Oorwinning van Jósafat oor die Moabiete en Ammoniete. Einde van sy regering.
1EN daarna het die kinders van Moab en die kinders van Ammon, en saam met hulle 'n deel van die Meüniete teen Jósafat gekom om te veg.
2Toe hulle kom en aan Jósafat berig bring en sê: Daar kom 'n groot menigte teen u van anderkant die see, van Edom af, en kyk, hulle is al in Háseson-Tamar — dit is Éngedi —
3het Jósafat bevrees geword en sy aangesig daarop gerig om die Here te soek, en hy het oor die hele Juda 'n vasdag uitgeroep.
4En Juda het byeengekom om van die Here hulp te soek; selfs uit al die stede van Juda het hulle gekom om die Here te soek.
5Toe gaan Jósafat in die vergadering van Juda en Jerusalem staan, in die huis van die Here, voor die nuwe voorhof;
6en hy sê: Here, God van ons vaders, is Ú nie God in die hemel nie, en is Ú nie Heerser oor al die koninkryke van die nasies nie? Ja, in u hand is krag en sterkte, sodat niemand teen U kan standhou nie.
7Het Ú, onse God, nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdrywe en dit vir altyd aan die nageslag van Abraham, u vriend, gegee nie?
8En hulle het daarin gaan woon en daarin vir U 'n heiligdom tot eer van u Naam gebou, met die gedagte:
9As daar oor ons onheil kom — swaard, straf of pes of hongersnood — sal ons voor hierdie huis en voor u aangesig gaan staan; want u Naam is in hierdie huis; en ons sal U aanroep uit ons benoudheid, dat U kan hoor en verlos.
10En hier is nou die kinders van Ammon en Moab en die mense van die gebergte Seïr, onder wie U Israel nie toegestaan het om te trek by hulle koms uit Egipteland nie; want hulle het van hulle weggedraai en hulle nie verdelg nie.
11Ja, kyk, hulle vergeld ons dit deur te kom om ons uit u besitting te verdrywe wat U aan ons as 'n eiendom gegee het.
12Onse God, sal U nie teen hulle strafgerig oefen nie? Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U.
13En die hele Juda het voor die Here gestaan, ook hulle kinders, hulle vroue en hulle seuns.
14Toe kom die Gees van die Here in die midde van die vergadering op Jahásiël, die seun van Sagaría, die seun van Benája, die seun van Jeï-el, die seun van Mattánja, die Leviet uit die kinders van Asaf;
15en hy het gesê: Luister, almal wat uit Juda is en inwoners van Jerusalem en u, koning Jósafat! So sê die Here aan julle: Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God.
16Trek môre af teen hulle: kyk, hulle kom op met die hoogte Hassis, en julle sal hulle aantref aan die kant van die dal voor die woestyn Jerúel.
17Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die Here by julle, Juda en Jerusalem! Vrees nie en wees nie verskrik nie; trek môre teen hulle uit, en die Here sal met julle wees.
18Toe buig Jósafat hom met die aangesig na die aarde toe, en die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het voor die aangesig van die Here neergeval om die Here te aanbid.
19En die Leviete uit die kinders van die Kehatiete en uit die kinders van die Koragiete het opgestaan om die Here, die God van Israel, met 'n baie groot stem te prys.
20Daarop maak hulle die môre vroeg klaar en trek na die woestyn van Tekóa uit; en terwyl hulle uittrek, het Jósafat gaan staan en gesê: Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Glo in die Here julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees.
21En hy het met die volk beraadslaag en tot eer van die Here sangers opgestel wat, in heilige sieraad, moes lofsing en by die uittrek op die voorpunt van die gewapendes moes sê: Loof die Here, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!
22En op die oomblik toe hulle die gejubel en die lofsang aanhef, het die Here 'n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en die mense van die gebergte Seïr wat teen Juda gekom het, sodat hulle verslaan is.
23Die kinders van Ammon en Moab het naamlik opgetree teen die inwoners van die gebergte Seïr om uit te roei en te verdelg; en toe hulle met die inwoners van Seïr klaar was, het hulle mekaar in die verderf gehelp.
24En toe Juda op die wagkop by die woestyn kom en hulle na die menigte kyk, lê hulle daar dood op die grond; en niemand het vrygeraak nie.
25Daarop het Jósafat en sy manskappe gekom om die buit in te samel en hulle het by hulle 'n menigte goed en klere en kosbare voorwerpe gekry, en het soveel vir hulle gebuit dat hulle dit nie kon wegdra nie; en hulle was drie dae lank besig om die buit in te samel, want dit was groot.
26En op die vierde dag het hulle in die Lofdal byeengekom, want daar het hulle die Here geloof; daarom het hulle dié plek Lofdal genoem tot vandag toe.
27Toe draai al die manne van Juda en Jerusalem om, met Jósafat aan hulle hoof, om met vreugde na Jerusalem terug te gaan; want die Here het aan hulle vreugde verskaf oor hul vyande.
28En hulle het Jerusalem ingetrek met harpe en siters en trompette, na die huis van die Here.
29En die skrik vir God was op al die koninkryke van die lande toe hulle hoor dat die Here teen die vyande van Israel gestry het.
30Verder het die koninkryk van Jósafat gerus, en sy God het hom rondom rus verskaf.
31En Jósafat het oor Juda geregeer; hy was vyf-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en vyf-en-twintig jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Asúba, die dogter van Silhi.
32En hy het gewandel in die weg van sy vader Asa en daar nie van afgewyk nie, en het gedoen wat reg was in die oë van die Here.
33Net die hoogtes is nie afgeskaf nie: die volk het nog nie hulle hart op die God van hulle vaders gerig nie.
34En die verdere geskiedenis van Jósafat, die vroeëre en die latere, kyk, dit is beskrywe in die Geskiedenis van Jehu, die seun van Hanáni, wat opgeneem is in die Boek van die konings van Israel.
35Maar daarna het Jósafat, die koning van Juda, 'n bondgenootskap aangegaan met Ahásia, die koning van Israel, wat goddeloos gehandel het.
36En hy het hom as bondgenoot geneem om skepe te bou om na Tarsis te vaar; en hulle het skepe gebou in Éseon-Geber.
37Maar Eliëser, die seun van Dódawa, uit Marésa, het teen Jósafat geprofeteer en gesê: Omdat u 'n bondgenootskap met Ahásia aangegaan het, verbreek die Here u werk. En die skepe het skipbreuk gely, sodat hulle nie in staat was om na Tarsis te vaar nie.