Amásia, koning van Juda, oorwin die Edomiete, maar verval in afgodery en word deur Joas, koning van Israel, oorwin. Sy dood.
1VYF-EN-TWINTIG jaar oud, het Amásia koning geword, en hy het negen-en-twintig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Joáddan, van Jerusalem.
2En hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here, maar nie met 'n volkome hart nie.
3En toe die koninklike mag in sy besit was, het hy sy dienaars, die moordenaars van sy vader, die koning, gedood;
4hulle kinders ewenwel het hy nie gedood nie, maar gedoen soos geskrywe is in die wet, in die boek van Moses, waar die Here dít beveel het: Die vaders moet nie vir die kinders sterwe, en die kinders moet nie vir die vaders sterwe nie; maar hulle moet elkeen vir sy eie sonde sterwe.
5En Amásia het Juda bymekaar laat kom en hulle opgestel volgens die families, volgens die owerstes oor duisend en volgens die owerstes oor honderd, die hele Juda en Benjamin, en hy het hulle gemonster van twintig jaar oud en daarbo, en bevind dat hulle driehonderdduisend uitgesoektes was wat op kommando moes uittrek, wat spies en skild hanteer.
6Ook het hy uit Israel honderdduisend dapper helde vir honderd talente silwer gehuur.
7Toe kom daar 'n man van God na hom en sê: o Koning, laat die kommando van Israel nie saam met u gaan nie, want die Here is nie met Israel, met al die kinders van Efraim nie.
8Maar gaan u alleen, tree moedig op in die geveg; God sal u laat val voor die vyand; want by God is krag om te help of te laat val.
9Maar Amásia sê aan die man van God: En wat moet met die honderd talente gemaak word wat ek aan die troepe van Israel gegee het? En die man van God antwoord: Die Here kan u baie meer gee as dit.
10Toe het Amásia hulle afgesonder, naamlik die troepe wat uit Efraim na hom gekom het, om na hulle woonplek te trek; maar hulle het baie kwaad geword vir Juda en teruggegaan na hulle woonplek in gloeiende toorn.
11Maar Amásia het moed geskep en sy manskappe aangevoer en die Soutdal ingetrek en die kinders van Seïr, tienduisend, verslaan.
12En tienduisend het die kinders van Juda lewendig as gevangenes weggevoer en hulle op die top van die krans gebring en hulle van die top van die krans afgegooi, sodat hulle almal verpletter is.
13Maar die manskappe van die troepe wat Amásia laat teruggaan het om nie saam met hom in die oorlog te trek nie, het 'n plundertog onderneem in die stede van Juda, van Samaría af tot by Bet-Horon, en drieduisend van hulle verslaan en baie buit geroof.
14En nadat Amásia tuisgekom het van die verslaan van die Edomiete, het hy die gode van die kinders van Seïr gebring en hulle vir hom as gode opgestel en hom voor hulle neergebuig en vir hulle offerrook laat opgaan.
15Toe ontvlam die toorn van die Here teen Amásia, en Hy stuur 'n profeet na hom, en dié het vir hom gesê: Waarom soek u die gode van die volk wat hulle eie volk nie uit u hand gered het nie?
16En terwyl hy met hom spreek, sê hy vir hom: Het ons jou as raadgewer van die koning aangestel? Hou op, waarom sal hulle jou doodmaak? Toe hou die profeet op en sê: Ek merk dat God besluit het om u te vernietig, omdat u dit gedoen het en nie na my raad geluister het nie.
17En Amásia, die koning van Juda, het ná raadpleging gestuur na Joas, die seun van Jóahas, die seun van Jehu, die koning van Israel, om te sê: Kom, laat ons mekaar se aangesig sien.
18Maar Joas, die koning van Israel, het Amásia, die koning van Juda, dít laat weet: Die distel wat op die Líbanon is, het die seder wat op die Líbanon is, laat weet: Gee jou dogter aan my seun as vrou! Maar die diere van die veld wat op die Líbanon is, het verbygegaan en die distel vertrap.
19U dink u het die Edomiete verslaan, daarom is u hart hoogmoedig om eer te verwerwe. Bly nou tuis! Waarom wil u u in die ongeluk stort, sodat u sou val, u en Juda saam met u?
20Maar Amásia het nie geluister nie; want dit was van God beskik om hulle uit te lewer, omdat hulle die gode van Edom gesoek het.
21Toe trek Joas, die koning van Israel, op; en hulle het mekaar se aangesig gesien, hy en Amásia, die koning van Juda, by Bet-Semes wat aan Juda behoort.
22En Juda is voor Israel verslaan, en hulle het gevlug, elkeen na sy tente toe.
23En Joas, die koning van Israel, het Amásia, die koning van Juda, die seun van Joas, die seun van Jóahas, by Bet-Semes gevang en hom na Jerusalem gebring en vierhonderd el van die muur van Jerusalem afgebreek, van die Efraimspoort af tot by die Hoekpoort.
24En hy het al die goud en die silwer geneem en al die voorwerpe wat in die huis van God by Obed-Edom te vinde was, en die skatte van die huis van die koning en ook die gyselaars, en omgedraai na Samaría toe.
25En Amásia, die seun van Joas, die koning van Juda, het ná die dood van Joas, die seun van Jóahas, die koning van Israel, vyftien jaar gelewe.
26En die verdere geskiedenis van Amásia, die vroeëre en die latere, kyk, is dit nie beskrywe in die Boek van die konings van Juda en Israel nie?
27En van die tyd af dat Amásia van die Here afvallig geword het, het hulle 'n sameswering teen hom gesmee in Jerusalem, sodat hy na Lagis gevlug het; maar hulle het agter hom aangestuur na Lagis en hom daar gedood.
28En hulle het hom op perde vervoer en hom by sy vaders begrawe in die stad van Dawid.