of sy dogter vir Molog deur die vuur sou laat deurgaan nie.
11En hy het die perde uitgeroei wat die konings van Juda gegee het tot verering van die son, by die ingang van die huis van die Here, by die kamer van Natan-Meleg, die hofdienaar, in die aanbousel; en die waens van die son het hy met vuur verbrand.
12Verder, die altare wat op die dak van die bo-kamer van Agas was, wat die konings van Juda gemaak het, en die altare wat Manasse in die twee voorhowe van die huis van die Here gemaak het, het die koning afgebreek en dit daarvandaan verbrysel en die stof daarvan in die spruit Kidron gegooi.
13En die hoogtes wat oos van Jerusalem was, suid van die Berg van Bederf, wat Salomo, die koning van Israel, gebou het vir Astárte, die verfoeisel van die Sidoniërs, en vir Kamos, die verfoeisel van die Moabiete, en vir Milkom, die gruwel van die kinders van Ammon, het die koning verontreinig.
14Hy het ook die klippilare stukkend gebreek en die heilige boomstamme omgekap en hulle plek met mensbene opgevul.
15En ook die altaar wat in Bet-el was, die hoogte wat Jeróbeam, die seun van Nebat, gebou het, wat Israel laat sondig het, ook daardie altaar en die hoogte het hy afgebreek en die hoogte verbrand; hy het dit tot stof vermaal en die heilige boomstam verbrand.
16En toe Josía hom omdraai, sien hy die grafte wat daar op die berg was; en hy het die bene uit die grafte laat haal en op die altaar verbrand en dit verontreinig, volgens die woord van die Here wat verkondig is deur die man van God wat hierdie woorde uitgeroep het.
17Toe sê hy: Wat is dit vir 'n grafsteen wat ek daar sien? En die manne van die stad antwoord hom: Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en hierdie dinge uitgeroep het wat teen die altaar van Bet-el gedoen het.
18Daarop sê hy: Laat hom met rus, laat niemand sy bene verroer nie. En hulle het sy bene met die bene van die profeet wat uit Samaría gekom het, met rus gelaat.
19En ook al die tempels van die hoogtes wat in die stede van Samaría was, wat die konings van Israel gebou het om die Here te terg, het Josía afgeskaf en daarmee gehandel ooreenkomstig alles wat hy in Bet-el gedoen het.
20En al die priesters van die hoogtes wat daar was, het hy op die altare geslag en mensbene daarop verbrand en na Jerusalem teruggegaan.
21Toe gee die koning die hele volk bevel en sê: Hou pasga vir die Here julle God soos geskrywe is in hierdie verbondsboek.
22Want soos hierdie pasga is daar nie een gehou van die dae van die Rigters af wat Israel gerig het, en gedurende al die dae van die konings van Israel en die konings van Juda nie;
23maar in die agttiende jaar van koning Josía is hierdie pasga vir die Here in Jerusalem gehou.
24Ook het Josía die dodebesweerders en die waarsêers en die huisgode en die drekgode en al die verfoeisels wat in die land van Juda en in Jerusalem te sien was, uitgeroei, om die woorde van die wet te bevestig wat geskrywe is in die boek wat die priester Hilkía in die huis van die Here gekry het.
25En voor hom was daar geen koning soos hy nie wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en met sy hele siel en met al sy krag volgens die hele wet van Moses, en ná hom het nie een soos hy opgestaan nie.
26Nogtans het die Here Hom nie afgewend van sy groot toorngloed waarmee sy toorn teen Juda ontvlam het oor al die terginge waarmee Manasse Hom geterg het nie.
27En die Here het gesê: Ek sal Juda ook van my aangesig verwyder soos Ek Israel verwyder het; en Ek sal hierdie stad Jerusalem verwerp wat Ek verkies het, en die huis waarvan Ek gesê het: My Naam sal daar wees.
28En die verdere geskiedenis van Josía en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?
29In sy dae het Farao Nego, die koning van Egipte, teen die koning van Assirië opgetrek na die Eufraatrivier; en koning Josía het hom tegemoetgetrek, maar dié het hom gedood by Megíddo net toe hy hom sien.
30En sy dienaars het hom dood vervoer van Megíddo af en hom in Jerusalem gebring en hom in sy graf begrawe; en die volk van die land het Jóahas, die seun van Josía, geneem en hom gesalf en hom in die plek van sy vader koning gemaak.
Jóahas, Jójakim en Jójagin konings van Juda.
31DRIE-EN-TWINTIG jaar was Jóahas oud toe hy koning geword het, en drie maande het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Hamútal, die dogter van Jeremia, uit Libna.
32En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here net soos sy vaders gedoen het.
33Maar Farao Nego het hom in Ribla, in die land Hamat, gevange gehou, dat hy in Jerusalem nie sou regeer nie, en die land 'n boete opgelê van honderd talente silwer en 'n talent goud.
34En Farao Nego het Éljakim, die seun van Josía, koning gemaak in die plek van sy vader Josía en sy naam verander in Jójakim, maar Jóahas saamgeneem. So het hy dan in Egipte gekom en daar gesterwe.
35En die silwer en die goud het Jójakim aan Farao gelewer; maar hy het die grond gewaardeer om die geld volgens die bevel van Farao te lewer; volgens wat elkeen geskat is, het hy die silwer en die goud van die bevolking van die land ingevorder om aan Farao Nego te lewer.
36Vyf-en-twintig jaar was Jójakim oud toe hy koning geword het, en elf jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Sebúdda, 'n dogter van Pedája, uit Ruma.
37En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here net soos sy vaders gedoen het.